Godsdiens met ’n ‘buigsame geloof’
“Mormonisme se vermoë om ’n vastrapplek in liberale demokrasieë sowel as totalitêre gemeenskappe te kry, is verbasend.” Dit is wat The Wall Street Journal gesê het toe die Hongaarse regering volle erkenning aan die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae gegee het. Hoe kry die kerk dit reg? Die Journal sê: “Die sleutel tot die Mormone se sukses is nie net hulle hoë geboortesyfers of die aggressiewe verkondiging van hulle boodskap nie. Dit is eerder die buigsaamheid van die geloof.” Hoe so?
Die Journal het van die tydperk voor die onlangse politieke veranderinge in Oos-Europa gepraat en gesê: “Die Mormone het musiek- en volksdansgroepe van die Brigham Young-universiteit gebruik en het daarin geslaag om die onderdrukking en gebrek aan samewerking te ontduik wat sendelinge gewoonlik in Kommunistiese lande ondervind.” Hulle groepe het Roemenië, Tsjeggo-Slowakye, Hongarye, Pole, Rusland en China, asook Saoedi-Arabië, Libië, Egipte, Jordanië, Somalië en Israel besoek. Daarbenewens “is die rykdom van die Mormoonse Kerk gebruik om toegang tot Marxistiese en Derde Wêreldlande te kry”. Die Mormone se bydraes ondersteun projekte soos om damme te bou en boorgate te sink.
In vandag se genotsieke en geldgierige wêreld is dit nie verbasend dat sulke sang-en-dans- en oop-beursietaktieke ’n sterk aantrekkingskrag het nie (2 Timotheüs 3:2, 4). Maar mense wat waarlik skaapgeaard is, word deur die stem van die Goeie Herder, Jesus Christus, aangetrek (Johannes 10:27). Dit is waarom hy, toe hy sy volgelinge beveel het om “dissipels van al die nasies” te maak, nie vir hulle gesê het om dit op enige moontlike manier of tot elke prys te doen nie, maar deur hulle te leer ‘om alles te onderhou wat hy hulle beveel het’ (Mattheüs 28:19). Wanneer hierdie opdrag uitgevoer word, kan dit nie ten koste van Bybelstandaarde gedoen word nie.