‘Net soos yster yster slyp’
TEEN die einde van die derde eeu G.J. het ’n ernstige jong man met die naam Antonius, wat beskryf word as ’n “Koptiese Christen”, hom van die wêreld afgesonder en 20 jaar in die woestyn deurgebring. Waarom? Hy het gemeen dat dit die beste manier is waarop hy God kan dien. Hy was die Christendom se eerste invloedryke kluisenaar.
Die Christendom het vandag min kluisenaars. Maar al hoe meer mense soek afsondering op ’n ander manier. Hulle weier om met ander oor godsdiens te praat en meen dat sulke gesprekke tot onenigheid en stryery lei. Hulle aanbidding bestaan hoofsaaklik daaruit dat hulle hulle naaste geen kwaad aandoen nie.
Om jou naaste geen kwaad aan te doen nie, is weliswaar deel van ware godsdiens, maar meer word vereis. ’n Ou spreuk sê: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17). Feit is dat die Bybel Christene aanmoedig om saam te vergader en nie om hulleself heeltemal van die wêreld of van ander Christene af te sonder nie (Johannes 17:14, 15). Dit sê: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat . . . nie” (Hebreërs 10:24, 25). Jehovah se Getuies volg daardie raad. Hulle kom ’n paar keer per week byeen om ‘die persoon van die ander te slyp’ deur medegelowiges se geloof op te bou. Hulle vind dat ’n openhartige bespreking van die Bybel nie op ’n stryery uitloop nie. Dit lei eerder tot harmonie en vrede. Dit is ’n noodsaaklike deel van ware aanbidding.