Op wie se beloftes kan jy vertrou?
IN 1893 het ’n groep van 74 maatskaplike kommentators by die wêreldtentoonstelling in Chicago bymekaargekom om die toekoms te bespreek. (Die terrein waar dit gehou is, word hierbo getoon.) Hulle het voorspel hoe dinge 100 jaar later, in 1993, sou wees en het onder meer die volgende gesê: “Baie mense sal 150 jaar oud word.” “Daar sal minder gevangenisse wees en egskeiding sal as onnodig beskou word.” “Die regeringstelsel sal eenvoudiger wees, aangesien ware grootsheid altyd na eenvoud strewe.”
In 1967 het ’n boek met die titel The Year 2000 eweneens voorspel: “Teen die jaar 2000 sal rekenaars waarskynlik die mens se mees ‘menslike’ intellektuele vermoëns, waaronder miskien party van sy estetiese en skeppende hoedanighede, ewenaar, naboots of oortref.” “Die idee van bekostigbare robotte wat die meeste van die huiswerk doen . . . lyk heel moontlik teen die jaar 2000.”
Die mensdom se onvermoë om toekomstige gebeure te voorspel, is in skerp teenstelling met God se vermoë. Vergelyk byvoorbeeld die voorgaande voorspellings met wat die Bybel amper 20 eeue gelede in verband met ons dag voorspel het: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.”—2 Timoteus 3:1-5.
Hierdie Bybelprofesie oor “die laaste dae” is net een van baie wat in ons dag vervul word. God se Woord het voorspel dat “die teken” van Jesus se teenwoordigheid wêreldoorloë, voedseltekorte, pessiektes, aardbewings en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk sou insluit.—Matteus 24:3-14; Lukas 21:11.
Die onfeilbare juistheid van God se beloftes het een Bybelskrywer eeue gelede laat sê: “Nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Josua 23:14.
Ja, ons kan seker wees dat al God se beloftes binnekort in vervulling sal gaan. God se Koninkryk sal ’n einde maak aan siekte, misdaad, dwelmverslawing, honger en oorlog—die hele aarde sal ’n paradys wees (Psalm 37:10, 11, 29; Openbaring 21:3, 4). Jy kán vertroue stel in die vervulling van hierdie profesie. Dit kom van ons Skepper, “wat nie kan lieg nie”.—Titus 1:2; vergelyk Hebreërs 6:13-19.
[Foto-erkenning op bladsy 32]
Cleveland State University Archive