Slapelose nagte wat voordelig was
SELFS konings het slapelose nagte. ’n Magtige Persiese heerser in die vyfde eeu v.G.J., Ahasveros, het een gehad. Omdat hy moontlik gevoel het dat hy die een of ander plig nagelaat het, het hy die koninklike verslae vir hom laat voorlees. Hy het uitgevind dat ’n getroue kneg, Mordegai, ’n sameswering om hom te vermoor, gedwarsboom het maar nie daarvoor beloon is nie. Ahasveros het hom voorgeneem om hierdie fout onmiddellik reg te stel. Die voordelige gevolge wat sy dade vir God se volk gehad het, toon dat die koning se slapeloosheid deur God veroorsaak is.—Ester 6:1-10.
Die gemeente van Jehovah se Getuies in die kusdorpie Hermanus het rede om hierdie deel van die Bybel te onthou. Hulle het vroeër in ’n gehuurde saal bymekaargekom. Hulle het baie jare lank probeer om grond te koop om hulle eie Koninkryksaal te bou. In 1991 het die stadsraad hulle uiteindelik ’n ideale perseel te koop aangebied.
Party was egter daarteen gekant om hierdie perseel aan Jehovah se Getuies te verkoop. Ná ’n vertraging van etlike maande is die gemeente in kennis gestel dat ’n moratorium van drie jaar op die verkoop van eiendom aan kerke geplaas is, en die aanbod van die grond is teruggetrek. In Mei 1993 het die gemeente weer geskryf en die raad gevra om hulle besluit te heroorweeg. Hulle het ’n brief wat net een sin lank was in antwoord daarop ontvang wat gesê het dat die moratorium nog van krag is.
In Oktober daardie jaar het een van die stadsraadslede ’n slapelose nag gehad. Sy het die tyd gebruik om deur ou notules van raadsvergaderinge te blaai om te sien of daar enige sake was wat aandag nodig het. Die brief wat die Getuies geskryf het waarin hulle die raad vra om hulle besluit te heroorweeg, het haar aandag getrek. Sy het gevolglik besluit om die saak op die agenda vir hulle volgende vergadering te plaas. Sy wou hulle aandag vestig op die feit dat Jehovah se Getuies aansoek gedoen het vir die grond vóór die moratorium op eiendom vir kerke geplaas is.
Na verloop van tyd is dieselfde eiendom aan die gemeente toegewys as wat oorspronklik in 1991 vir hulle aangebied is! Dit is in die hoofstraat en is gerieflik geleë vir gemeentelede en belangstellendes. Hulle het ’n aantreklike Koninkryksaal gebou, wat op 5 Oktober 1996 aan Jehovah toegewy is.
Hoewel die gemeente jammer is dat die raadslid die ongerief van ’n slapelose nag gehad het, kan sy troos vind in die feit dat selfs koning Ahasveros een gehad het. En in albei gevalle was die uitkoms voordelig. Die gemeente in Hermanus is beslis baie dankbaar dat hulle hulle eie Koninkryksaal het, ’n sentrum vir rein aanbidding en teokratiese opleiding in hierdie gewilde kusdorpie.—Hebreërs 10:24, 25.