Koninkryksverkondigers berig
Jongmense loof God in die Demokratiese Republiek van die Kongo
EEUE gelede het die psalmis jongmense hartlik genooi om die Koning van die ewigheid te loof: ‘Jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges, loof die naam van Jehovah! Want sy Naam alleen is hoog’ (Psalm 148:12, 13). Die volgende ondervindinge uit die Demokratiese Republiek van die Kongo vestig die aandag op hierdie onvergelyklike voorreg.
• Die opsigter waar ’n spesiale pionier woon, was beïndruk deur die gedrag van Jehovah se Getuies. Daarom het hy die Getuies toegelaat om die Bybel saam met sy vyfjarige dogtertjie, Fifi, te studeer. Toe haar vader sien hoe goed sy met haar studie van My boek met Bybelverhalea vorder, het hy Fifi toegelaat om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Daar het klein Fifi Koninkryksliedere uit die Getuies se liedereboek geleer. Sy het veral van lied 4 gehou, met die titel: “God se belofte van ’n paradys.”
Eendag het Fifi se vader besluit om haar na sy kerk toe te neem. Tot almal se verbasing het Fifi geweier om die kerkgesange te sing. Waarom? Omdat sy gemeen het dat die gesange wat in haar vader se kerk gesing word nie in ooreenstemming is met wat sy in haar Bybelstudie geleer het nie. Sy het moedig haar geliefkoosde Koninkrykslied gesing.
Ná verskeie onsuksesvolle pogings om haar van gedagte te laat verander, het die kerkleiers besluit om die vyfjarige Fifi te ekskommunikeer! Ten spyte van hierdie slegte behandeling het haar vader kalm gebly. Hy was trots daarop dat Fifi ’n ferm standpunt ingeneem het vir wat sy glo. Beide Fifi se vader en moeder wil hê dat sy voortgaan om met Jehovah se Getuies te assosieer.
• Toe ’n tienderjarige seun met die naam Lukodi besluit het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer, het sy vader hom kwaai teëgestaan. By een geleentheid, toe Lukodi gereedgemaak het om na ’n vergadering by die Koninkryksaal te gaan, het sy vader hom met ’n kapmes gedreig. By ’n ander geleentheid het Lukodi se vader hom met ’n stok geslaan, wat ’n diep wond op sy rug gelaat het. Ondanks die hewige teenstand het Lukodi vasbeslote gebly om een van Jehovah se Getuies te word. Hy het voortgegaan om vordering te maak en hom laat doop. Hy dien nou as ’n gewone pionier.
Sona, Lukodi se jonger suster, was só beïndruk deur haar broer se standpunt dat sy ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Maar om te keer dat Sona studeer, het haar vader haar na ’n skool in ’n ander dorpie gestuur waar daar geen Getuies was nie. Sona het nietemin gereeld met ander gepraat oor die dinge wat sy geleer het. Gevolglik het haar niggie ook belangstelling begin toon.
Toe die Getuies van ’n naburige dorpie van Sona se predikingsbedrywighede hoor, het hulle haar gaan besoek en gereël dat ’n gereelde tuisbybelstudie met haar gehou word. Sy het vordering bly maak en kort voor lank by haar broer aangesluit as ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah. Daarbenewens is haar niggie nou ’n ongedoopte verkondiger, en ’n boekstudie word in daardie dorpie gehou.
Hoe wonderlik en verkwikkend is dit tog wanneer jongmense die naam van Jehovah loof!
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.