“As Katolieke kan ons baie by hulle leer”
’N HOËRSKOOLONDERWYSERES in Bari, Italië, het hierdie opmerking aangaande Jehovah se Getuies gemaak gedurende haar les oor godsdiensgeskiedenis. Die onderwyseres het vir die klas gesê dat sy video’s as ’n leermiddel sou gebruik. Toe een van die leerlinge, die 18-jarige Roberto, hiervan hoor, het hy voorgestel dat sy godsdiens in die bespreking ingesluit word. Hy het vir haar die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name gegee. Sy het Roberto se aanbod aanvaar, en die hele klas van ongeveer 30 leerlinge het die video gesien. “Almal is beïndruk deur die eenheid, die organisasie en die hartlike liefde wat daar onder Jehovah se Getuies is”, sê Roberto. “Hulle was selfs meer verbaas om uit te vind dat 40 miljoen eksemplare van Die Wagtoring en 36 miljoen eksemplare van die Ontwaak! elke maand gedruk word.”
“Ek het nie gedink dat julle so georganiseerd is nie”, het baie van Roberto se klasmaats gesê nadat hulle die video gesien het. Die onderwyseres het die volgende van Jehovah se Getuies vir die klas gesê: “Let op hoe hulle geloof hulle beweeg om so verenig en georganiseerd te wees. As Katolieke kan ons baie by hulle leer.” Die video en die klasbespreking wat daarop gevolg het, het baie gedoen om ’n beter begrip van Jehovah se Getuies te bevorder.