Koninkryksverkondigers berig
“By God is alles moontlik”
DIE woorde hierbo, wat in Matteus 19:26 gevind word, is in die geval van ’n jong vrou in Venezuela bewaarheid. Nadat sy geleer het om ten volle op Jehovah te vertrou, kon sy ’n ernstige probleem oorkom. Sy vertel:
“My ouma was baie dierbaar en liefdevol. Ongelukkig is sy dood toe ek net 16 jaar oud was. Haar dood was vir my ’n verskriklike slag. Ek het ongebalanseerd geraak en wou nie eers uit die huis uit gaan na die agterplaas toe nie. Op die ou end was ek as ’t ware byna ’n kluisenaar.
“Ek het nie meer skool toe gegaan nie, en ek het ook nie werk gehad nie. Ek het net in my kamer gebly. Aangesien ek eensaam en sonder enige vriende was, het ek aan ernstige depressie gely. Ek het heeltemal nutteloos gevoel en wou doodgaan om dit alles te beëindig. Ek het my bly afvra: ‘Waarom lewe ek?’
“My ma het altyd die tydskrifte Die Wagtoring en Ontwaak! by ’n jong Getuie, Gisela, gekry. Eendag het my ma Gisela by ons huis sien verbystap en haar toe gevra of sy my kon help. Gisela het ingestem om te probeer, maar ek het geweier om met haar te praat. Dit het Gisela nie laat moed opgee nie. Sy het vir my ’n brief geskryf en gesê dat sy my vriendin wou wees en dat iemand baie belangriker as sy ook my vriend wou wees. Daardie persoon, het sy gesê, is Jehovah God.
“Dit het my diep getref, en ek het haar brief beantwoord. Ons het drie maande lank vir mekaar geskryf. Eers ná Gisela my herhaaldelik gevra het, het ek eindelik die moed bymekaargeskraap om haar te ontmoet. Met ons eerste ontmoeting het Gisela die Bybel met my begin studeer deur die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe te gebruik. Ná die studie het sy my na ’n vergadering by die plaaslike Koninkryksaal genooi. Ek was uit die veld geslaan. Ek was vier jaar laas uit die huis uit, en die gedagte daaraan om buite te wees, was skrikwekkend.
“Gisela was baie geduldig met my. Sy het my verseker dat daar niks was om voor bang te wees nie en dat sy saam met my na die vergadering toe sou gaan. Ek het uiteindelik ingewillig. Toe ons by die Koninkryksaal aankom, het ek begin bewe en sweet. Ek kon niemand groet nie. Nietemin het ek ingestem om aan te hou om vergaderinge by te woon, en Gisela het my elke week getrou kom haal.
“Om my te help om my senuweeagtigheid te oorkom, het Gisela my baie vroeg na die vergaderinge geneem. Ons het by die deur gestaan en almal gegroet soos hulle opgedaag het. Op dié manier het ek net met een of twee mense op ’n slag te doen gehad, en nie met ’n hele groep gelyk nie. Wanneer ek gevoel het dat ek nie meer kon nie, het Gisela Matteus 19:26 vir my aangehaal: ‘By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.’
“Hoewel dit nie maklik was nie, kon ek uiteindelik ’n selfs groter samekoms van mense by ’n kringbyeenkoms bywoon. Dit was beslis ’n groot stap vir my! In September 1995 het ek die moed bymekaargeskraap om die ouer manne te vra of ek aan die huis-tot-huis-bediening kon deelneem. Ses maande later, in April 1996, het ek my toewyding aan Jehovah deur middel van waterdoop gesimboliseer.
“Toe iemand my ’n ruk gelede gevra het waar ek die moed vandaan gekry het om dit te doen, het ek geantwoord: ‘My begeerte om Jehovah te behaag, is groter as my vrees.’ Hoewel ek nog van tyd tot tyd aan depressie ly, word my vreugde vergroot deur die feit dat ek as ’n gewone pionier dien. As ek terugdink, moet ek met Gisela saamstem. Ek het nou ’n Vriend wat in my belangstel en wat ‘my krag gee’.”—Filippense 4:13.
[Prente op bladsy 8]
“My begeerte om Jehovah te behaag, is groter as my vrees”