Wie sal geweld beëindig?
IN September 1999 het die sekretaris-generaal van die VN, Kofi Annan, afgevaardigdes na die 54ste jaarlikse sessie van die Algemene Vergadering verwelkom. Soos in The Toronto Star berig is, het hy hierdie uitdaging aan wêreldleiers gerig: “Daar is baie volke wat meer nodig het as net die internasionale gemeenskap se woorde van simpatie. Hulle het ’n ware en volgehoue verbintenis nodig om te help om hulle siklusse van geweld te beëindig en om hulle op ’n veilige weg na voorspoed te plaas.”
Kan die VN en sy lidlande die “ware en volgehoue verbintenis” voorsien wat nodig is om geweld te beëindig? Die woorde van die Amerikaanse president, Bill Clinton, is in dieselfde berig in die Star aangehaal: “Ná al die bloedvergieting van hierdie eeu weet ons dat dit maklik is om te sê: ‘nooit weer nie’, maar baie moeiliker is om dit te laat geskied.” Hy het bygevoeg: “Om te veel te belowe, kan net so wreed wees as om te min om te gee.”
Meer as 2 500 jaar gelede het die profeet Jeremia van mensepogings gesê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Watter hoop is daar dan op ’n einde aan geweld?
Soos ons in Jesaja 60:18 lees, het God die versekering gegee: “Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie—van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie.” Hierdie profesie het sy eerste vervulling gehad toe God sy volk uit ballingskap na hulle land teruggebring het. Dit het ook ’n groter vervulling, wat ons kan geniet. Jehovah God ‘belowe nie te veel nie’. As die Allerhoogste en die Skepper van die mensdom is hy in die beste posisie om die “siklusse van geweld” te beëindig. Onder God se Koninkryk sal vrede heers. Geweld sal vir ewig iets van die verlede wees!—Daniël 2:44.