Vrae van lesers
Jesaja hoofstuk 53 bevat ’n welbekende Messiaanse profesie. Vers 10 sê: “Dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank [“siek”, NW] gemaak.” Wat beteken dit?
Dit is maklik om te sien waarom daar ’n vraag oor Jesaja 53:10 kan ontstaan. Ware Christene dink nie dat dit ons medelydende en tere God sal behaag om iemand te verbrysel of siek te maak nie. Die Bybel gee ons die grondslag vir vertroue dat God nie behae daarin skep om onskuldige mense te folter nie (Deuteronomium 32:4; Jeremia 7:30, 31). Deur die eeue heen het Jehovah dalk soms lyding toegelaat om redes wat in ooreenstemming is met sy wysheid en liefde. Maar hy het beslis nie veroorsaak dat sy geliefde Seun, Jesus, ly nie. Wat beteken hierdie gedeelte dan?
Wel, dit kan ons help om die betekenis te verstaan as ons die hele vers bespreek en op die gebruik van “behaag” en “welbehae” let. Jesaja 53:10 sê: “Dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.”
Die deurlopende boodskap van die Bybel toon dat “die welbehae van die HERE”, wat aan die einde van die vers gemeld word, draai om die uitvoering van sy voorneme deur middel van die Koninkryk. Sodoende sal Jehovah sy soewereiniteit regverdig en dit moontlik maak dat oorgeërfde sonde van gehoorsame mense af weggeneem word—dit wil sê óns sondes (1 Kronieke 29:11; Psalm 83:18, NW; Handelinge 4:24; Hebreërs 2:14, 15; 1 Johannes 3:8). Die sleutel tot dit alles is dat God se Seun ’n mens moes word en die losprysofferande moes voorsien. Soos ons weet, het Jesus wel as gevolg hiervan gely. Die Bybel sê vir ons dat hy “gehoorsaamheid geleer [het] uit die dinge wat hy gely het”. Jesus het dus wel by daardie lyding baat gevind.—Hebreërs 5:7-9.
Jesus het vooraf geweet dat die edele weg wat hy sou volg ’n mate van lyding sou insluit. Dit blyk duidelik uit sy woorde wat in Johannes 12:23, 24 opgeteken is, waar ons lees: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Tensy ’n koringkorrel in die grond val en sterf, bly dit net een korrel; maar as dit sterf, dan dra dit veel vrug.” Ja, Jesus het geweet dat hy selfs tot in die dood sy onkreukbaarheid moes handhaaf. Die verslag sê verder: “‘Nou is my siel verontrus, en wat sal ek sê? Vader, red my uit hierdie uur. Nietemin is dit waarom ek tot in hierdie uur gekom het. Vader, verheerlik u naam.’ Daarom het ’n stem uit die hemel gekom: ‘Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik.’”—Johannes 12:27, 28; Matteus 26:38, 39.
Dit is in hierdie konteks dat ons Jesaja 53:10 kan verstaan. Jehovah het beslis geweet dat sy Seun se ondervinding sou behels dat hy in sekere sin verbrysel word. Maar Jehovah het behae geskep in wat Jesus sou moes deurmaak omdat hy die wonderlike en verreikende voordele wat dit tot gevolg sou hê in gedagte gehad het. Dit is in dié sin dat dit Jehovah “behaag [het] om Hom te verbrysel”, of dat die Messias verbrysel word. En Jesus het ook behae geskep in wat hy kon volbring en wel volbring het. Dit is waarlik soos Jesaja 53:10 afsluit: “Die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.”