Christelike liefde—In woord en daad
TOE die Bartholomew-gesin van Trinidad se huis deur ’n brand vernietig is, het hulle net met hulle lewe daarvan afgekom. ’n Familielid wat daar naby woon, kon hulle huisves, maar dit was nie die einde van die storie nie.
Olive Bartholomew is een van Jehovah se Getuies, en persone in die gemeente waar sy dien—sowel as diegene in omliggende gebiede—het bydraes begin gee om die huis te herbou wat sy en haar gesin verloor het. ’n Komitee is op die been gebring om toesig oor die herbouingswerk te hou, en konstruksie het begin. Ongeveer 20 Getuies, sowel as sommige bure, was op die toneel. Selfs jongmense het saamgewerk, terwyl ander byderhand was om verversings te bedien.
“My gesin is oorweldig”, het Olive gesê, soos berig is in Trinidad se Sunday Guardian. “Hulle is nie Getuies nie, en my man is nog steeds stomgeslaan oor wat hy sien.”
Die koördineerder van die konstruksieprojek het ter opsomming van die werk beklemtoon dat sulke dade waarlik kenmerke is van die ware Christelike godsdiens. “Ons gaan nie net van huis tot huis en praat oor liefde nie”, het hy gesê. “Ons probeer seker maak dat ons dade met ons woorde ooreenstem.”—Johannes 13:34, 35.
[Prente op bladsy 32]
Olive Bartholomew en haar man