Bereken jy die koste?
JESUS CHRISTUS het sy dissipels die hoop gegee om vir ewig te kan lewe, maar hy het hulle ook aangespoor om die koste van Christenskap te bereken. Hy het die punt toegelig deur te vra: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28). Watter koste het Jesus bedoel?
Alle Christene ondervind beproewinge, waarvan party ernstig is (Psalm 34:19; Matteus 10:36). Ons moet derhalwe verstandelik en geestelik voorbereid wees sodat ons nie onverhoeds betrap word wanneer ons voor teenstand of ander probleme te staan kom nie. Ons moet sulke uitdagings reeds ingereken het in die koste om ’n dissipel van Christus te wees, in die wete dat die beloning—redding van sonde en die dood—baie meer werd is as enigiets wat die huidige stelsel ons kan bied. Ja, niks wat God toelaat—selfs nie die dood nie—kan ons blywende skade berokken as ons aanhou om hom te dien nie.—2 Korintiërs 4:16-18; Filippense 3:8.
Hoe kan ons geloof so sterk word? Elke keer wanneer ons die regte besluit neem, ’n ferm standpunt vir Christelike beginsels inneem of in ooreenstemming met God se wil optree, word ons geloof sterker—veral wanneer ons onder druk verkeer om die teenoorgestelde te doen. Wanneer ons Jehovah se seën persoonlik ervaar as gevolg van ons getroue handelswyse, word ons geloof sterker en vaster. Sodoende volg ons die voorbeeld van Jesus, sy eerste dissipels en al die manne en vroue van geloof wat deur die eeue heen “die koste” om God te dien, reg “bereken het”.—Markus 1:16-20; Hebreërs 11:4, 7, 17, 24, 25, 32-38.