Opregtheid—’n Gewenste eienskap, maar is dit genoeg?
IS OPREGTHEID werklik ’n gewenste eienskap in ons daaglikse lewe? ’n Woordeboek definieer “opregtheid” as “ongeveins; eerlik; reguit; eg”. Hierdie eienskap is beslis nuttig as ons goeie verhoudings met ander wil geniet. Die apostel Paulus het gemaan: “Wees in alles gehoorsaam aan diegene wat in vleeslike sin julle here is, nie met dade van oëdiens soos mensebehaers nie, maar met opregtheid van hart, met vrees vir Jehovah” (Kolossense 3:22). Wie sal dit nie waardeer as so ’n opregte persoon vir hom werk nie? Vandag staan opregte mense moontlik ’n beter kans om werk te kry en te behou.
Wat opregtheid egter veral gewens maak, is die feit dat dit ons verhouding met God raak. Die eertydse Israeliete het God se seën geniet wanneer hulle getrou die wette en feeste gehou het. Toe Paulus reinheid in die gemeente bespreek het, het hy Christene aangespoor: “Laat ons die fees gevolglik nie met ou suurdeeg vier nie, en ook nie met suurdeeg van slegtheid en goddeloosheid nie, maar met ongesuurde koeke van opregtheid en waarheid” (1 Korintiërs 5:8). As ons wil hê dat ons aanbidding vir God aanneemlik moet wees, is opregtheid nie alleen gewens nie, maar ook noodsaaklik. Let egter op dat opregtheid alleen nie genoeg is nie. Dit moet met waarheid gepaardgaan.
Die bouers en passasiers van die Titanic het moontlik opreg geglo dat die skip onsinkbaar is. Maar op sy eerste vaart in 1912 het dit ’n ysberg getref, en 1 517 mense het hulle lewe verloor. Sekere eerste-eeuse Jode het moontlik opreg geglo dat hulle God op die regte manier aanbid, maar hulle ywer was “nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). As ons vir God aanneemlik wil wees, moet ons opregte oortuigings op akkurate inligting gegrond wees. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte help om uit te vind wat dit behels om God met opregtheid en waarheid te dien.