Watter soort naam maak jy vir jou?
HET jy al deur die lys sterfgevalle in die plaaslike koerant gelees of ’n lang berig oor ’n oorledene se lewe en prestasies gesien? Het jy jou afgevra: ‘Wat sou mense van my gesê het?’ Hoeveel mense wonder ooit hoe hulle ná hulle dood onthou sal word? Dit gee aanleiding tot hierdie reguit vrae: Wat sou mense vandag van jou gesê het as jy gister gesterf het? Watter soort reputasie bou jy op? Hoe wil jy graag onthou word deur mense wat jou geken het en deur God?
Die wyse skrywer van die Bybelboek Prediker het gesê: “’n Naam is beter as goeie olie, en die sterfdag as die dag dat iemand gebore word” (Prediker 7:1). Waarom sal ’n mens se sterfdag beter as jou geboortedag wees? Omdat iemand by sy geboorte nog geen naam vir hom gemaak het nie. Sy blaadjie is nog heeltemal skoon. Sy lewenswandel sal hom óf ’n goeie óf ’n slegte reputasie besorg. Vir diegene wat oor die jare heen ’n goeie naam gemaak het, is die sterfdag in dié opsig beslis beter as die geboortedag.
Ons het dus ’n keuse. Trouens, ons kom elke dag voor baie keuses te staan wat sal bepaal watter reputasie ons by ons sterfdag sal hê, en veral hoe God ons sal onthou. Daarom het dieselfde wyse Hebreër geskryf: “Die nagedagtenis van die regverdige is tot seën, maar die naam van die goddeloses sal verrot” (Spreuke 10:7). Om tot seën deur God onthou te word, is inderdaad ’n groot voorreg!
As ons wys is, sal ons probeer om God te behaag deur volgens sy standaarde te lewe. Dit beteken dat ons die basiese beginsels moet volg wat Christus gemeld het: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Aan hierdie twee gebooie hang die hele Wet en die Profete.”—Matteus 22:37-40.
Party word onthou as filantrope, weldoeners, kampvegters vir menseregte of vir hulle prestasies in die sakewêreld, wetenskap, geneeskunde of ander bedrywighede. Maar hoe wil jy graag onthou word?
Die Skotse digter Robert Burns (1759-96) het die wens uitgespreek dat die een of ander mag ons die gawe sal gee om onsself te sien soos ander ons sien. Kan jy objektief na jouself kyk en sê dat jy ’n goeie reputasie by ander mense en by God het? Op die lange duur is ons verhoudings met ander ongetwyfeld baie belangriker as enige prestasies wat ons op die kort termyn in die sport- of sakewêreld bereik. Die vraag is dus: Hoe raak ons handelinge—ons gesprekke, maniere, lyftaal—ander? Beskou hulle ons as genaakbaar of as afsydig? As vriendelik of as ongevoelig? As inskiklik of as veeleisend? As hartlik en mensliewend of as koud en onpersoonlik? As ’n afbrekende kritikus of as ’n opbouende raadgewer? Kom ons ondersoek ’n paar voorbeelde uit die verlede en ons tyd om te sien wat ons kan leer.
[Prent op bladsy 3]
Robert Burns se wens was dat die een of ander mag ons die gawe sal gee om onsself te sien soos ander ons sien
[Erkenning]
Uit die boek A History of England