Besluite—’n Onvermydelike uitdaging
“NIKS is moeiliker, en dus kosbaarder, as om ’n besluit te neem nie”, het Napoleon Bonaparte, ’n 19de-eeuse keiser van Frankryk eenkeer gesê. Jy stem moontlik met albei dele van hierdie stelling saam, aangesien dit vir mense oor die algemeen baie belangrik is om beheer oor hulle eie lewe te hê. Terselfdertyd het hulle geleer dat dit soms allesbehalwe maklik is om besluite te neem.
Of dit nou maklik of moeilik is om besluite te neem, dit is iets onvermydeliks. Ons kom daagliks daarvoor te staan. Nadat ons in die oggend opgestaan het, moet ons besluit wat ons gaan aantrek, wat ons vir ontbyt gaan eet en hoe ons tientalle ander dinge gedurende die dag gaan doen. Die meeste van hierdie besluite is nie so belangrik nie. Ons dink nie eers twee keer daaroor nie. En ons lê selde wakker en wonder of dit wyse of onwyse besluite was.
Aan die ander kant het sommige besluite verreikende gevolge. Baie jongmense in vandag se wêreld moet besluit watter loopbaan hulle gaan volg. Hulle moet dalk besluit watter soort opleiding hulle nodig het en hoeveel daarvan. Vroeër of later sal die meeste van hulle besluit of hulle gaan trou of nie. Diegene wat verkies om te trou, moet besluit: ‘Is ek oud genoeg en volwasse genoeg om te trou? Watter soort maat wil ek hê, of nog belangriker, watter soort maat het ek nodig?’ Min besluite in die lewe het so ’n groot invloed op ons as ons keuse van ’n huweliksmaat.
Wanneer dit by belangrike sake kom, is dit noodsaaklik dat ons wyse besluite neem, want ons geluk hang grootliks daarvan af. Party mense meen dalk dat hulle heeltemal bevoeg is om self sulke besluite te neem en verwerp moontlik hulp wanneer dit aangebied word. Is dit verstandig? Kom ons kyk.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Napoleon: From the book The Pictorial History of the World