Vrae van lesers
Hoe moet Christene die gebruik van geboortestene beskou?
In sommige kulture word ’n geboortesteen vereenselwig met die maand waarin iemand gebore is. Of ’n Christen ’n ring met ’n sekere edelsteen gaan dra of nie, is ’n saak waaroor hy persoonlik moet besluit (Galasiërs 6:5). Wanneer hy daardie besluit maak, is daar belangrike faktore om te oorweeg.
Die Encyclopaedia Britannica sê dat ’n geboortesteen ’n “edelsteen is wat met iemand se geboortedatum verband hou en oor die algemeen beskou word as iets wat die draer geluk en gesondheid bring”. Hierdie naslaanwerk voeg by: “Astroloë skryf lank reeds bonatuurlike kragte toe aan sekere edelstene.”
Veral in die ou tyd het baie mense geglo dat ’n geboortesteen aan die draer geluk bring. Glo ’n ware Christen dit? Nee, want hy besef dat Jehovah diegene veroordeel het wat hom verlaat het en hulle vertroue in “die Geluksgod” gestel het.—Jesaja 65:11.
Gedurende die Middeleeue het waarsêers ’n edelsteen vir elke maand van die jaar gekies. Hulle het mense aangemoedig om die steen te dra van die maand waarin hulle gebore is, wat veronderstel was om die draer teen onheil te beskerm. Maar aangesien die Bybel beroepsvoorspellers van gebeure veroordeel, sal dit vir ’n Christen verkeerd wees om hulle voorskrifte te volg.—Deuteronomium 18:9-12.
Dit sou ook vir Christene ongepas wees om spesiale betekenis te heg aan die feit dat ’n ring ’n geboortesteen het. Jehovah se Getuies vier nie verjaarsdae nie. Dit is omdat sulke vieringe te veel aandag op die individu vestig en die enigste verjaarsdae waarna die Bybel verwys, dié van heersers is wat God nie gedien het nie.—Genesis 40:20; Matteus 14:6-10.
Sommige mense dink dat dit ’n goeie invloed op iemand se persoonlikheid het as hy ’n ring met ’n geboortesteen dra. Ware Christene glo dit egter nie, want hulle besef dat ’n mens jou met “die nuwe persoonlikheid” beklee onder die invloed van God se heilige gees en deur skriftuurlike beginsels toe te pas.—Efesiërs 4:22-24.
’n Persoon se beweegrede is ’n baie belangrike faktor. Wanneer ’n Christen besluit of hy ’n ring met ’n geboortesteen gaan dra, kan hy hom afvra: ‘Wil ek hierdie ring dra net omdat die steen vir my mooi is, hoewel dit toevallig ook ’n sogenaamde geboortesteen is? Of word ek tot ’n mate beïnvloed deur die bygelowige idees wat sommige mense aan sulke edelstene heg?’
’n Christen moet sy hart ondersoek om te bepaal wat sy beweegrede is. “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word”, sê die Skrif, “want daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Wanneer ’n Christen ’n besluit oor geboortestene maak, sal dit raadsaam wees as hy sy beweegrede ondersoek, asook die moontlike gevolge wat sy handelswyse vir hom en ander kan hê.—Romeine 14:13.