‘God woon nie in handgemaakte tempels nie’
DIE apostel Paulus was ongetwyfeld bekend met die tempels van Atena, want dit kon gevind word in baie van die stede wat hy gedurende sy sendingreise besoek het. Volgens The Encyclopædia Britannica was Atena nie net beroemd as godin van oorlog en wysheid nie, maar ook as godin “van die kunste en algemene ambagte wat gedurende vredestye beoefen is”.
Die beroemdste tempel van Atena was die Partenon, wat opgerig is in Atene, die stad wat na die godin vernoem is. Die Partenon is as een van die vernaamste tempels van die eertydse wêreld beskou en het ’n 12 meter hoë goud-en-ivoorbeeld van Atena gehad. Toe Paulus Atene besoek het, was hierdie wit marmertempel reeds sowat 500 jaar lank ’n belangrike landmerk in die stad.
Met die Partenon in sig het Paulus vir ’n groep Ateners getuig oor die ‘God wat nie in handgemaakte tempels woon nie’ (Handelinge 17:23, 24). Moontlik was die luisterrykheid van Atena se tempels of die prag van haar afgode vir party in Paulus se gehoor indrukwekkender as ’n onsigbare God wat hulle nie geken het nie. Maar soos Paulus gemeld het, moet niemand dink dat die Skepper van die mensdom “gelyk is aan goud of silwer of klip nie, aan iets wat deur die . . . mens gebeeldhou is nie”.—Handelinge 17:29.
Gode en godinne soos Atena—wie se heerlikheid van tempels en beelde afgehang het—het gekom en gegaan. Die beeld van Atena het in die vyfde eeu G.J. van die Partenon af verdwyn, en net die ruïnes van ’n paar van haar tempels bestaan nog. Wie vertrou vandag op Atena vir wysheid en leiding?
Hoe anders is dit tog met Jehovah, “die ewige God” wat niemand nog ooit gesien het nie (Romeine 16:26; 1 Johannes 4:12). Die kinders van Korag het geskryf: “Hierdie God is ons God tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig. Hy sal ons lei” (Psalm 48:14). Een manier om Jehovah God se leiding te ontvang, is om sy Woord, die Bybel, te bestudeer en die raad wat ons daarin vind, in ons lewe toe te pas.