Vrae van lesers
Waarom sê 1 Korintiërs 10:8 dat 23 000 Israeliete op een dag geval het omdat hulle hoerery gepleeg het, terwyl Numeri 25:9 sê dat daar 24 000 was?
Daar is verskeie faktore wat kan verklaar waarom daar ’n verskil is tussen die getalle in hierdie twee verse. Die eenvoudigste is dalk dat die eintlike getal êrens tussen 23 000 en 24 000 was, sodat dit na albei kante toe afgerond kan word.
Beskou nog ’n moontlikheid. Die apostel Paulus het die verslag van die Israeliete by Sittim as ’n waarskuwende voorbeeld voorgehou vir die Christene in eertydse Korinte, ’n stad wat berug was vir sy losbandigheid. Hy het geskryf: “Laat ons ook nie hoerery beoefen, soos party van hulle hoerery gepleeg het nie, sodat hulle geval het, drie-en-twintigduisend van hulle op een dag.” Paulus het spesifiek van diegene gepraat wat deur Jehovah doodgemaak is omdat hulle hoerery gepleeg het en gesê dat daar 23 000 was.—1 Korintiërs 10:8.
Numeri hoofstuk 25 sê egter vir ons dat “Israel hom aan die Baäl van Peor verbind [het]; en die toorn van Jehovah het teen Israel ontvlam”. Toe het Jehovah Moses beveel om “al die hoofde van die volk” tereg te stel. Moses het op sy beurt die regters beveel om daardie opdrag uit te voer. Uiteindelik ‘is die plaag gestuit’ danksy Pinehas se vinnige optrede toe hy die Israeliet doodgemaak het wat ’n Midianitiese vrou in die kamp ingebring het. Die verslag sê ten slotte: “Dié wat deur die plaag gesterf het, was vier-en-twintigduisend.”—Numeri 25:1-9.
Die getal wat in Numeri aangegee word, het blykbaar “die hoofde van die volk” ingesluit wat deur die regters tereggestel is asook diegene wat deur Jehovah self tereggestel is. Die regters het heel moontlik ’n duisend van daardie hoofde doodgemaak, sodat die getal op 24 000 te staan gekom het. Hetsy hierdie hoofde, of leiers, hoerery gepleeg het, aan die feesvierings deelgeneem het of hulle goedkeuring gegee het aan diegene wat dit gedoen het, hulle was skuldig daaraan dat hulle hulle “aan die Baäl van Peor verbind het”.
Aangaande die woord “verbind” verduidelik een Bybelnaslaanwerk dat dit “om jou aan ’n persoon te verbind” kan beteken. Die Israeliete was ’n volk wat aan Jehovah toegewy was, maar toe hulle hulle “aan die Baäl van Peor verbind het”, het hulle hulle toegewyde verhouding met God verbreek. Sowat 700 jaar later het Jehovah, deur die profeet Hosea, vir die Israeliete gesê: “Hulle het na Baäl van Peor gegaan en hulle aan die skandelike ding toegewy en walglik geword soos die voorwerp van hulle liefde” (Hosea 9:10). Almal wat dit gedoen het, het ’n ongunstige oordeel van God verdien. Moses het gevolglik die seuns van Israel herinner: “Julle eie oë het gesien wat Jehovah in die geval van die Baäl van Peor gedoen het, dat elke man wat agter die Baäl van Peor aan geloop het, deur Jehovah jou God onder jou uit verdelg is.”—Deuteronomium 4:3.