’n Erfenis waarop jy kan staatmaak
“AS JY per pos deur ’n ‘boedelagent’ in kennis gestel word dat daar ’n onopgeëiste erfenis op jou wag, pas op. Jy kan die teiken van ’n geslepe swendelaar wees.”
Dit is ’n waarskuwing wat die Verenigde State se Posinspeksiediens op hulle webwerf gesit het. Waarom? Omdat duisende mense ’n kennisgewing in die pos ontvang het wat gesê het: ‘Een van jou familielede is oorlede en het vir jou ’n erfenis nagelaat.’ Gevolglik het baie ’n fooi van R210 of meer gestuur sodat hulle ’n ‘boedelverslag’ kon kry wat glo sou verduidelik waar die erfenis is en hoe dit opgeëis kon word. Hulle is erg teleurgestel. Al hierdie mense het dieselfde verslag ontvang—en die kanse dat enigiemand enigiets sou erf, was feitlik nul.
Sulke bedrieglike skemas buit mense se natuurlike begeerte uit om ’n erfenis te ontvang. En tog praat die Bybel met goedkeuring van diegene wat ’n erfenis voorsien wanneer dit sê: “Iemand wat goed is, sal ’n erfenis vir kleinkinders nalaat” (Spreuke 13:22). Trouens, Jesus Christus self het hierdie welbekende stelling wat baie mense na aan die hart lê, in sy Bergpredikasie gemaak: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërf.”—Matteus 5:5, King James Version.
Jesus se woorde herinner ons aan wat koning Dawid van eertydse Israel geïnspireer is om eeue vroeër te skryf: “Die sagmoediges sal die aarde beërf; en hulle sal hulle verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11, KJ.
“Die aarde beërf”—wat ’n opwindende vooruitsig! Maar kan ons seker wees dat dit nie net nog ’n bedrieglike skema is wat bedoel is om mense van iets te ontneem nie? Ja ons kan. Aangesien die aarde deel is van Jehovah se wonderlike skepping, het hy as die Maker en Eienaar daarvan die wetlike reg om dit te gee aan wie hy wil. Deur koning Dawid het Jehovah hierdie profetiese belofte aan Sy geliefde Seun, Jesus Christus, gemaak: “Vra my, sodat ek nasies as jou erfdeel kan gee en die eindes van die aarde as jou besitting” (Psalm 2:8). Daarom het die apostel Paulus Jesus beskryf as die een “wat [God] as erfgenaam van alles aangestel het” (Hebreërs 1:2). Ons kan dus vol vertroue wees dat Jesus, toe hy gesê het dat die sagmoediges “die aarde sal beërf”, dit te goeder trou gedoen het, en dat hy die gesag het om sy belofte te vervul.—Matteus 28:18.
Die deurslaggewende vraag is dan: Hoe sal hierdie belofte bewaarheid word? Oral waar ons vandag kyk, lyk dit asof aggressiewe en hooghartige mense die oorhand kry en vat net wat hulle wil hê. Wat sal vir die sagmoediges oorbly? Daarbenewens word die aarde geteister deur ernstige probleme met besoedeling en sy hulpbronne word deur hebsugtige en kortsigtige mense uitgebuit. Sal daar op die ou end ’n aarde wees om te beërf? Ons nooi jou om die volgende artikel te lees om die antwoord op hierdie en ander belangrike vrae te kry.
[Prent op bladsy 3]
Wag daar ’n ware erfenis op jou?