Die Berleburg-Bybel
PIËTISME was ’n godsdiensbeweging wat in die 17de en 18de eeu in die Duitse Lutherse Kerk ontstaan het. Party ondersteuners van hierdie beweging is weens hulle geloof bespot of selfs vervolg. ’n Hele paar piëtistiese geleerdes het in Berleburg, ongeveer 150 kilometer noord van Frankfurt am Main, ’n heenkome gevind. Graaf Casimir von Wittgenstein Berleburg, ’n plaaslike edelman wat groot agting vir godsdiens gehad het, het asiel aan hulle verleen. Die feit dat hierdie predikers en geleerdes in Berleburg was, het daartoe gelei dat ’n nuwe Bybelvertaling, wat vandag as die Berleburg-Bybel bekend staan, uitgegee is. Hoe het dit gebeur?
Een van die manne wat asiel gesoek het, was Johann Haug, wat weens die onverdraagsaamheid van plaaslike teoloë sy huis in Straatsburg noodgedwonge moes verlaat. Haug was ’n hooggeleerde man en ’n begaafde taalkundige. Hy het sy medegeleerdes in Berleburg vertel van sy innige begeerte “om ’n heeltemal suiwer Bybelvertaling te voorsien, om Luther se vertaling te verbeter, om die betekenis presies volgens die letter van God se Woord en volgens die gees daarvan weer te gee” (Die Geschichte der Berlenburger Bibel [Die geskiedenis van die Berleburg-Bybel]). Die doel was om ’n Bybel met verklarende aantekeninge en kommentaar uit te gee, en dit moes vir die gewone mens verstaanbaar wees. Haug het die hulp van geleerdes in ander Europese lande ingeroep, en hy het 20 jaar lank aan die projek gewerk. Die Berleburg-Bybel het in 1726 die lig gesien. Omdat dit soveel aantekeninge gehad het, is dit in agt dele uitgegee.
Die Berleburg-Bybel het beslis ’n paar interessante kenmerke. Eksodus 6:2, 3 lui byvoorbeeld so: “God het verder met Moses gepraat en vir hom gesê: Ek is die HERE! En het aan Abraham/aan Isak en aan Jakob/verskyn as ’n God wat volkome bevoeg is: maar met my naam JEHOVAH het ek nie aan hulle bekend geword nie.” ’n Aantekening verduidelik: “Die naam JEHOVAH . . . , die naam wat afgesonder is/of/die naam wat bekend gemaak is.” God se persoonlike naam, Jehovah, verskyn ook in kommentaar oor Eksodus 3:15 en Eksodus 34:6.
Die Berleburg-Bybel is dus een van baie Duitse Bybels wat die naam Jehovah in die hoofteks, in voetnote of in kommentaar gebruik. Een van die moderner vertalings wat gepaste erkenning aan God se persoonlike naam gee, is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.