Worstel jy met jou gevoelens?
LENA het die grootste deel van haar lewe geworstel met negatiewe gevoelens oor haarself. “Jare van seksuele molestering toe ek ’n kind was, het my selfrespek ’n groot knou gegee”, het sy gesê. “Ek het gevoel dat ek heeltemal niks werd is nie.” Simone dink ook terug aan haar jeugjare en sê: “Diep in my was daar ’n leemte en die gevoel dat ek nie veel werd is nie.” Dit lyk of die diepe ongelukkigheid wat deur sulke gevoelens veroorsaak word, vandag iets algemeens is. Volgens ’n telefoniese beradingsdiens vir tieners sê feitlik die helfte van dié wat bel dat hulle “volgehoue gevoelens van lae eiewaarde” het.
Volgens party deskundiges ontwikkel mense gevoelens van minderwaardigheid wanneer ander hulle niks werd laat voel. So ’n geestestoestand kan ontstaan wanneer iemand voortdurend sleggesê word, te veel en skerp gekritiseer word of mishandel en uitgebuit word. Wat die rede ook al is, die gevolge kan nadelig en selfs verwoestend wees. Volgens ’n onlangse mediese studie is mense met negatiewe gevoelens oor hulleself geneig om hulleself en ander te wantrou, en sodoende ondermyn hulle onbewustelik hegte verhoudings en vriendskappe. “In sekere sin”, sê die verslag oor die studie, “‘skep’ hulle die einste situasies wat hulle die meeste vrees.”
Mense wat so voel, is dikwels die slagoffers van wat die Bybel hulle eie “verontrustende gedagtes” noem (Psalm 94:19). Hulle voel dat hulle nooit goed genoeg is nie. Wanneer iets verkeerd loop, blameer hulle hulleself instinktief. Al prys ander hulle vir dinge wat hulle doen, voel hulle in hulle hart soos ’n bedrieër wat vroeër of later ontmasker sal word. Omdat hulle glo dat hulle dit nie verdien om gelukkig te wees nie, verval baie in selfvernietigende gedrag wat hulle voel hulle nie kan regstel nie. Lena, wat vroeër gemeld is, het ’n ernstige eetversteuring ontwikkel weens haar gebrek aan selfrespek, en sy erken: “Ek het gevoel dat ek niks kan verander nie.”
Is diegene wat met sulke “verontrustende gedagtes” worstel, gedoem om vir die res van hulle lewe so te voel? Kan enigiets gedoen word om teen sulke gevoelens te stry? Die Bybel bevat beginsels en praktiese raad wat baie al gehelp het om die stryd te wen. Wat is ’n paar van hierdie beginsels, en hoe het dit sulke mense gehelp om vreugde in die lewe te vind? Die volgende artikel sal dit verduidelik.