Hulp met ons emosies
VOEL dit soms of negatiewe emosies jou lewe oorheers? Raak jy gou ontsteld, kwaad of gefrustreerd? Word jy maklik deur die sorge van die lewe oorweldig? Wat sal help?
Emosionele reaksies is ’n onafskeidelike deel van menswees. Wanneer dit reg beheers word, maak dit die lewe interessanter. Maar die Bybel erken dat ‘verdrukking ’n wyse waansinnig kan laat optree’ (Prediker 7:7). Wie word nie emosioneel geraak deur wat om hulle gebeur in ’n wêreld waarin geweld en ongelukke baie algemeen is nie? Maar die Skrif sê ook dat “daar niks beters is nie as dat die mens hom in sy werke verbly” (Prediker 3:22). Om die lewe genotvoller te maak, moet ons dus leer om ons te verbly deur positiewe emosies aan te kweek. Hoe kan ons goeie emosies aanwakker en skadelike emosies onderdruk?
Praktiese stappe verlig dikwels die intensiteit van ons negatiewe emosies. Is dit byvoorbeeld nie beter om eerder ons roetine of omgewing te verander wanneer ons angstig voel oor sake waaroor ons geen beheer het nie, as om ons daaroor te bekommer nie? ’n Rustige wandeling, ontspannende musiek, strawwe oefening of ’n goeie daad teenoor iemand wat hulp nodig het, kan vir ons ’n mate van verligting en geluk bring.—Handelinge 20:35.
Maar die beste manier om negatiewe gedagtes te verdryf, is om ons vertroue in die Skepper te stel. Wanneer negatiewe denke voortduur, moet ons ‘al ons sorge op God werp’ deur middel van gebed (1 Petrus 5:6, 7). Die Bybel verseker ons: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart . . . Baie is die rampspoede van die regverdige, maar uit hulle almal verlos Jehovah hom” (Psalm 34:18, 19). Hoe kan ons die vertroue opbou dat God ons “hulp en die Een wat . . . ontkoming verskaf”, kan wees? (Psalm 40:17). Ons kan dit doen deur die Bybel te bestudeer en te peins oor die treffende voorbeelde van God se persoonlike belangstelling in die welsyn van sy knegte.