Goeie gedrag dra vrug
OP ’N klein eiland naby die kus van suidelike Japan het ’n ma en haar drie jong kinders die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Toe die mense in daardie afgeleë en uiters konserwatiewe gebied dit sien, het hulle die ma begin ignoreer wanneer hulle haar teëgekom het. “Dit het my seerder gemaak dat hulle my man en kinders kil behandel het as dat hulle my geïgnoreer het”, vertel sy. Sy het nietemin vir haar kinders gesê: “Ons moet ter wille van Jehovah aanhou om die mense te groet.”—Matteus 5:47, 48.
By die huis het sy haar kinders geleer om hoflik te wees al verwerp ander hulle. Met hulle gereelde besoeke aan die plaaslike warmbron het die kinders op pad daarheen in die motor geoefen hoe hulle die mense sou groet. Wanneer hulle die gebou binnegegaan het, het die kinders altyd vriendelik uitgeroep: “Konnitsjiwa!”—“Goeiedag!” Die gesin het geduldig aangehou om almal te groet wat hulle teëgekom het, al het die mense se reaksie ysig gebly. Die mense kon egter nie anders as om die kinders se goeie maniere op te merk nie.
Uiteindelik het een persoon en toe nog een teruggegroet deur ook “Konnitsjiwa” te sê. Ná twee jaar het byna almal in die dorp die gesin teruggegroet. Hulle het ook mekaar begin groet en vriendeliker geword. Die onderburgemeester wou die kinders vir hulle rol in hierdie verandering vereer. Maar die ma het hom verseker dat hulle net gedoen het wat Christene behoort te doen. Later, in ’n toespraakkompetisie wat oor die hele eiland gehou is, het die een seun vertel hoe sy ma die gesin geleer het om ander hoflik te groet ongeag hoe hulle reageer. Sy toesprakie het die eerste prys gewen en is in die dorp se koerant gedruk. Die gesin is vandag baie bly dat hulle toepassing van Christelike beginsels sulke goeie resultate opgelewer het. Wanneer mense vriendelik is, is dit baie makliker om die goeie nuus aan hulle te verkondig.