Vrae van lesers
Wat kan ons leer uit die verbod in Eksodus 23:19: “Jy mag ’n boklam nie in sy moeder se melk kook nie”?
Hierdie voorskrif in die Mosaïese Wet, wat drie keer in die Bybel voorkom, kan ons help om Jehovah se sin vir wat gepas is, sy medelye en sy teerheid te verstaan. Dit beklemtoon ook sy afsku van valse aanbidding.—Eksodus 34:26; Deuteronomium 14:21.
Om ’n boklam of ’n ander dier in sy moeder se melk te kook, sou in stryd wees met die natuurlike orde van dinge wat deur Jehovah ingestel is. God het die moeder se melk voorsien om die boklam te voed en te help groei. Om die boklam in sy eie moeder se melk te kook, sou, soos een geleerde dit gestel het, “minagting [toon] vir die verhouding wat God tussen die moeder en die kleintjie vasgestel en geheilig het”.
Daarbenewens voer party aan dat ’n boklam in sy moeder se melk gekook is as deel van ’n heidense ritus om reën te bring. As dit die geval was, sou die verbod die Israeliete teen die sinlose en hartelose godsdiensgebruike van die omliggende nasies beskerm. Die Mosaïese Wet het die Israeliete uitdruklik verbied om in die insettinge van daardie nasies te wandel.—Levitikus 20:23.
Laastens bring hierdie wet Jehovah se tere medelye na vore. Die Wet het in werklikheid ’n aantal soortgelyke gebooie bevat teen wreedheid teenoor diere, asook maatreëls om te verhoed dat daar in stryd met die natuurlike orde van dinge opgetree word. Die Wet het byvoorbeeld gebooie ingesluit wat dit verbied het om ’n dier as ’n offerande te bring tensy dit ten minste sewe dae by sy moeder was, om ’n dier en sy kleintjie op dieselfde dag te slag en om ’n voël sowel as haar eiers of kleintjies uit ’n nes te neem.—Levitikus 22:27, 28; Deuteronomium 22:6, 7.
Dit is duidelik dat die Wet nie net ’n ingewikkelde stel gebooie en beperkings was nie. Die beginsels daarvan help onder andere om ’n verhewe sedelikheidsgevoel by ons te wek wat waarlik Jehovah se wonderlike eienskappe weerspieël.—Psalm 19:7-11.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
© Timothy O’Keefe/Index Stock Imagery