Vrae van lesers
Sal dit ná die finale toets aan die einde van die Millennium vir mense moontlik wees om te sondig en te sterf?
Daar is twee tekste in Openbaring wat hierop betrekking het: “Die dood en Hades is in die poel van vuur geslinger. Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur” (Openbaring 20:14). “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
Let op die tydsaspek. “Die dood en Hades” word in die poel van vuur gewerp nadat die Armageddon-oorlewendes, die dooies wat opgewek is en enigiemand wat ná Armageddon gebore is, geoordeel is na die ‘dinge wat geskrywe staan in die boekrolle’, oftewel Jehovah se breedvoerige vereistes vir die mensdom gedurende die duisend jaar (Openbaring 20:12, 13). Die apostel Johannes beskryf nog ’n visioen, in Openbaring hoofstuk 21, wat gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus Jesus vervul sal word. Maar hierdie visioen sal eers aan die einde van die duisendjarige Oordeelsdag heeltemal vervul wees. Dan sal Jehovah sonder enige bemiddelaars in die volste sin by die mensdom woon, aangesien Jesus dan alreeds die Koninkryk aan sy Vader oorhandig het. Jehovah sal in geestelike sin permanent en regstreeks by “sy volke” woon. Die belofte dat ‘die dood nie meer daar sal wees nie’, sal in die volste sin vervul word wanneer die mensdom volmaaktheid verkry het omdat die waarde van Christus se losprysoffer ten volle aangewend is.—Openbaring 21:3, 4.
Die dood wat in die tekste hierbo gemeld word, is dus die Adamitiese dood, wat deur Christus se losprys tot niet gemaak sal word (Romeine 5:12-21). Wanneer die dood wat die mensdom van die eerste mens geërf het, uit die weg geruim is, sal mense net soos Adam wees toe hy geskep is. Adam was volmaak, maar dit het nie beteken dat daar geen moontlikheid bestaan het dat hy sou sterf nie. Jehovah het Adam beveel om nie van “die boom van die kennis van goed en kwaad” te eet nie en gesê: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:17). Dit was die dood weens opsetlike sonde. Ná die finale toets aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy sal mense nog steeds wilsvryheid hê (Openbaring 20:7-10). Hulle sal nog steeds uit vrye wil kan kies of hulle wil voortgaan om Jehovah te dien of nie. Daar kan nie gesê word dat geen mens ooit soos Adam sy rug op God sal draai nie.
Wat sal gebeur met iemand wat kies om opstandig te wees ná die finale toets wanneer daar geen dood of Hades meer is nie? Op daardie stadium is die Adamitiese dood nie meer daar nie. En Hades, die mensdom se gemeenskaplike graf met die hoop op opstanding, is nie meer daar nie. Jehovah kan nietemin enigiemand wat in opstand kom, in die poel van vuur vernietig, wat hom enige hoop op ’n opstanding ontsê. Daardie dood sal wees soos die dood wat Adam en Eva gesterf het, nie die dood wat mense van Adam geërf het nie.
Maar ons het geen rede om te verwag dat so iets sal gebeur nie. Diegene wat die finale toets deurstaan, sal in een baie belangrike opsig van Adam verskil. Hulle sal reeds ten volle getoets wees. Ons kan seker wees dat die finale toets deeglik sal wees, want Jehovah weet hoe om mense deur en deur te ondersoek. Ons kan die vertroue hê dat die finale toets enigiemand sal uitskakel wat hulle keusevryheid misbruik. Hoewel dit dus moontlik is vir diegene wat die finale toets deurstaan, om teen God in opstand te kom en gevolglik vernietig te word, is dit baie onwaarskynlik dat so iets sal gebeur.
[Prent op bladsy 31]
In watter sin sal die mensdom ná die finale toets met Adam ooreenkom?