Vrae van lesers
Die apostel Paulus het gesê dat ‘die hele Israel gered sal word’ (Rom. 11:26). Het hy bedoel dat al die Jode hulle op die een of ander stadium tot die Christelike godsdiens sal bekeer?
Nee, dit is nie wat Paulus gesê het nie. As ’n nasie het die natuurlike afstammelinge van Abraham Jesus as die Messias verwerp. En in die jare ná Jesus se dood het dit duidelik geword dat daar geen grootskaalse bekering van Jode tot die Christelike godsdiens sou wees nie. Paulus se verklaring dat ‘die hele Israel gered sal word’, was nietemin waar. In watter opsig?
Jesus het vir die Joodse godsdiensleiers van sy dag gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matt. 21:43). Omdat die nasie Israel as ’n geheel Jesus verwerp het, het Jehovah sy aandag op ’n nuwe nasie, ’n geestelike nasie, gerig. Paulus het hierdie nasie “die Israel van God” genoem.—Gal. 6:16.
Ander gedeeltes in die Christelike Griekse Geskrifte bewys dat “die Israel van God” uit 144 000 geesgesalfde Christene bestaan (Rom. 8:15-17; Op. 7:4). Die feit dat nie-Jode deel van hierdie groep sou wees, word deur Openbaring 5:9, 10 bevestig, wat toon dat gesalfde Christene “uit elke stam en taal en volk en nasie” kom. Die lede van geestelike Israel is spesiaal gekies om “’n koninkryk en priesters” te wees, “en hulle gaan as konings oor die aarde heers”. Hoewel Jehovah Israel as ’n uitverkore nasie verwerp het, kon individue met hom versoen raak. Dit was die geval met die apostels en baie ander vroeë Christene. Hierdie Jode moes natuurlik, soos alle ander mense, met die bloed van Jesus Christus gekoop word.—1 Tim. 2:5, 6; Heb. 2:9; 1 Pet. 1:17-19.
Die feit dat die meeste vleeslike Jode in die eerste eeu die geleentheid verbeur het om medeheersers saam met Jesus te word, het nie God se voorneme verydel nie. Dít kan nooit gebeur nie, want Jehovah het deur middel van sy profeet gesê: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jes. 55:11.
Dit is waar met betrekking tot God se voorneme om 144 000 medeheersers saam met sy Seun in die hemel te laat regeer. Die Bybel toon duidelik dat God die volle getal van 144 000 sou salf. Nie een sou ontbreek nie!—Op. 14:1-5.
Toe Paulus geskryf het dat ‘die hele Israel gered sal word’, het hy dus nie ’n massabekering van die Jode tot die Christelike godsdiens voorspel nie. Hy het eerder bedoel dat God se voorneme dat 144 000 geestelike Israeliete saam met Sy Seun, Jesus Christus, in die hemel sou regeer, vervul sou word. Op God se bestemde tyd sal die volle getal—“die hele Israel”—in ’n geredde toestand wees en uiteindelik as konings en priesters in die Messiaanse Koninkryk regeer.—Ef. 2:8.
[Prente op bladsy 28]
Die gesalfdes kom “uit elke stam en taal en volk en nasie”