Die Bybel verander lewens
Wat het ’n vrou wat met diamante gesmokkel het en by haar werkgewer gesteel het, beweeg om ’n eerlike werker te word? Wat het ’n vrou wat twee keer selfmoord probeer pleeg het, gehelp om ’n doel in die lewe te vind? Hoe het iemand wat alkohol en dwelms misbruik het, die krag gekry om sy vernietigende gewoontes te bowe te kom? Kom ons kyk na wat hulle oor hulle ondervindinge sê.
PROFIEL
NAAM: MARGARET DEBRUYN
OUDERDOM: 45
LAND: BOTSWANA
GESKIEDENIS: WAS ’N SMOKKELAAR EN DIEF
MY VERLEDE: My pa was oorspronklik van Duitsland, maar het ’n burger van Suidwes-Afrika (nou Namibië) geword. My ma was van Botswana, van die Mangologa-stam. Ek is in Gobabis, Namibië, gebore.
In die 1970’s het die Suid-Afrikaanse regering groot beheer oor Namibië uitgeoefen en die apartheidswette streng in al die dorpe toegepas. Omdat my ouers in ’n gemengde huwelik was, is hulle oorreed om uitmekaar te gaan. My ma het dus saam met my, my broers en my susters na Botswana teruggekeer en in Ghansi gaan woon.
In 1979 het ek na Lobatse, Botswana, getrek en by pleegouers gewoon terwyl ek my skoolloopbaan voltooi het. Later het ek as ’n klerk by ’n garage gaan werk. Ek het grootgeword met die idee dat God nie vir mense voorsien nie, maar dat ’n mens moet doen wat nodig is—reg of verkeerd—om vir jou en jou gesin te sorg.
Aangesien ek ’n verantwoordelike posisie by die werk gehad het, het ek die geleentheid gebruik om onderdele by my werkgewer te steel. Elke keer wanneer ’n trein snags by die dorp aangedoen het, het ek en my maats daarop geklim en alles gesteel wat ons in die hande kon kry. Ek het ook met diamante, goud en brons begin smokkel. Ek het dwelms begin gebruik, baie gewelddadig geword en baie kêrels gehad.
In 1993 is ek uiteindelik betrap terwyl ek gesteel het, en ek het my werk verloor. My “vriende” het my in die steek gelaat omdat hulle bang was dat hulle ook gevang sou word. Hulle reaksie het my seergemaak, en ek het besluit om niemand meer te vertrou nie.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In 1994 het ek Tim en Virginia, twee sendelinge van Jehovah se Getuies, ontmoet. Hulle het by my nuwe werksplek met my gepraat en my gedurende my middagete gehelp om van die Bybel te leer. Later, toe ek gevoel het dat ek hulle kan vertrou, het ek hulle toegelaat om na my huis te kom om met my te studeer.
Ek het kort voor lank besef dat ek veranderinge in my lewenswyse sou moes maak as ek God wou behaag. Uit 1 Korintiërs 6:9, 10 het ek byvoorbeeld geleer dat “geen hoereerders . . . of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers . . . God se koninkryk [sal] beërf nie”. Ek het my slegte gewoontes een vir een laat vaar. Ek het opgehou om te steel. Ek het opgehou om te assosieer met die bendelede saam met wie ek grootgeword het. Daarna het ek, met Jehovah se hulp, my kêrels die trekpas gegee.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Met groot inspanning het ek geleer om my humeur te beteuel en nie op my kinders te skreeu wanneer iets skeef loop nie (Efesiërs 4:31). Ek probeer om dinge op ’n vreedsame manier uit te praat. Hierdie manier van kommunikeer, het die gewenste uitwerking en bring ons gesin nader aan mekaar.
My voormalige vriende, en selfs my bure, het geleer dat hulle my kan vertrou. Ek is nou ’n eerlike, betroubare werker wat pligsgetrou met voorraad en geld kan werk. Ek kan my dus onderhou terwyl ek baie van my tyd gebruik om ander te help om van die Bybel te leer. Ek stem heelhartig saam met die woorde van Spreuke 10:22: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”
PROFIEL
NAAM: GLORIA ELIZARRARÁS DE CHOPERENA
OUDERDOM: 37
LAND: MEXIKO
GESKIEDENIS: HET SELFMOORD PROBEER PLEEG
MY VERLEDE: Ek het grootgeword in ’n welvarende deel van Naucalpan, in die staat Mexiko. Ek was van jongs af rebels en was dol oor partytjies. Ek het op 12 begin rook, op 14 begin drink en op 16 begin dwelms gebruik. ’n Paar jaar later het ek die huis verlaat. Die meeste van my vriende het uit disfunksionele gesinne gekom, waar hulle fisies of emosioneel mishandel is. Die lewe het vir my so hopeloos gelyk dat ek twee keer selfmoord probeer pleeg het.
Toe ek 19 was, het ek as ’n model begin werk. Ek het dus sosiaal verkeer met mense in die politiek en die vermaaklikheidswêreld. Uiteindelik het ek getrou en kinders gehad, maar ék moes al die besluite in die gesin neem. Ek het ook aangehou rook en drink, en my sosiale lewe was nog steeds dol. My gesprekke was deurspek met vulgêre taal, en ek het daarvan gehou om vuil grappe te vertel. Ek het ’n baie slegte humeur gehad.
Die meeste mense met wie ek geassosieer het, het dieselfde soort lewe gelei. Vir hulle het dit gelyk asof ek alles gehad het. Maar my lewe het steeds leeg gevoel, doelloos.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In 1998 het ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Die Bybel het my geleer dat die lewe wel ’n doel het. Ek het geleer dat dit Jehovah God se voorneme is om Paradystoestande op die aarde te herstel, dat hy die dooies sal opwek en dat dit ook my toekoms kan wees.
Ek het ook geleer dat ons ons liefde vir God toon deur gehoorsaam aan hom te wees (1 Johannes 5:3). Aan die begin was dit vir my ’n uitdaging omdat ek nog nooit leiding van enigiemand aanvaar het nie. Maar ek het uiteindelik besef dat ek nie kon aanhou om my lewe self te rig nie (Jeremia 10:23). Ek het tot Jehovah gebid en hom gevra om my te lei. Ek het hom gevra om my te help om my lewe in ooreenstemming met sy standaarde te bring en om my kinders te leer om nie te lewe soos ek gelewe het nie.
Dit was vir my baie moeilik om die nodige veranderinge te maak, maar ek het die raad in Efesiërs 4:22-24 begin toepas: “Julle [moet] die ou persoonlikheid . . . aflê, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom . . . en julle met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is.” Om my met die nuwe persoonlikheid te beklee, het in my geval beteken dat ek verontreinigende gewoontes soos rook moes opgee en dat ek ’n nuwe woordeskat moes aanleer, een sonder vuil woorde. Dit het my byna drie jaar geneem om die nodige veranderinge te maak sodat ek as een van Jehovah se Getuies gedoop kon word.
Ek het ook my rol as vrou en as ma ernstig begin opneem. Ek het die raad in 1 Petrus 3:1, 2 begin toepas: “Julle, vrouens, [moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.”
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek is so dankbaar teenoor Jehovah omdat ek nou weet dat die lewe wel ’n doel het. Ek voel dat ek ’n baie beter mens is en dat ek my kinders goed kan grootmaak. Soms veroordeel my hart my weens my verlede, maar Jehovah ken my hart (1 Johannes 3:19, 20). Om volgens Bybelstandaarde te lewe, het my ongetwyfeld teen leed beskerm en vir my innerlike vrede gebring.
PROFIEL
NAAM: JAILSON CORREA DE OLIVEIRA
OUDERDOM: 33
LAND: BRASILIË
GESKIEDENIS: HET ALKOHOL EN DWELMS MISBRUIK
MY VERLEDE: Ek is gebore in Bagé, ’n Brasiliaanse stad van sowat 100 000 mense naby die grens tussen Brasilië en Uruguay. Die vernaamste bedrywe was landbou en beesboerdery. Ek het grootgeword in ’n arm streek waar bendes geweld bevorder het en waar alkohol- en dwelmmisbruik onder jongmense algemeen was.
Nadat ek skool verlaat het, het ek begin om te drink, dagga te rook en na heavy metal-musiek te luister. Ek het nie aan God geglo nie. Ek het gemeen dat al die lyding en chaos in die wêreld ’n bewys is dat God nie bestaan nie.
Ek was ’n kitaarspeler en liedjieskrywer en het dikwels my inspirasie uit die Bybelboek Openbaring gekry. My musiekgroep was nie so suksesvol as wat ek verwag het nie, en daarom het ek al hoe meer op gevaarlike dwelms begin staatmaak. Dit het nie vir my saak gemaak dat ek weens ’n oordosis kon sterf nie. Dit is hoe die lewe van baie van die sangers wat ek verafgod het, tot ’n einde gekom het.
Ek het my dwelmgewoonte onderhou deur geld te leen by my ouma, wat my grootgemaak het. Wanneer sy my gevra het waarvoor ek die geld wil gebruik, het ek vir haar leuens vertel. Om sake te vererger, het ek by die okkulte betrokke geraak. Die swart toorkuns het my gefassineer, en ek het gedink dat dit my musikale komposisies sou verryk.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Nadat ek die Bybel begin studeer het en die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon het, het my geestestoestand begin verander. Ek het geleidelik ’n begeerte ontwikkel om te lewe en om gelukkig te wees. Hierdie nuwe gesindheid het my beweeg om my lang hare te sny. Ek het dit laat groei as ’n teken van my ontevredenheid en opstandigheid. Toe het ek besef dat ek my alkohol- en dwelmmisbruik moes staak en moes ophou rook as ek vir God aanneemlik wou wees. Ek het ook besef dat ek my smaak in musiek moes verander.
Toe ek die eerste keer ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon het, het ek ’n Bybelteks gesien wat teen een van die mure was. Dit was Spreuke 3:5, 6, wat sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Toe ek oor daardie teks nagedink het, het dit my die vertroue gegee dat Jehovah my sal help om my lewe te verander as ek hom toelaat.
Maar om my diepgewortelde gewoontes te verander en van verslawings soos alkohol- en dwelmmisbruik weg te breek, was so moeilik soos om my eie hand af te kap (Matteus 18:8, 9). Ek kon hierdie soort veranderinge nie geleidelik maak nie. Ek het geweet dat dit nie in my geval sou werk nie. Daarom het ek my slegte gewoontes onmiddellik gestaak. Ek het ook al die plekke en mense vermy wat my na my ou, vernietigende lewenswyse kon teruglok.
Ek het geleer om trots te wees op wat ek daagliks bereik het en om nie op oomblikke van ontmoediging te fokus nie. Ek het gevoel dat dit ’n eer sou wees om fisies, sedelik en geestelik rein te wees in Jehovah se oë. Ek het gebid vir Jehovah se hulp, en hy het my gehelp om vorentoe te kyk en nie aan my ou lewenswyse te dink nie. Soms het ek teruggeval. Maar ek het daarop aangedring dat my studiehouer my Bybelstudie kom hou, selfs wanneer ek soms babbelas was.
Toe ek die waarheid omtrent God uit die Bybel leer—dat hy vir ons as individue omgee, dat hy valse godsdiens sal vernietig en dat hy nou ’n wêreldwye predikingswerk steun—het dit vir my sin gemaak (Matteus 7:21-23; 24:14; 1 Petrus 5:6, 7). Hierdie feite het soos die stukke van ’n legkaart inmekaargepas. Uiteindelik het ek besluit om my lewe aan God toe te wy. Ek wou my dankbaarheid toon vir alles wat hy vir my gedoen het.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Dit voel nou vir my asof my lewe ’n doel het en sinvol is (Prediker 12:13). Ek neem ook nie meer by my familie nie, maar ek kan nou vir hulle iets gee. Ek het my ouma vertel van die goeie dinge wat ek uit die Bybel geleer het, en sy het haar nou aan Jehovah toegewy. Verskeie ander familielede en een van die voormalige lede van my musiekgroep het dit ook gedoen.
Ek is nou getroud, en ek en my vrou bestee die meeste van ons tyd daaraan om ander te help om van die Bybel te leer. Ek voel dat ek ryklik beloon is omdat ek geleer het om ‘met my hele hart op Jehovah te vertrou’.
[Lokteks op bladsy 29]
“Ek het geleidelik ’n begeerte ontwikkel om te lewe en om gelukkig te wees”