Ons lesers vra
Is teëspoed in die lewe ’n straf van God af?
Het ’n traumatiese gebeurtenis in jou lewe jou laat wonder of God wil hê dat jy teëspoed moet ondervind? ’n Skielike siekte, beserings as gevolg van ’n ernstige ongeluk of ’n voortydige dood in die familie kan ons laat voel dat God ons uitgesonder het om gestraf te word.
Pleks daarvan om so te dink, moet jy eerder vertroos word deur die wete dat God wil hê dat mense gelukkig moet wees en geen leed moet ervaar nie. Dit kan gesien word in die feit dat God, toe hy die eerste mense geskep het, hulle geplaas het in “die tuin van Eden”, ’n parkagtige paradys waar die lewe vry van alle teëspoed sou wees.—Genesis 2:15.
Ongelukkig het die eerste mensepaar besluit om hierdie wonderlike vooruitsig te verwerp en was hulle opsetlik ongehoorsaam aan God. Die gevolg was nie net vir hulle rampspoedig nie, maar ook vir al hulle nakomelinge, insluitende ons. Waarom? Die situasie kan vergelyk word met wat gebeur wanneer ’n gesinshoof nie sy ooreenkoms nakom om die huur te betaal nie—die hele gesin word uit hulle huis gesit en aan ontberinge en armoede blootgestel. Sedert die eerste opstand het teëspoed eweneens die lot van die hele mensdom geword (Romeine 5:12). Baie jare later het die regverdige man Job gekla dat sy pyn en lyding, as ’n mens dit “op die weegskaal sou sit . . . selfs swaarder as die sand van die seë” sou wees.—Job 6:2, 3.
Nog ’n oorsaak van teëspoed is ons beperkte versiendheid. Stel jou byvoorbeeld ’n behuisingsontwikkelaar voor wat huise bou en verkoop in ’n gebied waar daar dikwels brande is. Onbewus van hierdie feite, koop jy een van hierdie huise en gaan woon jy daarin. Sou jy jou en jou gesin nie in groot gevaar stel nie? Enige ontberinge wat daaruit voortspruit, kan nouliks as ’n straf van God beskou word, of hoe? Die werklikheid word in die Bybel uiteengesit: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.”—Spreuke 14:15.
Maar hoewel ons almal teëspoed verduur, is dit vertroostend om te weet dat dit God se voorneme is om die mensdom binnekort daarvan te bevry. Wanneer die tyd aanbreek, sal jy nooit weer teëspoed ervaar, dit sien of selfs daarvan hoor nie. Trane weens hartseer, pyn, die dood en verdriet sal dinge wees wat “verbygegaan” het (Openbaring 21:4). Die belofte dat mense nooit weer huise sal bou of gewasse sal plant wat maar net deur oorloë of rampe vernietig word nie, is ook hartverblydend. Hulle sal die werk van hulle hande eerder “ten volle benut”.—Jesaja 65:21-25.
Wat kan jy intussen doen om die uitwerking van teëspoed te verminder, terwyl jy op God wag om dit heeltemal te verwyder? Eerstens maan die Bybel ons: “Moenie op jou eie begrip steun nie”, maar “vertrou op Jehovah met jou hele hart” (Spreuke 3:5). Vertrou op hom vir leiding en vertroosting. Slaan ag op die goddelike wysheid wat in die Bybel gevind word. Dit sal jou help om wyse besluite te neem en jou beskerm teen die soort teëspoed wat vermy kan word.—Spreuke 22:3.