Het jy geweet?
Met watter pad het die apostel Paulus gereis toe hy die eerste keer na Rome gegaan het?
▪ Handelinge 28:13-16 sê dat die skip waarop Paulus na Italië geseil het, by Puteoli (hedendaagse Pozzuoli), aan die Golf van Napels, aangekom het. Hy het toe na Rome gereis met die Via Appia, die stad se vernaamste hoofweg.
Die Via Appia is vernoem na Appius Claudius Caecus, die Romeinse staatsman wat dit in 312 VHJ begin bou het. Hierdie pad, wat ongeveer vyf en ’n half tot ses meter breed en met groot blokke vulkaniese rots geplavei is, het uiteindelik 583 kilometer ver suidoos van Rome gestrek. Dit het Rome verbind met die hawestad Brundisium (hedendaagse Brindisi), die poort na die Ooste. Reisigers het stilgehou by rusplekke—wat ongeveer 24 kilometer uitmekaar was—om voorraad te koop, te slaap of perde of voertuie om te ruil.
Maar Paulus het waarskynlik geloop. Die deel van die Via Appia waarop hy gereis het, was 212 kilometer lank. ’n Gedeelte daarvan het deur die Pontynse moerasse geloop, ’n vleiagtige gebied wat een Romeinse skrywer laat kla het oor die muskiete en walglike reuk. Net noord van hierdie moerasse was die Mark van Appius—ongeveer 65 kilometer van Rome af—en die Drie Herberge, ’n rusplek sowat 50 kilometer van die stad af. By hierdie twee stilhouplekke het Christene van Rome vir Paulus gewag. Toe Paulus hulle sien, “het hy God gedank en moed geskep”.—Handelinge 28:15.
Na watter soort skryfbordjie verwys Lukas 1:63?
▪ Lukas se Evangelie meld dat vriende van Sagaria hom gevra het wat sy pasgebore seuntjie genoem moet word. Sagaria “het ’n skryfbordjie gevra en geskryf: ‘Johannes is sy naam’” (Lukas 1:63). Volgens een vakkundige werk verwys die Griekse woord wat hier met “skryfbordjie” weergegee word, na “’n klein skryfbordjie wat gewoonlik van hout gemaak is, met ’n voorbereide wasoppervlak”. Houtbordjies is effens uitgekerf, met ’n laag gladde byewas gevul en aanmekaar geheg. Met behulp van ’n skryfstif kon ’n skrywer aantekeninge op hierdie oppervlak maak. Die skrif kon daarna uitgewis word, en die oppervlak wat dan weer glad was, kon weer gebruik word.
Die boek Reading and Writing in the Time of Jesus sê: “Skilderye uit Pompeji, beeldhouwerke uit verskeie dele van die Romeinse Ryk en werklike eksemplare wat opgegrawe is by baie terreine vanaf Egipte tot by die Hadrianusmuur [in die noorde van Brittanje], toon hoe algemeen die skryfbordjies gebruik is.” ’n Verskeidenheid mense het moontlik hierdie skryfbordjies byderhand gehad—handelaars, staatsamptenare en dalk selfs party van die eerste-eeuse Christene.
[Prent op bladsy 11]
Via Appia
[Prent op bladsy 11]
Skoolseun se wasskryfbordjie, 2de EEU HJ
[Erkenning]
By permission of the British Library