Die lewe en tye van eerste-eeuse Christene
Waar hulle gewoon het
“Ek [het] my nie daarvan weerhou . . . om julle in die openbaar en van huis tot huis te leer nie.”—HANDELINGE 20:20.
JY STAP deur die yslike poort en bevind jou onmiddellik in ’n eerste-eeuse stad. Soos baie stede is dit op ’n heuwel geleë. Bokant jou is ’n rif, waar die bo-stad gesien kan word. Talle wit luukse villas, baie met ommuurde tuine, glinster in die son. Dít is die rykmansbuurt. Laer af teen die heuwel kan meer huise van verskillende groottes en vorms gesien word. Hierdie groot meerverdiepinghuise van klip wat aan die middelklashandelaars en -grondeienaars behoort, staan al langs die geplaveide strate. Verder af in die vallei is die armer gebiede. Die vaal huisies hier is vierkantige geboutjies wat weerskante van nou straatjies ingeryg is of dig opmekaar om klein binnehowe staan.
Terwyl jy met die besige strate langs stap, prikkel die geluide en geure jou sintuie. Vroue is besig om te kook, en dit vul die buurt met heerlike aromas. Jy hoor die geluide van diere en van spelende kinders. Mans is hard aan die werk in raserige, bedompige winkels.
Christengesinne het ’n groot deel van hulle lewe in hierdie huise deurgebring. Dit was die middelpunt van hulle daaglikse bedrywighede, geestelike onderrigting en aanbidding.
Die kleiner huise Soos die huise van vandag het die grootte en ontwerp van die wonings verskil na gelang van waar die gesin gewoon het en wat hulle finansiële omstandighede was. Die kleinste huise (1) het uit ’n enkele beknopte, donker vertrek bestaan, waarin ’n hele gesin gewoon het. Talle huisies is met songedroogde kleistene gebou. Vir ander is rugekapte klippe gebruik. Albei soorte is gewoonlik op ’n klipfondament gebou.
Die binnemure was gepleister en die vloere geplavei, wat voortdurende instandhouding nodig gemaak het. Daar was ten minste een klein opening in die dak of muur waaruit kombuisrook kon ontsnap. Die meubels was beperk tot noodsaaklike huishoudelike items.
’n Kleidak het op takke en sparre gerus, wat bo-op houtbalke gelê het, en dié is deur stutte gesteun. Die vasgestampte klei is dan gepleister om ’n redelik waterdigte plafon te vorm. Mense kon gewoonlik net op die dak kom met behulp van ’n leer aan die buitekant van die huis.
Ondanks die beperkte leefruimte was Christenhuise aangename plekke, waar selfs ’n arm gesin geestelik ryk en gelukkig kon wees.
Die middelklas Die groter tweeverdiepinghuise van klip (2) wat aan die middelklas behoort het, het ’n gastekamer gehad (Markus 14:13-16; Handelinge 1:13, 14). In hierdie groot bovertrek kon vergaderinge gehou word, en dit was dikwels beskikbaar tydens feestye (Handelinge 2:1-4). Hierdie huise en selfs groter huise (3) van handelaars en grondeienaars is met kalksteenblokke en messelkalk gebou. Die klipvloere en binnemure is gepleister; buitemure is afgewit.
’n Trap het toegang verleen tot die bovertrekke en die dak. Alle plat dakke het ’n muurtjie daarom gehad om te keer dat iemand afval en om ander ongelukke te verhoed (Deuteronomium 22:8). Gedurende die warmste deel van die dag, onder ’n tydelike sonskerm, was die dak ’n aangename plek om te studeer, te peins, te bid of te rus.—Handelinge 10:9.
Hoewel hierdie stewige huise met hulle groter vertrekke dikwels uitgebreide families gehuisves het, het dit ekstra leefruimte, aparte slaapkamers sowel as ’n groter kombuis en eetvertrek gehad.
Die luukser huise Huise in die Romeinse styl (4) het aansienlik verskil wat grootte, ontwerp en konstruksie betref. Ruim vertrekke is om ’n groot eetkamer (triclinium) gebou, wat die middelpunt van gesinsbedrywighede was. Party ontwerpe het ’n tweede of derde verdieping (5) gehad of is met ommuurde tuine versier.
Die luukser huise het moontlik heelwat weelderige meubels gehad, party met ivoor- en goue inlegwerk. Hierdie huise het geriewe soos lopende water en baddens gehad. Die vloere was moontlik van hout of veelkleurige marmer, en die mure was moontlik bedek met sederhoutpanele. Kolebakke is gebruik vir verwarming. Traliewerk, gewoonlik van hout, is om veiligheidsredes in vensteropeninge aangebring, en gordyne het ’n mate van privaatheid verleen. Venstersitbanke is in die dik klipmure uitgekap.—Handelinge 20:9, 10.
Ongeag die grootte of vorm van hulle huis, die vroeë Christene was gasvry en het graag hulle besittings met ander gedeel. Reisende opsieners het dus maklik ’n hartlike, gasvrye gesin gevind by wie hulle kon bly totdat hulle hulle bediening in daardie stad of dorp voltooi het.—Matteus 10:11; Handelinge 16:14, 15.
“Die huis van Simon en Andreas” Jesus is hartlik verwelkom in “die huis van Simon en Andreas” (Markus 1:29-31). Die huis van hierdie vissermanne was dalk deel van ’n groep beskeie geboue (6) wat dig opmekaar om ’n geplaveide binnehof gebou was.
Hierdie huise se deure en vensters het op die binnehof oopgemaak, wat dikwels die middelpunt van daaglikse bedrywighede was, soos om te kook, te bak, graan te maal en saam te kuier en te eet.
Die eenverdiepinghuise in Kapernaum is van ongekapte basalt (vulkaniese rots) uit die omgewing gebou. Die buitetrap het na ’n plat dak gelei wat gemaak is deur klei of teëls bo-op riete en sparre te pak, wat op balke gerus het (Markus 2:1-5). Die binnevloere is geplavei en dikwels met geweefde matte bedek.
Blokke huise het strate en stegies al langs die oewer van die See van Galilea gevorm. Kapernaum was ’n ideale woonplek vir die vissermanne wat vir hulle bestaan van die see afhanklik was.
“Van huis tot huis” Ter opsomming: die huise van die eerste-eeuse Christene was uiteenlopend—van die kleisteenhuise met een vertrek tot die groot, luukse klipvillas.
Hierdie huise het nie net huisvesting aan die gesin voorsien nie. Dit was ook ’n plek van geestelike onderrigting. Binne hierdie mure het die gesin saam aanbid. Hulle het in huise bymekaargekom om die Skrif te bestudeer en met medegelowiges te assosieer. Wat hulle in hulle huise geleer het, het hulle goed benut terwyl hulle hulle allerbelangrikste werk gedoen het, naamlik om oral in die Romeinse wêreld “van huis tot huis” te preek en te onderrig.—Handelinge 20:20.