Kom nader aan God
“Jehovah sien wat die hart is”
SKYN bedrieg. Wat ’n persoon uiterlik is, openbaar nie noodwendig wat hy innerlik, diep in sy hart, is nie. Mense is geneig om ander volgens die uiterlike te oordeel. Gelukkig kyk Jehovah God verby die uiterlike. Dit word duidelik geopenbaar in 1 Samuel 16:1-12.
Stel jou die toneel voor. Jehovah is op die punt om ’n nuwe koning oor die nasie Israel aan te stel. God sê vir die profeet Samuel: “Ek sal jou na Isai, die Betlehemiet, stuur, want ek het onder sy seuns vir my ’n koning uitgesoek” (vers 1). Jehovah gee nie die naam nie, maar sê net dat die uitverkorene een van die seuns van Isai sal wees. Op pad na Betlehem wonder Samuel dalk: ‘Hoe sal ek weet watter een van Isai se seuns Jehovah uitgekies het?’
Wanneer Samuel in Betlehem aankom, reël hy dat Isai en sy seuns ’n offermaal saam eet. Wanneer Eliab, die oudste seun, inkom, word Samuel dadelik deur sy voorkoms beïndruk. Samuel dink dat Eliab se gestalte beslis koninklik is en sê by homself: “Waarlik, voor Jehovah staan sy gesalfde.”—Vers 6.
Maar Jehovah sien dinge anders. Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms en na sy hoë gestalte kyk nie, want ek het hom verwerp” (vers 7). Jehovah is nie beïndruk deur hoe lank en aantreklik Eliab is nie. Jehovah se alsiende oë kyk verby die uiterlike na waar ware skoonheid gevind kan word.
Jehovah verduidelik aan Samuel: “Want God sien nie soos die mens sien nie, want die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is” (vers 7). Ja, dit is die hart—die innerlike persoon, die oorsprong van ’n mens se gedagtes, gesindhede en gevoelens—wat vir Jehovah saak maak. “Die ondersoeker van harte” verwerp Eliab—sowel as die volgende ses seuns van Isai wat voor Samuel kom.—Spreuke 17:3.
Isai het nog een seun, Dawid, die jongste, wat ‘die skape laat wei’ (vers 11). Dawid word dus van die veld af ingeroep en kom voor Samuel. Dan sê Jehovah vir Samuel: “Staan op, salf hom, want dit is hy!” (vers 12). Dawid is weliswaar “’n jong man met pragtige oë en ’n aantreklike voorkoms”. Maar dit is sy hart wat hom werklik aanneemlik maak in God se oë.—1 Samuel 13:14.
In ’n wêreld wat soveel klem op uiterlike skoonheid plaas, kan ons vertroosting put uit die wete dat Jehovah God hom nie deur die uiterlike laat beïnvloed nie. Dit maak nie vir hom saak hoe lank jy is en of ander dink dat jy aantreklik of mooi is nie. Wat vir Jehovah saak maak, is wat jy innerlik is, in jou hart. Beweeg hierdie wete jou nie om die soort eienskappe aan te kweek wat jou pragtig in God se oë sal maak nie?