Ons lesers vra . . .
Is Jesus die aartsengel Migael?
▪ Eenvoudig gestel, die antwoord is ja. Die gebruik om mense op verskillende name te noem, is in baie kulture iets algemeens. Dit is ook die geval met name in die Bybel. Byvoorbeeld, die aartsvader Jakob word ook Israel genoem (Genesis 35:10). Die apostel Petrus word vyf verskillende name genoem—Simeon, Simon, Petrus, Sefas en Simon Petrus (Matteus 10:2; 16:16; Johannes 1:42; Handelinge 15:7, 14). Hoe kan ons seker wees dat Migael ’n ander naam vir Jesus is? Kyk na die volgende skriftuurlike bewyse.
Die Bybel bevat vyf verwysings na die magtige geesskepsel Migael. Drie daarvan kom in die boek Daniël voor. In Daniël 10:13, 21 lees ons dat ’n engel wat op ’n sending uitgestuur is, gered word deur Migael, wat “een van die vernaamste vorste” en “julle vors” genoem word. Dan lees ons in Daniël 12:1 dat “Migael, . . . die groot vors wat ten behoewe van die kinders van jou volk staan”, in die tyd van die einde sal “opstaan”.
Daar word weer na Migael verwys in Openbaring 12:7, waar daar beskryf word hoe “Migael en sy engele” ’n baie belangrike oorlog voer wat daartoe lei dat Satan die Duiwel en sy bose engele uit die hemel gewerp word.
Let daarop dat Migael in elk van die bogenoemde gevalle as ’n kryger-engel uitgebeeld word wat ten behoewe van God se volk veg en hulle beskerm en selfs Jehovah se grootste vyand, Satan, konfronteer.
In Judas vers 9 word Migael “die aartsengel” genoem. Die voorvoegsel “aarts” beteken “vernaamste” of “hoof”, en die woord “aartsengel” word nooit in die Bybel in die meervoud gebruik nie. Die enigste ander vers waarin ’n aartsengel gemeld word, is 1 Tessalonisense 4:16, waar Paulus die verrese Jesus beskryf en sê: “Die Here [Jesus] self sal uit die hemel neerdaal met ’n gebiedende roep, met ’n aartsengel se stem en met God se trompet.” Jesus Christus word dus hier geïdentifiseer as die aartsengel, of hoofengel.
Tot watter slotsom kan ons in die lig van die voorgaande kom? Jesus Christus is Migael, die aartsengel. Albei name—Migael (wat “Wie is soos God?” beteken) en Jesus (wat “Jehovah is redding” beteken)—vestig die aandag op sy rol as die vernaamste voorstander van God se soewereiniteit. Filippense 2:9 sê: “God [het] hom [die verheerlikte Jesus] tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is.”
Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus se geboorte as mens nie die begin van sy lewe was nie. Voordat Jesus gebore is, is Maria deur ’n engel besoek wat vir haar vertel het dat sy deur middel van heilige gees swanger sou word en dat sy die kind Jesus moes noem (Lukas 1:31). Gedurende sy bediening het Jesus dikwels van sy voormenslike bestaan gepraat.—Johannes 3:13; 8:23, 58.
Migael, die aartsengel, is dus Jesus in sy voormenslike bestaan. Nadat Jesus opgewek is en na die hemel teruggekeer het, het hy sy diens as Migael, die hoofengel, voortgesit “tot die heerlikheid van God die Vader”.—Filippense 2:11.