Gebed
3 Hoe?
WANNEER dit by gebed kom, vestig baie godsdienstradisies die aandag op fisiese aspekte soos liggaamsposisie, bewoording en rituele. Die Bybel help ons egter om nie op sulke dinge te konsentreer nie, maar eerder op belangriker aspekte van die vraag: “Hoe moet ons bid?”
Die Bybel beeld getroue knegte van God uit waar hulle op verskillende plekke en in verskillende posisies bid. Na gelang van die omstandighede het hulle stilswyend of hardop gebid. Hulle het na die hemel opgekyk of gekniel terwyl hulle bid. Hulle het nie beelde, krale of gebedeboeke as hulpmiddele gebruik nie, maar eerder uit die hart in hulle eie woorde gebid. Wat het hulle gebede doeltreffend gemaak?
Soos in die vorige artikel gemeld is, het hulle hulle gebede gerig tot net een God—Jehovah. Daar is nog ’n belangrike faktor. Ons lees in 1 Johannes 5:14: “Dít is die vertroue wat ons teenoor hom het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra.” Ons gebede moet in ooreenstemming met God se wil wees. Wat beteken dit?
Om in ooreenstemming met God se wil te bid, moet ons weet wat sy wil is. ’n Studie van die Bybel is dus ’n noodsaaklike aspek van gebed. Beteken dit dat God sal weier om na ons te luister tensy ons Bybelstudente is? Nee, maar God verwag dat ons sy wil moet nastreef deur dit te probeer verstaan en toe te pas (Matteus 7:21-23). Ons moet bid in ooreenstemming met wat ons leer.
Namate ons van Jehovah en sy wil leer, neem ons geloof toe—nog ’n noodsaaklike faktor by gebed. Jesus het gesê: “Alles wat julle in gebed met geloof vra, sal julle ontvang” (Matteus 21:22). Geloof beteken nie goedgelowigheid nie. Dit beteken eerder om aan iets te glo wat, hoewel dit nie sigbaar is nie, deur kragtige bewyse gesteun word (Hebreërs 11:1). Die Bybel is propvol bewyse dat Jehovah, vir wie ons nie kan sien nie, werklik bestaan, betroubaar is en gewillig is om die gebede te verhoor van dié wat geloof in hom stel. Verder kan ons altyd meer geloof vra, en Jehovah gee ons graag wat ons nodig het.—Lukas 17:5; Jakobus 1:17.
Hier is nog ’n noodsaaklike aspek van hoe om te bid. Jesus het gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Ons moet die Vader, Jehovah, dus deur middel van Jesus nader. Gevolglik het Jesus vir sy volgelinge gesê om in sy naam te bid (Johannes 14:13; 15:16). Dit beteken nie dat ons tot Jesus moet bid nie. Ons moet eerder in die naam van Jesus bid, terwyl ons in gedagte hou dat Jesus die rede is waarom ons ons volmaakte en heilige Vader kan nader.
Jesus se intiemste volgelinge het hom eenkeer gevra: “Here, leer ons hoe om te bid” (Lukas 11:1). Hulle het klaarblyklik nie gevra oor basiese aspekte soos dié wat ons so pas bespreek het nie. Hulle wou in werklikheid weet omtrent die inhoud—hulle het as ’t ware gevra: ‘Waaroor moet ons bid?’
[Lokteks op bladsy 6]
Doeltreffende gebede is in ooreenstemming met God se wil en word in geloof en in Jesus se naam gedoen