Die Bybel verander lewens
WAAROM het ’n vrou in haar 60’s afgodediens laat vaar? Wat het ’n Sjintopriester beweeg om sy werk by ’n tempel te verlaat en ’n Christenbedienaar te word? Wat het ’n vrou wat by geboorte aangeneem is, in staat gestel om gevoelens van verworpenheid te verwerk? Kyk na wat hierdie mense te sê het.
‘Ek dien nie meer afgode nie.’—ABA DANSOU
GEBORE: 1938
GEBOORTELAND: BENIN
GESKIEDENIS: AFGODEDIENAAR
MY VERLEDE: Ek het grootgeword in So-Tchahoué, ’n dorpie in ’n moerasagtige gebied naby ’n meer. Die dorpenaars vang vis en boer met beeste, bokke, skape, varke en voëls. Daar is geen paaie in die gebied nie, en daarom gebruik mense bote en kano’s as vervoermiddels. Hulle bou oor die algemeen hulle huise van hout en gras, hoewel party met bakstene bou. Die meeste mense daar is arm. Maar daar is minder misdaad as in die stede.
Toe ek ’n kind was, het my pa vir my en my suster na ’n fetisj-klooster gestuur waar ons in daardie tradisionele geloof ingewy is. Terwyl ek grootgeword het, het ek Dudua (Oduduwa) van die Joroebakultuur as my god aangeneem. Ek het ’n huis vir hierdie god gebou en gereeld offerandes van jamwortels, palmolie, slakke, hoenders, duiwe en verskeie ander diere gebring. Hierdie offerandes was duur, en ek het dikwels amper al my geld daarop uitgegee.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek die Bybel begin studeer het, het ek geleer dat Jehovah die enigste ware God is. Ek het ook geleer dat hy nie die gebruik van afgode in aanbidding goedkeur nie (Eksodus 20:4, 5; 1 Korintiërs 10:14). Ek het besef wat ek moes doen. Ek het dus al my beelde weggegooi en van alles in my huis ontslae geraak wat met afgodediens te doen gehad het. Ek het opgehou om orakels te raadpleeg en het nie meer aan plaaslike rituele en begrafnisritusse deelgeneem nie.
Dit was nie vir my—’n vrou in haar 60’s—maklik om hierdie veranderinge te maak nie. My vriende, familielede en bure het my teëgestaan en my bespot. Maar ek het tot Jehovah gebid om my die krag te gee om te doen wat reg is. Ek het vertroosting geput uit die woorde van Spreuke 18:10, wat sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.”
Nog iets wat my gehelp het, was om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Daar het ek Christelike liefde ondervind, en ek was beïndruk omdat hierdie mense volgens die Bybel se hoë sedelike standaarde probeer lewe. Wat ek gesien het, het my oortuig dat Jehovah se Getuies die ware godsdiens beoefen.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Die toepassing van Bybelbeginsels het my gehelp om my verhouding met my kinders te verbeter. Ek voel ook dat ’n las van my skouers geneem is. Voorheen het ek al my middele aan lewelose afgode bestee, wat my glad nie tot voordeel gestrek het nie. Nou aanbid ek Jehovah, wat ’n blywende oplossing bied vir al ons probleme (Openbaring 21:3, 4). Ek is so bly dat ek nie meer afgode dien nie; ek dien Jehovah! Ek het ware veiligheid en beskerming in hom gevind.
“Ek het van my kinderdae af na God gesoek.”—SJINDJI SATO
GEBORE: 1951
GEBOORTELAND: JAPAN
GESKIEDENIS: SJINTOPRIESTER
MY VERLEDE: Ek het in ’n plattelandse dorpie in Foekoeoka-prefektuur grootgeword. My ouers was baie godsdienstig; hulle het my van kleins af geleer om die Sjintogode te vereer. As ’n jong seun het ek dikwels oor my redding gedink en het ek ’n sterk begeerte gehad om mense wat probleme het, te help. Ek onthou ’n tyd op laerskool toe die onderwyser die klas gevra het wat hulle wou doen wanneer hulle groot is. My klasmaats het sekulêre doelwitte gehad, soos om ’n wetenskaplike te word. Ek het gesê dat my droom is om God te dien. Almal het vir my gelag.
Ná hoërskool het ek na ’n kollege vir godsdiensonderwysers gegaan. Terwyl ek daardie opleiding ontvang het, het ek ’n Sjintopriester ontmoet wat ’n boek met ’n swart omslag in sy vrye tyd gelees het. Eendag het hy my gevra: “Sato, weet jy wat hierdie boek is?” Ek het die omslag van die boek opgemerk, en daarom het ek geantwoord: “Die Bybel.” Hy het gesê: “Almal wat ’n Sjintopriester wil wees, moet hierdie boek lees.”
Ek het dadelik uitgegaan en ’n Bybel gekoop. Ek het die Bybel op die prominentste plek op my boekrak gesit en dit goed opgepas. Maar ek het nie tyd gemaak om dit te lees nie omdat kollegelewe my baie besig gehou het. Toe ek my kollegeopleiding voltooi het, het ek as ’n Sjintopriester by ’n tempel begin werk. My kinderdroom het waar geword.
Maar ek het gou besef dat die lewe van ’n Sjintopriester nie is wat ek verwag het dit sou wees nie. Die meeste priesters het min liefde vir of besorgdheid oor ander getoon. Baie het ook nie geloof gehad nie. Een van my meerderes het selfs vir my gesê: “As jy hier suksesvol wil wees, moet jy net oor filosofiese sake praat. Dit is verbode om oor geloof te praat.”
Sulke aanmerkings het my teleurgesteld laat voel in die Sjintogodsdiens. Hoewel ek voortgegaan het om by die tempel te werk, het ek ander godsdienste begin ondersoek. Tog het dit nie vir my gelyk asof enigeen van hulle my iets beters bied nie. Hoe meer godsdienste ek ondersoek het, hoe mismoediger het ek geraak. Ek het gevoel dat daar geen waarheid in enige godsdiens is nie.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In 1988 het ek ’n Boeddhis ontmoet wat my aangemoedig het om die Bybel te lees. Ek het aan die Sjintopriester gedink wat my jare vroeër ook aangespoor het om dit te doen. Ek het besluit om die raad te volg. Toe ek die Bybel begin lees het, het ek gou daarin verdiep geraak. Soms het ek die hele nag lank gelees totdat die oggendson deur my venster begin skyn het.
Wat ek gelees het, het die begeerte by my gewek om tot die God van die Bybel te bid. Ek het by die modelgebed in Matteus 6:9-13 begin. Ek het hierdie gebed elke twee uur herhaal—selfs terwyl ek by die Sjintotempel gewerk het.
Ek het baie vrae gehad oor wat ek gelees het. Teen hierdie tyd was ek getroud, en ek het geweet dat Jehovah se Getuies mense oor die Bybel leer, want hulle het my vrou al in die verlede besoek. Ek het een van die Getuies opgesoek en haar baie vrae gevra. Ek was beïndruk toe sy die Bybel gebruik het om elkeen van my vrae te beantwoord. Sy het gereël dat die Getuies die Bybel met my studeer.
Kort daarna het ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Ek het dit nie toe besef nie, maar onder die Getuies wat teenwoordig was, was daar party teenoor wie ek in die verlede baie onbeskof was. Hulle het my nogtans hartlik gegroet en my welkom laat voel.
By daardie vergaderinge het ek geleer dat God van mans verwag om liefde en eer aan hulle gesinslede te betoon. Tot op daardie stadium het ek soveel aandag aan my werk as priester geskenk dat ek my vrou en ons twee kinders verwaarloos het. Ek het besef dat ek aandagtig geluister het na mense wat na die tempel gekom het om te aanbid, maar dat ek nooit na my vrou geluister het nie.
Namate ek in my studie gevorder het, het ek baie dinge oor Jehovah geleer wat my na hom toe aangetrek het. Ek is diep geraak deur tekste soos Romeine 10:13, wat sê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” Ek het van my kinderdae af na God gesoek, en uiteindelik het ek hom gevind!
Ek het begin voel dat ek nie meer by die tempel hoort nie. Aan die begin was ek besorg oor wat ander sou dink as ek die Sjintogodsdiens verlaat. Maar ek het altyd vir myself gesê dat ek dit sal doen as ek die ware God êrens anders vind. Ek het dus in die lente van 1989 besluit om my gewete te volg. Ek het die tempel verlaat en ten volle op Jehovah vertrou.
Dit was nie maklik om die tempel te verlaat nie. My meerderes het my gekritiseer en druk op my geplaas om te bly. Maar dit was selfs moeiliker om my ouers te vertel. Op pad na hulle huis toe was ek so oorweldig deur angs dat my bors gepyn het en my bene soos noedels gevoel het! Ek het baie keer op pad soontoe stilgehou om tot Jehovah vir krag te bid.
Toe ek by my ouers se huis aankom, was ek eers te bang om die onderwerp aan te roer. Ure het verbygegaan. Uiteindelik, nadat ek baie gebid het, het ek alles aan my pa verduidelik. Ek het vir hom gesê dat ek die ware God gevind het en dat ek die Sjintogodsdiens gaan verlaat sodat ek Hom kan dien. My pa was geskok en hartseer. Ander familielede het na die huis toe gekom en het probeer om my van plan te laat verander. Ek wou my familie nie seermaak nie, maar terselfdertyd het ek geweet dat om Jehovah te dien die regte ding is om te doen. Met verloop van tyd het my familie my begin respekteer vir my besluit.
Dit was een ding om die tempel fisies te verlaat; dit was iets heeltemal anders om dit verstandelik te verlaat. Die lewe van ’n priester was ’n diepgewortelde deel van my. Ek het hard probeer om daarvan te vergeet, maar dit het gelyk of daar oral herinneringe aan my vorige lewe was.
Twee dinge het my gehelp om van hierdie invloede ontslae te raak. Eerstens, ek het my huis deeglik deursoek vir enigiets wat met my vorige godsdiens verband gehou het. Toe het ek dit alles verbrand—boeke, prente en selfs duur aandenkings. Tweedens, ek het soveel as moontlik met die Getuies probeer assosieer. Hulle vriendskap en ondersteuning het my baie gehelp. Bietjie vir bietjie het die herinneringe aan my vorige lewe vervaag.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het voorheen my vrou en kinders verwaarloos, wat hulle baie eensaam laat voel het. Maar toe ek tyd saam met hulle begin deurbring het, soos die Bybel mans leer om te doen, het ons nader aan mekaar gekom. Mettertyd het my vrou Jehovah saam met my begin dien. Ons is nou saam met ons seun, ons dogter en haar man in ware aanbidding verenig.
Wanneer ek terugdink aan my kinderdroom om God te dien en ander te help, besef ek dat ek alles gevind het waarna ek op soek was—en nog meer. Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ek teenoor Jehovah is nie.
‘Ek het geweet dat iets ontbreek.’—LYNETTE HOUGHTING
GEBORE: 1958
GEBOORTELAND: SUID-AFRIKA
GESKIEDENIS: GEVOELENS VAN VERWORPENHEID
MY VERLEDE: Ek is gebore in Germiston, ’n middelklasmyndorp sonder baie misdaad. My ouers het gevoel dat hulle nie vir my kon sorg nie en het besluit om my te laat aanneem. Ek was net 14 dae oud toe ek aangeneem is deur ’n liefdevolle egpaar wat ek as my ma en pa aanvaar het. Maar nadat ek van my verlede uitgevind het, het ek met gevoelens van verworpenheid geworstel. Ek het begin voel dat ek nie aan my aanneemouers behoort nie en dat hulle my nie regtig verstaan nie.
Toe ek omtrent 16 was, het ek na skemerkroeë begin gaan, waar ek en my vriende gedans en na musiek geluister het. Toe ek 17 was, het ek begin rook. Ek wou maer wees, soos die modelle wat ek in sigaretadvertensies gesien het. Toe ek 19 geword het, het ek in Johannesburg begin werk, waar ek gou met die verkeerde mense deurmekaargeraak het. Kort voor lank het ek begin vloek, baie gerook en oor die naweke straf gedrink.
Ek was nietemin fisies redelik aktief. Ek het gereeld aërobiese oefeninge gedoen en muurbal en vrouesokker gespeel. Ek het my ook op my loopbaan toegespits en vir my ’n naam in die rekenaarbedryf gemaak. Gevolglik was ek finansieel goed daaraan toe en het baie mense my as suksesvol beskou. Maar ek was eintlik baie ongelukkig—verlore en teleurgesteld met my lewe. Diep binne-in my het ek geweet dat iets ontbreek.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek die Bybel begin studeer het, het ek geleer dat Jehovah ’n God van liefde is. Ek het ook geleer dat hy daardie liefde getoon het deur ons sy Woord, die Bybel, te gee. Dit is asof hy vir ons ’n persoonlike brief geskryf het om ons voetstappe te rig (Jesaja 48:17, 18). Ek het besef dat ek ’n paar groot veranderinge in my lewe moes maak om by Jehovah se liefdevolle leiding baat te vind.
Een verandering wat ek moes maak, was my assosiasie. Ek het die woorde van Spreuke 13:20 ter harte geneem, wat sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.” Hierdie beginsel het my gemotiveer om my ou vriende agter te laat en nuwe vriende onder Jehovah se Getuies te maak.
My grootste uitdaging was om op te hou rook; ek was baie verslaaf daaraan. Terwyl ek hierdie struikelblok geleidelik oorkom het, het ek voor ’n ander uitdaging te staan gekom. Toe ek opgehou rook het, het ek 13 kilogram aangesit! Dit was ’n groot knou vir my eiewaarde, en dit het my amper tien jaar geneem om die oortollige gewig te verloor. Maar ek het geweet dat dit die regte besluit was om op te hou rook. Ek het voortdurend tot Jehovah gebid, en hy het my die krag gegee om suksesvol te wees.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Nou geniet ek beter gesondheid. Ek is ook vergenoeg—ek streef nie meer die ontwykende geluk na wat ’n sekulêre loopbaan, status en rykdom belowe nie. Ek put eerder genot daaruit om Bybelwaarhede aan ander te leer. Gevolglik dien drie van my voormalige kollegas Jehovah nou saam met my en my man. Voordat elk van my aanneemouers gesterf het, kon ek vir hulle van die Bybel se belofte van ’n opstanding op die paradysaarde vertel.
Die feit dat ek nader aan Jehovah gekom het, het my gehelp om my gevoelens van verworpenheid te verwerk. Hy het my die gevoel gegee dat ek iewers hoort deur my deel te maak van ’n wêreldwye gesin van medegelowiges. Onder hulle het ek baie moeders, vaders, broers en susters.—Markus 10:29, 30.
[Prent op bladsy 12]
Onder Jehovah se Getuies ervaar ek Christelike liefde
[Prent op bladsy 13]
Die Sjintotempel waar ek vroeër aanbid het