Het jy geweet?
Hoe het Joodse godsdiensleiers van Jesus se dag die gewone mense beskou?
▪ In die eerste eeu HJ het die maatskaplike en godsdienshiërargie van Israel mense verag wat min of geen geleerdheid gehad het nie. Die Fariseërs word soos volg aangehaal: “Hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense.”—Johannes 7:49.
Nie-Bybelse bronne toon dat die bevoorregte klasse minagtend na die onopgevoede volksmassa as ʽam ha·ʼaʹrets, of “mense van die land”, verwys het. Dit was oorspronklik ’n frase wat respek vir inwoners van ’n spesifieke gebied aangedui het. Dit het nie net na die armes en die geringes verwys nie, maar ook na die vooraanstaandes.—Genesis 23:7, voetnoot in NW; 2 Konings 23:35; Esegiël 22:29.
Maar teen Jesus se dag is die frase gebruik om neerhalend te verwys na diegene wat volgens die godsdiensleiers onkundig was oor die Mosaïese Wet of wat nie die menigte klein reëls van die rabbynse tradisies gevolg het nie. Die Misjna (’n versameling kommentare wat die grondslag van die Talmoed geword het) waarsku daarteen om in die huise van ʽam ha·ʼaʹrets tuis te gaan. Volgens The Encyclopedia of Talmudic Sages het die tweede-eeuse geleerde rabbi Meir geleer: “Wanneer ’n man sy dogter aan ’n am ha’aretz in die huwelik gee, is dit asof hy haar vasbind en voor ’n leeu plaas wat op sy slagoffer trap voordat hy haar verslind.” Die Talmoed haal ’n ander rabbi aan wat blykbaar gesê het dat “onopgevoede mense nie opgewek sal word nie”.
Waarna verwys die naam Caesar, wat as keiser in die Bybel vertaal word?
▪ Caesar was die Romeinse familienaam van Gaius Julius Caesar, wat in 46 VHJ as diktator van Rome aangestel is. Later het ’n hele paar ander Romeinse keisers die naam Caesar aangeneem, onder meer drie wat by name in die Bybel genoem word—Augustus, Tiberius en Claudius.—Lukas 2:1; 3:1; Handelinge 11:28.
In 14 HJ het Tiberius keiser geword en gedurende die hele tydperk van Jesus se bediening geheers. Hy was dus die keiser aan bewind toe Jesus, in antwoord op ’n vraag oor die betaling van belasting, gesê het: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17). Jesus het klaarblyklik nie sy antwoord tot Tiberius beperk nie. Die “keiser” het eerder die burgerlike owerheid, die Staat, gesimboliseer.
Omstreeks 58 HJ, toe die apostel Paulus met ’n moontlike regsdwaling te kampe gehad het, het hy sy reg as ’n Romeinse burger uitgeoefen om hom op die keiser te beroep (Handelinge 25:8-11). Deur dit te doen, het Paulus nie gevra om spesifiek deur Nero, die destydse keiser, geoordeel te word nie, maar deur die hoogste hof van die ryk.
Die familienaam Caesar het so nou verbonde geraak met opperheerskappy dat die naam selfs ná die einde van die Caesar-dinastie nog steeds as ’n koninklike titel gebruik is.
[Prent op bladsy 29]
Silwerdenarius met ’n inskripsie van Tiberius