Leer uit God se Woord
Waarom het God ’n organisasie?
Hierdie artikel opper vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.
1. Waarom het God die Israeliete georganiseer?
God het die nakomelinge van die aartsvader Abraham in ’n nasie georganiseer en hulle ’n versameling wette gegee. Hy het die nasie Israel genoem en dit as die bewaarder van ware aanbidding en van sy Woord, die Heilige Skrif, aangestel (Psalm 147:19, 20). Hierdeur is mense van alle nasies bevoordeel.—Lees Genesis 22:18.
God het die Israeliete gekies om sy getuies te wees. Wanneer hulle gehoorsaam was, het hulle by God se wette baat gevind (Deuteronomium 4:6). Deur die geskiedenis van die Israeliete te bestudeer, kan ons meer aangaande die ware God leer.—Lees Jesaja 43:10, 12.
2. Waarom is ware Christene georganiseer?
Met verloop van tyd het Israel God se guns verloor en het Jehovah daardie nasie met die Christengemeente vervang (Matteus 21:43; 23:37, 38). Vroeër was die Israeliete getuies van God. Nou dien ware Christene as Jehovah se getuies.—Lees Handelinge 15:14, 17.
Jesus het sy volgelinge georganiseer om oor Jehovah te getuig en om dissipels in alle nasies te maak (Matteus 10:7, 11; 24:14; 28:19, 20). Dié werk bereik nou sy klimaks. Vir die eerste keer het Jehovah miljoene mense uit alle nasies in ware aanbidding verenig (Openbaring 7:9, 10). Ware Christene is ook georganiseer sodat hulle mekaar kan aanmoedig en help. Hulle geniet wêreldwyd dieselfde Bybelonderrigprogram by hulle vergaderinge.—Lees Hebreërs 10:24, 25.
3. Hoe het Jehovah se Getuies in moderne tye begin?
Die hedendaagse organisasie van Jehovah se Getuies het in die 1870’s sy begin gehad. ’n Klein groepie Bybelstudente het Bybelwaarhede wat lank vergete was, begin herontdek. Hulle het geweet dat Jesus die Christengemeente georganiseer het om te preek. Hulle het dus met ’n internasionale Koninkrykspredikingsveldtog begin. In 1931 het hulle die naam Jehovah se Getuies aangeneem.—Lees Handelinge 1:8; 2:1, 4; 5:42.
4. Hoe word Jehovah se Getuies vandag georganiseer?
In die eerste eeu het die Christengemeentes in talle lande baat gevind by die leiding van ’n sentrale bestuursliggaam wat Jesus as die Hoof van die gemeente erken het (Handelinge 16:4, 5). Net so erken Jehovah se Getuies vandag Jesus as hulle Leier (Matteus 23:9, 10). Hulle vind ook baat by die leiding van ’n Bestuursliggaam van ervare ouer manne wat skriftuurlike aanmoediging en leiding vir meer as 100 000 gemeentes voorsien. In elke gemeente dien bekwame manne as ouere manne, of opsieners. Hierdie manne sorg liefdevol vir God se kudde.—Lees 1 Petrus 5:2, 3.
Jehovah se Getuies is georganiseer om die goeie nuus te verkondig en om dissipels te maak. Hulle vertaal, druk en versprei Bybelstudiemateriaal in meer as 500 tale om mense regoor die wêreld te help. Soos die apostels, preek hulle van huis tot huis (Handelinge 20:20). Hulle bied aan om die Bybel persoonlik met opregte liefhebbers van waarheid te studeer. Aangesien Jehovah se knegte hulle daarop toelê om God te behaag en ander te help, is hulle ’n organisasie van gelukkige mense.—Lees Psalm 33:12; Handelinge 20:35.
Vir meer inligting, sien hoofstuk 19 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.