Uit ons argief
Op reis saam met die pelgrims
“EK KAN eenvoudig nie van deur tot deur gaan nie!” Hoeveel nuwe Bybelstudente het nie al so gevoel oor die vooruitsig om vir vreemdelinge te preek nie! Hierdie beswaar het egter gekom van ’n ervare openbare spreker en Bybelonderrigter wat ’n pelgrim genoem is.
Baie lesers van Zion’s Watch Tower wat hulle kerk verlaat het, het gesmag na omgang met dié wat ook na Bybelwaarhede gedors het. Die tydskrif het sy lesers aangespoor om ander wat dieselfde kosbare geloof het, op te soek en gereeld bymekaar te kom vir Bybelstudie. In ongeveer 1894 het die Wagtoringgenootskap reisende verteenwoordigers begin uitstuur om met groepe te vergader wat ’n besoek aangevra het. Hierdie ervare, hardwerkende mans, wat later pelgrims genoem is, is gekies weens hulle sagmoedigheid, Bybelkennis, goeie spreek- en onderrigvermoë en getrouheid aan die losprys. ’n Tipiese besoek het net een of twee besige dae geduur. Baie Bybelstudente het vir die eerste keer velddiens gedoen toe hulle strooibiljette vir ’n pelgrim se openbare toespraak versprei het. Ná ’n toespraak wat hy een aand in ’n skool gehou het, het Hugo Riemer, wat later ’n lid van die Bestuursliggaam geword het, tot ná middernag Bybelvrae beantwoord. Hy was moeg maar gelukkig en het gesê dat die vergadering “pragtig” was.
Volgens die Watch Tower was die “hoofdoel” van die pelgrims se besoeke om die “huisgenote van die geloof” deur middel van vergaderinge in die huise van gelowiges op te bou. Bybelstudente van omliggende gebiede het vir die toesprake en vraag-en-antwoord-sessies gekom. Daarna was dit tyd vir Christelike gasvryheid. Maude Abbott het as kind ’n oggendtoespraak bygewoon, waarna almal om ’n lang tafel in die tuin bymekaargekom het. “Daar was soveel wonderlike kos—plaasham, gebraaide hoender, allerhande soorte brood, pastei en koek! Almal het hulle trommeldik geëet, en omstreeks tweeuur het ons vir nog ’n toespraak vergader.” Maar sy erken: “Teen daardie tyd was almal half aan die slaap.” Benjamin Barton, wat lank as ’n pelgrim gedien het, het eenkeer gesê: ‘As ek al die ryk kos geëet het wat bedien is, sou ek my pelgrimstog lankal voltooi het.’ ’n Brief van die hoofkwartier in Brooklyn het uiteindelik vir welmenende susters gesê dat dit vir almal beter sou wees om vir die pelgrim eerder net “alledaagse, gewone kos” en “ongestoorde slaap” aan te bied.
Die pelgrims was uitstekende onderrigters en het goed gebruik gemaak van grafieke, modelle of enigiets wat hulle in die hande kon kry om hulle onderwerp te laat lewe. R.H. Barber se toesprake “was altyd soos ’n geurige feesmaal”. Die vaderlike W.J. Thorn het “soos ’n aartsvader van ouds” gepraat. Terwyl Shield Toutjian eendag in ’n Model A-Ford gery het, het hy skielik uitgeroep: “Hou stil!” Hy het uit die motor gespring, ’n paar veldblomme gepluk en spontaan vir sy metgeselle ’n les oor Jehovah se skepping gegee.
Die veeleisende werk van die pelgrims het baie uitdagings gebied, veral vir dié wat middeljarig of ouer was. Maar vir sommige was die grootste toets dat hulle hulle op ’n ander aspek van die werk moes toespits. Daar is nou van hulle verwag om die leiding in die predikingswerk van huis tot huis te neem. Die Watch Tower van 15 Maart 1924 het gesê dat “een van die vernaamste opdragte” van ware Christene “is om van die koninkryk te getuig. Pelgrims word met dié doel uitgestuur.”
Sekere pelgrims het blykbaar nie van die verandering gehou nie, want hulle het die reisende werk verlaat, en party ontevredenes het selfs hulle eie godsdiensgroep gestig. Robie D. Adkins het vertel dat een pelgrim wat ’n uitstekende spreker was, bitterlik gekla het: “Ek weet net hoe om van die verhoog af te preek. Ek kan eenvoudig nie van deur tot deur gaan nie!” Broer Adkins het vertel: “Ek het hom weer by die streekbyeenkoms van 1924 in Columbus, Ohio, gesien. Hy het na die ongelukkigste persoon daar gelyk, terwyl hy alleen in die skaduwee van ’n boompie gestaan het, troosteloos tussen duisende vreugdevolle broers. Ek het hom nooit weer gesien nie. Hy het kort daarna die organisasie verlaat.” Daarenteen het “talle vreugdevolle broers met boeke verbygeloop, op pad na hulle motors toe”, en dit was duidelik dat hulle gretig was om van huis tot huis te gaan getuig.—Hand. 20:20, 21.
Baie pelgrims het hulle met hart en siel op hulle werk toegelê, al was hulle dalk net so senuweeagtig as diegene wat hulle gestuur is om op te lei. Aangaande die predikingswerk van huis tot huis het die Duitssprekende pelgrim Maxwell G. Friend (Freschel) geskryf: “Hierdie aspek van die pelgrimswerk dra by tot die seëninge van die reis.” Die pelgrim John A. Bohnet het gesê dat die broers oor die algemeen die klem wat op die Koninkrykspredikingswerk gelê is, hartlik goedgekeur het. Volgens hom was die oorgrote meerderheid “vol vurige ywer om in die voorste geledere van die stryd te wees”.
Oor die jare heen was getroue reisende broers ’n krag ten goede. “Die pelgrims was beslis van groot waarde en hulp, iets wat ek selfs as seun opgemerk het”, het Norman Larson gesê, wat al lank ’n Getuie is. “Hulle het grootliks gehelp om my te vorm.” Vandag nog help sulke selfopofferende en lojale reisende opsieners medegelowiges om te sê: “Ons kan van deur tot deur gaan!”
[Lokteks op bladsy 32]
Dit was ’n gelukkige dag wanneer die pelgrim gekom het!
[Prent op bladsy 31]
Volgens Benjamin Barton se reisplan van 1905 het hy sowat 170 plekke besoek
[Prent op bladsy 32]
Walter J. Thorn was ’n pelgrim wat liefdevol Pappie genoem is weens sy vaderlike, Christelike geaardheid
[Prent op bladsy 32]
J.A. Browne is in ongeveer 1902 as ’n pelgrim na Jamaika gestuur om 14 groepies te versterk en aan te moedig
[Prent op bladsy 32]
Die pelgrimswerk het geloof opgebou, Christelike eenheid versterk en die broers nader aan die organisasie gebring