Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w12 11/1 bl. 8-9
  • Vraag 3: Waarom laat God toe dat ek ly?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vraag 3: Waarom laat God toe dat ek ly?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat sê die Bybel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak! – 2020
  • Wat die Bybel oor lyding sê
    Ontwaak!—2015
  • Waarom is daar soveel lyding as die Skepper vir ons omgee?
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
w12 11/1 bl. 8-9

Vraag 3: Waarom laat God toe dat ek ly?

IAN se pa was ’n strawwe drinker. Hoewel Ian materieel niks kortgekom het terwyl hy grootgeword het nie, het hy nie die emosionele ondersteuning ontvang wat hy graag van sy pa wou hê nie. “Ek was nooit baie lief vir hom nie, hoofsaaklik weens sy drankprobleem en die manier waarop hy my ma behandel het”, sê Ian. Toe Ian ouer geword het, het hy die bestaan van God begin bevraagteken. “‘As God werklik bestaan’, het ek geredeneer, ‘waarom laat hy toe dat mense ly?’”

Waarom vra mense hierdie vraag?

Al het jy nie baie probleme in jou lewe nie, druis dit dalk baie sterk in teen jou sin vir geregtigheid wanneer jy onskuldige mense sien ly. Maar die vraag oor lyding is uiters relevant as jy, soos Ian, ontberinge verduur of as ’n geliefde siek word of sterf.

Wat sê party is die antwoord?

Party mense glo dat God lyding toelaat om ons nederigheid en medelye te leer. Ander meen dat mense in hierdie lewe ly as gevolg van sondes wat hulle in ’n vorige lewe gepleeg het.

Wat gee hierdie antwoorde te kenne?

God het geen simpatie met menselyding nie, wat dit moeilik maak om hom lief te hê. God is wreed.

Wat leer die Bybel?

Die Bybel sê uitdruklik dat God nie vir menselyding verantwoordelik is nie. “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Trouens, die gedagte dat God verantwoordelik is vir lyding, is in stryd met die manier waarop die Bybel God se persoonlikheid beskryf. Hoe so?

Een van God se vernaamste eienskappe is liefde (1 Johannes 4:8). Om hierdie gedagte te beklemtoon, vergelyk die Bybel God se gevoelens met dié van ’n sogende moeder. “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie?”, vra God. “Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie” (Jesaja 49:15). Kan jy jou voorstel dat ’n liefdevolle moeder haar kind opsetlik seermaak? Nee, ’n liefdevolle ouer sal ’n kind se lyding eerder probeer verlig. So ook is God nie die oorsaak van onskuldige mense se lyding nie.—Genesis 18:25.

En tog ly onskuldig mense. Jy wonder dalk: ‘As God vir ons omgee en almagtig is, waarom verwyder hy nie die oorsake van lyding nie?’

God het goeie redes waarom hy lyding tans toelaat. Kyk na net een daarvan: Mense veroorsaak dikwels ander se lyding. Baie bullebakke en tiranne wat mense seermaak, is nie bereid om hulle weë te verander nie. God sal sulke mense dus moet vernietig om ’n vername oorsaak van lyding te verwyder.

Die apostel Petrus het verduidelik waarom God nog nie kwaaddoeners vernietig het nie en het geskryf: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Jehovah God se geduld is ’n blyk van sy liefdevolle en barmhartige persoonlikheid.

Maar Jehovah God sal binnekort optree. Hy sal ‘verdrukking vergeld aan dié wat verdrukking veroorsaak’ vir die onskuldiges. Diegene wat onregverdige lyding veroorsaak, sal “as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan”.—2 Tessalonisense 1:6-9.

Ian, wat vroeër aangehaal is, het bevredigende antwoorde op sy vrae oor lyding gevind. Wat hy geleer het, het sy beskouing van die lewe verander. Lees sy verhaal in die volgende artikel met die titel “Die Bybel verander lewens”.

Om meer uit te vind oor die redes waarom God lyding toelaat en wat hy daaromtrent sal doen, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik? Dit kan afgelaai word van www.jw.org/af

Wat het Jesus oor lyding gesê?

Jesus het nie God die skuld gegee vir die lyding om hom nie. Hy het eerder die volgende gedoen.

Jesus het getoon dat God nie onskuldige mense straf deur hulle te laat ly nie. Jesus het die siekes, kreupeles en blindes genees (Matteus 15:30). Die wonderwerke wat hy verrig het, leer ons twee belangrike waarhede: Eerstens, Jesus het God se krag gebruik om lyding te verlig, nie om lyding te veroorsaak nie. Tweedens, Jesus het simpatie gehad vir die mense wat hy genees het. Toe hy mense sien ly het, is hy deur “innige jammerte” vir hulle beweeg (Matteus 20:29-34). Jesus het sy Vader se gevoelens oor lyding volmaak weerspieël. Ons leer dus uit Jesus se woorde en dade dat God bedroef word deur die pyn wat Hy sien en dat Hy dit wil verlig.—Johannes 14:7, 9.

Jesus het die ware oorsaak van baie menselyding geïdentifiseer—Satan die Duiwel. Jesus het gesê: “Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het” (Johannes 8:44). Jesus het Satan die Duiwel ook beskryf as “die heerser van hierdie wêreld” en die een wat “die hele bewoonde aarde mislei”.—Johannes 12:31; Openbaring 12:9.

Jesus het ons die hoop gegee dat ’n tyd sal aanbreek wanneer alle lyding tot ’n einde sal kom. Hy het sy volgelinge leer bid: “Ons Vader in die hemele, . . . laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Wanneer God se Koninkryk kom, sal daar nie meer lyding op die aarde wees nie, net soos daar nie lyding in die hemel is nie.

In ’n openbaring wat hy aan die apostel Johannes gegee het, het Jesus beskryf watter soort lewe diegene sal geniet wat onder God se Koninkryk lewe. In daardie tyd sal God “elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 1:1; 21:3, 4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel