KOM NADER AAN GOD
“Hy is die God . . . van die lewendes”
Is die dood sterker as God? Natuurlik nie! Hoe kan die dood—of enige ander “vyand”—sterker wees as “God die Almagtige”? (1 Korintiërs 15:26; Eksodus 6:3). God het die mag om die dood deur middel van die opstanding ongedaan te maak, en hy belowe om juis dit in sy nuwe wêreld te doen.a Hoe betroubaar is hierdie belofte? God se Seun, Jesus, beantwoord hierdie vraag op ’n manier wat ons hart met hoop kan vervul.—Lees Matteus 22:31, 32.
Jesus het vir die Sadduseërs, wat nie in die opstanding geglo het nie, gesê: “Wat die opstanding van die dooies betref, het julle nie gelees wat God tot julle gespreek het nie, toe hy gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’? Hy is die God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes.” Jesus het hier verwys na die gesprek wat God omstreeks 1514 VHJ met Moses by die brandende bos gevoer het (Eksodus 3:1-6). Volgens Jesus toon Jehovah se woorde aan Moses—“Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob”—dat die belofte van die opstanding beslis vervul sal word. Hoe so?
Kyk eers na die konteks. Toe Jehovah met Moses gepraat het, was die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob lankal dood—Abraham al 329 jaar, Isak 224 jaar en Jakob 197 jaar. Maar Jehovah het gesê “ek is” hulle God—nie “ek was” hulle God nie. Jehovah het van hierdie drie aartsvaders, wat dood was, gepraat asof hulle nog lewe. Waarom?
Jesus het verduidelik: “Hy [Jehovah] is die God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes.” Dink ’n bietjie aan wat hierdie woorde impliseer. As daar geen opstanding is nie, dan sal Abraham, Isak en Jakob vir ewig in die kloue van die dood vasgevang bly. As dit die geval was, sou Jehovah die God van lyke wees. Dit sou dan weer beteken dat die dood sterker is as Jehovah—asof hy te swak is om sy getroue knegte uit die dood te bevry.
Wat sê dit dus vir ons oor Abraham, Isak, Jakob en al die getroue knegte van Jehovah wat gesterf het? Jesus het hierdie kragtige stelling gemaak: “Vir hom lewe hulle almal” (Lukas 20:38). Ja, die vervulling van Jehovah se voorneme om sy getroue knegte uit die dood op te wek, is so seker dat hulle volgens hom lewe (Romeine 4:16, 17). Jehovah sal al hierdie persone in sy onbeperkte geheue bewaar tot sy vasgestelde tyd om hulle weer lewend te maak.
Jehovah is oneindig sterker as die dood
Vind jy die vooruitsig om herenig te word met ’n afgestorwe geliefde aanloklik? Indien wel, moet jy onthou dat Jehovah oneindig sterker is as die dood. Niks kan keer dat hy sy belofte om die dooies op te wek, sal vervul nie. Jy kan gerus meer leer omtrent die belofte van die opstanding en die God wat dit sal vervul. Dit sal jou beslis nader laat kom aan Jehovah, “die God . . . van die lewendes”.
Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Februarie
a Om meer te leer oor God se belofte van ’n opstanding tot lewe in ’n regverdige nuwe wêreld, sien hoofstuk 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.