HET JY GEWEET?
Waarom is misdadigers se bene gebreek wanneer hulle tereggestel is?
Die Evangelieverslag sê aangaande die teregstelling van Jesus en twee misdadigers aan folterpale: “Die Jode [het] Pilatus versoek om hulle bene te laat breek en die liggame te laat wegneem.”—Johannes 19:31.
Die Joodse wet het bepaal dat die lyk van ’n tereggestelde misdadiger wat aan ’n paal gehang is, “nie die hele nag aan die paal [mag] bly hang nie” (Deuteronomium 21:22, 23). Die Jode het blykbaar dieselfde reël toegepas wanneer die Romeine iemand aan ’n paal tereggestel het. In die bogenoemde geval is die misdadigers se bene gebreek om hulle dood te bespoedig sodat hulle begrawe kon word voordat die Sabbat teen sononder begin het.
Gedurende baie van hierdie teregstellings is ’n veroordeelde aan ’n paal genael deur spykers deur sy hande en voete te kap. Wanneer die paal regop getel is, het die persoon verskriklike pyn verduur omdat hy dan met sy hele gewig aan die spykers gehang het. Om asem te haal, moes hy hom teen die spyker, of spykers, in sy voete opstoot. Maar hy sou dit glad nie kon doen as sy bene gebreek was nie. Hy het dan gou gesterf weens versmoring—of selfs weens skok.
Hoe is slingers in eertydse oorlogvoering gebruik?
Dawid het ’n slinger as wapen gebruik om die reus Goliat dood te maak. Dawid het blykbaar gedurende sy jare as ’n herderseun geleer om hierdie wapen te gebruik.—1 Samuel 17:40-50.
Slingers word uitgebeeld in Egiptiese sowel as Assiriese kuns uit Bybeltye. Hierdie wapen het bestaan uit ’n strook leer of lap waaraan twee rieme of toue vas was. Die slingeraar het ’n gladde of ronde klip wat 5 tot 7,5 sentimeter in deursnee was en moontlik 250 gram geweeg het, in die slinger gesit. Hy het dan die slinger bokant sy kop geswaai en een van die toue laat los sodat die klip baie vinnig en akkuraat weggeskiet is.
Tydens opgrawings in die Midde-Ooste is baie slingerklippe gevind wat in eertydse oorloë gebruik is. Ervare krygsmanne het klippe moontlik teen ’n snelheid van 160 tot 240 kilometer per uur geslinger. Geleerdes stem nie saam oor die vraag of ’n slinger dieselfde trefafstand as ’n boog gehad het nie, maar ’n slinger kon beslis net so dodelik wees.—Rigters 20:16.