VRAE VAN LESERS
Is verassing vir Christene aanvaarbaar?
Daar is geen aanduiding in die Skrif dat verassing verkeerd is nie.
Daar is Bybelverslae wat toon dat die liggame of beendere van dooie mense verbrand is (Jos. 7:25; 2 Kron. 34:4, 5). Dit was moontlik ’n aanduiding dat daardie mense blykbaar nie waardig geag is om ’n behoorlike begrafnis te hê nie. Maar dit was nie altyd die geval as iemand veras is nie.
Ons kan dit sien uit die verslag van die dood van koning Saul en sy drie seuns. Hulle vier is dood terwyl hulle teen die Filistyne geveg het. Jonatan, ’n goeie vriend en lojale ondersteuner van Dawid, was een van die seuns. Toe dapper Israeliete wat in Jabes-Gilead gewoon het, uitgevind het wat gebeur het, het hulle die vier lyke gaan haal, dit verbrand en toe die beendere begrawe. Dawid het daardie Israeliete later vir hulle optrede geprys.—1 Sam. 31:2, 8-13; 2 Sam. 2:4-6.
Die Bybelse hoop vir die dooies is die opstanding—wanneer God die persoon opwek. Hetsy ’n dooie persoon veras word of nie, dit beperk nie Jehovah se vermoë om die persoon met ’n nuwe liggaam op te wek nie. Die drie getroue Hebreërs wat weens Nebukadnesar se bevel in ’n vuuroond doodgemaak sou word, het geen rede gehad om te vrees dat God hulle nie sou kon opwek as hulle so sou sterf nie (Dan. 3:16-18). Dit was ook die geval met getroue knegte van Jehovah wat die dood in Nazi-konsentrasiekampe in die gesig gestaar het en wie se liggame daarna veras sou word. Talle lojale knegte van God het omgekom in ontploffings of op ander maniere sodat daar geen oorskot was nie. Maar hulle opstanding is seker.—Op. 20:13.
Jehovah hoef nie ’n persoon se liggaam weer aanmekaar te sit om hom op te wek nie. Dit blyk duidelik uit die feit dat God gesalfde Christene tot hemelse lewe opwek. Soos Jesus, wat “lewend gemaak is in die gees”, word gesalfde Christene as dieselfde persoon, maar met ’n geesliggaam, opgewek. Geen deel van hulle fisiese liggaam gaan saam met hulle hemel toe nie.—1 Pet. 3:18; 1 Kor. 15:42-53; 1 Joh. 3:2.
Ons hoop op ’n opstanding is nie gegrond op wat met die fisiese lyk gebeur nie, maar op geloof in God se vermoë en begeerte om sy beloftes te vervul (Hand. 24:15). Ons verstaan dalk wel nie ten volle hoe God mense in die verlede wonderbaarlik opgewek het of hoe hy dit in die toekoms sal doen nie. Maar ons stel ons vertroue in Jehovah. Hy het “’n waarborg” verskaf deurdat hy Jesus opgewek het.—Hand. 17:31; Luk. 24:2, 3.
Dit sal verstandig wees van Christene om die sosiale norme, plaaslike beskouings en wetlike vereistes aangaande die verwydering van dooie liggame in ag te neem (2 Kor. 6:3, 4). Of die liggaam van ’n oorledene veras moet word of nie, is dan ’n persoonlike besluit.