HET JY GEWEET?
Hoe is boekrolle in Bybeltye gemaak en gebruik?
Die Evangelie van Lukas sê dat Jesus die boekrol van Jesaja oopgemaak het, daaruit gelees het en dit toe weer opgerol het. Aan die einde van Johannes se Evangelie praat Johannes ook van ’n boekrol en sê hy dat hy nie al die tekens wat Jesus gedoen het, in sy boekrol kon opteken nie.—Lukas 4:16-20; Johannes 20:30; 21:25.
Hoe is boekrolle gemaak? Stukke van materiale soos leer, perkament of papirus is aan mekaar geplak om ’n lang strook te vorm. Dan kon dit op ’n staaf opgerol word, met die geskrewe kant na binne. Die skrif is gegroepeer in kort, vertikale kolomme oor die lengte van die rol. As die boekrol lank was, het dit stawe aan albei kante gehad. Die leser kon die boekrol met een hand ooprol terwyl hy dit met die ander hand oprol, totdat hy die regte plek gevind het.
Volgens The Anchor Bible Dictionary was een van die voordele van ’n boekrol dat dit lank genoeg was (dikwels sowat 10 meter) dat ’n hele boek daarop kon pas en min plek opgeneem het nadat dit opgerol is. Daar word byvoorbeeld geskat dat ’n rol van ongeveer 9,5 meter vir die Evangelie van Lukas nodig sou wees. Partykeer is die boonste en onderste rante van ’n boekrol netjies geknip, met puimsteen glad gevryf en gekleur.
Wie was moontlik die “hoofpriesters” wat in die Christelike Griekse Geskrifte gemeld word?
Vanaf die begin van Israel se priesterdom het slegs een man op ’n slag as hoëpriester gedien, en aanvanklik was dit ’n lewenslange aanstelling (Numeri 35:25). Aäron was die eerste persoon om in hierdie amp te dien. Daarna is hierdie voorreg gewoonlik van vader na oudste seun oorgedra (Eksodus 29:9). Baie van Aäron se manlike afstammelinge het as priesters gedien, maar net ’n paar het as hoëpriester gedien.
Toe Israel deur ander nasies oorheers is, het nie-Israelitiese heersers Joodse hoëpriesters aangestel en verwyder net soos hulle wou. Maar dit wil voorkom asof die nuwe hoëpriester byna altyd gekies is uit ’n sekere aantal bevoorregte families, meestal uit Aäron se geslagslyn. Die uitdrukking “hoofpriesters” verwys klaarblyklik na vooraanstaande lede van die priesterdom. Die hoofpriesters het moontlik die hoofde van die 24 afdelings van die priesterdom ingesluit, asook vername lede van hoëpriesterlike families en voormalige hoëpriesters wat uit hulle amp verwyder is, soos Annas.—1 Kronieke 24:1-19; Matteus 2:4; Markus 8:31; Handelinge 4:6.