Nuwe Kringbyeenkomsprogram
1 Die nuwe kringbyeenkomsprogram wat in September begin, sal die tema “Ondervind die groter geluk om te gee” ontwikkel (Hand. 20:35). Geluk word beskryf as “’n toestand van welvaart en tevredenheid”. Vandag gryp die meeste mense na watter vreugde hulle ook al uit die lewe kan kry, en wanneer hulle dit wel kry, is dit dikwels van verbygaande aard. Dít is nie ware geluk nie. Maar Jehovah leer ons hoe om onsself vir ewig te bevoordeel (Jes. 48:17, NW; 1 Joh. 2:17). Die nuwe kringbyeenkomsprogram sal beklemtoon hoe ons groter geluk kan verkry deur in geestelike sin te gee.
2 Ons gaan praktiese maniere leer waarop ons van onsself in die bediening kan gee. Party van die toesprake wat deur die reisende opsieners gehou gaan word se temas is: “Maak vriende deur middel van onregverdige rykdom”, “Respekteer die Goddelike voorsiening van ‘gawes in die vorm van mense’” en “Ondervind die baie fasette van ware geluk”. Diegene wat by die byeenkoms gedoop wil word, moet die presiderende opsiener hiervan in kennis stel sodat hy reëlings kan tref vir die ouer manne om die doopvrae met hulle te bespreek. As hulle Jehovah in ’n rein verhouding dien, sal dit vir die pasgedooptes groot geluk meebring.
3 Behoorlike erkenning van Jehovah se gesag bring ook ware geluk en veiligheid mee. Alle mense moet dit weet. Derhalwe sal die openbare toespraak by die kringbyeenkoms die tema “Verenig jou met God se gelukkige volk” ontwikkel. Maak seker dat jy almal wat belangstelling in die waarheid getoon het, nooi om na hierdie toespraak te kom luister. Hulle het nie ware veiligheid en blywende geluk gevind onder menseheerskappy in hierdie wêreld wat in Satan se mag lê nie (Pred. 8:9). Maar watter vreugde sal hulle tog ondervind as hulle met Jehovah se gelukkige volk omgaan!—Ps. 144:15b, NW.
4 Ondanks verslegtende toestande in hierdie stelsel van dinge sal diegene wat die groter geluk ondervind om geestelik te gee nooit deur die gelukkige God teleurgestel word nie (1 Tim. 1:11). Die nuwe kringbyeenkomsprogram sal toon dat dit waar is. Moet dit nie misloop nie!