Bevoordeel jy jouself?
1 Vandag wil miljoene mense weet hoe hulle probleme die hoof kan bied en ’n gelukkige lewe kan geniet. Hulle verslind selfhelpboeke en wend hulle tot groepe en organisasies vir raad oor hoe hulle hulle lewe kan verbeter. Sommige meld dalk beperkte voordele wat hulle daaruit gekry het. Maar het mense oor die algemeen, te oordeel aan die lewensgehalte van vandag, geleer om ’n vreedsame, diep bevredigende lewe te geniet deur die onderrigtingsprogramme van mense? Dit is beslis nie die geval nie!—1 Kor. 3:18-20.
2 Daarenteen voorsien ons Skepper kosteloos die nuttigste onderrigting aan almal wat wil luister. Jehovah wil hê dat almal by sy onderrigting baat moet vind. Hy het sy geïnspireerde Woord ruimhartig voorsien om die mensdom op die weg van regskapenheid te lei, en hy het toegesien dat die goeie nuus van sy Koninkryk oor die hele aarde verkondig word (Ps. 19:8, 9; Matt. 24:14; 2 Tim. 3:16). ’n Waarlik gelukkige lewe hou direk verband met die aandag wat ons aan Jehovah se gebooie skenk.—Jes. 48:17, 18, NW.
3 Jehovah se leiding is ver verhewe bo enigiets wat die wêreld deur selfhelpboeke of selfverbeteringsprogramme kan voorsien. Ons kan ware hulp en blywende voordele verkry as ons ten volle gebruik maak van Jehovah se voorsienings, soos dit uiteengesit is in sy Woord en geleer word deur sy organisasie.—1 Pet. 3:10-12.
4 Bevoordeel jouself by gemeentelike vergaderinge: Jehovah stel vandag opreg daarin belang om ons sy weë te leer, en ons vind baat daarby as ons aandag skenk aan sy gebooie. Ons vyf weeklikse vergaderinge getuig van Jehovah se liefdevolle sorg. Wanneer ons gemeentelike vergaderinge bywoon, neem ons kennis van God toe. Ons leer hoe om onsself te beskerm teen wat sleg is deur nader aan Jehovah te kom. Dit maak ons gelukkig.
5 Dit is nie al nie. By gemeentelike vergaderinge kan ons “verruim word” (2 Kor. 6:13). Dit behels dat ons ander in die gemeente leer ken. Ons vind baat by ’n uitwisseling van aanmoediging, soos waarvan die apostel Paulus in sy brief aan die Romeine geskryf het (Rom. 1:11, 12). Toe hy aan die Hebreërs geskryf het, het hy diegene streng vermaan wat moontlik besig was om die gewoonte aan te kweek om hulle Christenassosiasie na te laat.—Heb. 10:24, 25.
6 ’n Vreugdevolle, bevredigende lewe hou direk verband met ons belangstelling in die welsyn van ander. Ons word aangemoedig om maniere te soek waarop ons tot ander se geluk kan bydra. Ons Christelike vergaderinge is dus beslis tot ons voordeel en tot voordeel van diegene met wie ons heilsame assosiasie geniet. Wat dit van ons vereis, is ons heelhartige deelname.
7 Die apostel Paulus het ’n soortgelyke punt geopper in sy raad aan Timoteus toe hy geskryf het: “Oefen jou . . . met godvrugtige toegewydheid as jou doel” (1 Tim. 4:7). Ons kan ons afvra: ‘Oefen ek my? Leer ek om myself te bevoordeel deur wat ek by die gemeentelike vergaderinge hoor?’ Ons sal ja kan antwoord as ons aandag skenk aan wat ons by die vergaderinge hoor en probeer toepas wat ons leer. Met oë van geloof moet ons verby die broers kan sien wat die onderrigting gee en Jehovah sien as die Grootse Onderrigter van sy volk.—Jes. 30:20, NW.
8 Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering: Die doel van hierdie twee vergaderinge is om ons te help om bekwaam in die Christelike bediening te wees. Die Teokratiese Bedieningskool is presies dit—’n skool vir studente wat op ’n gereelde grondslag onderrigting en raad ontvang. Jy het die geleentheid om jou vordering as openbare spreker en onderrigter van God se Woord te toon. Maar om die grootste nut uit die skool te trek, moet jy daarby aansluit, dit bywoon, gereeld daaraan deelneem en jou hart en siel in jou toewysings sit. As jy die raad wat gegee word, aanvaar en toepas, sal dit jou help om vordering te maak.
9 Die Diensvergadering leer ons hoe belangrik die Christelike bediening is en wys ons hoe ons kan deelneem aan die werk om dissipels te maak. Vind jy en jou gesin ten volle baat by dit wat by hierdie twee vergaderinge aangebied word? ’n Christenegpaar sê: “By een Diensvergadering het ons gehoor dat ons as ’n gesin die dagteks moet bespreek. Op daardie stadium het ons nie, maar nou doen ons dit.” Hoe het hulle hulleself bevoordeel? Hulle erken: “Ons vind dat ons ons gesprekke aan tafel baie meer geniet. Daar is etenstye nie meer ’n stryery nie.” Vind selfs klein kindertjies by die vergaderinge baat? Ja. Die moeder sê: “Dit is duidelik dat die vergaderinge ’n groot invloed op ons kinders het. Een week het ons ons sesjarige seuntjie betrap dat hy leuens vertel. Maar daardie week by die vergadering het die instruksietoespraak oor leuens gehandel. Met die skuldigste uitdrukking op sy gesig, het ons seun na sy vader gekyk en in sy stoel afgesak. Hy het die punt gesnap, en ons het nie weer probleme gehad nie.”
10 ’n Pioniersuster sê sy is bly dat daar by die Diensvergadering wenke gegee word oor hoe ons ons bediening kan verbeter. Waarom? Sy verduidelik: “Ek raak in ’n groef. Soms dink ek nie dat die wenke in Ons Koninkryksbediening sal werk nie. Maar wanneer ek by die Diensvergadering hoor dat ons dit moet toepas, is ek aangevuur om die wenke te probeer. Dit maak die bediening opwindend!” Nadat sy verskeie weke lank die wenk toegepas het om ’n Bybelstudie tydens die eerste besoek te probeer begin, het sy wel ’n studie tydens die eerste besoek met ’n meisie begin wat gebid het vir hulp.
11 Voel jy dat Jehovah direk met jou praat wanneer jy na ’n toespraak luister wat Bybelraad oor persoonlike keuses bevat? ’n Broer het so gevoel. Hy het gesê: “By ’n onlangse vergadering was daar ’n toespraak waarin ’n broer vorme van vermaak bespreek het wat gepas en nie gepas vir Christene is nie. Ek het daarvan gehou om na boks op televisie te kyk. Maar ná daardie vergadering het ek besluit dat hierdie sport in die kategorie val van vermaak wat nie vir Christene gepas sal wees nie. Daarom kyk ek nie meer daarna nie.” Ja, hoewel hierdie broer ’n liefde ontwikkel het vir iets wat gewelddadig is, het hy nederig op Jehovah se leiding gereageer.—Ps. 11:5.
12 Die Openbare Vergadering, die Wagtoring-studie en die Gemeentelike Boekstudie: Die openbare toesprake wat ons elke week hoor, dek ’n verskeidenheid Bybelonderwerpe. Hoe vind jy by hierdie toesprake baat? Een Christenman het kommentaar gelewer oor die voordele wat hy ontvang het: “Een openbare toespraak het al die vrugte van die gees beklemtoon. Die spreker het gesê dat hy in sy geval een spesifieke eienskap gekies en ’n week lank daaraan gewerk het om hierdie vrugte te probeer aankweek. Aan die einde van die week het hy gekyk in watter mate hy daardie vrug in sy daaglikse bedrywighede aan die dag gelê het. Dan het hy die volgende week aan ’n ander eienskap gewerk. Ek het van die idee gehou en dit self begin doen.” Wat ’n goeie toepassing van wat geleer is!
13 Die Wagtoring-studie leer ons om Bybelbeginsels in verskeie lewensituasies toe te pas. Dit help ons om ’n kalm gemoed en hart te behou ondanks die sorge van die lewe. Die Wagtoring-studie hou ons ook op hoogte van progressiewe waarheid. Byvoorbeeld, het ons nie baat gevind deur die Wagtoring-artikels van 1 Mei 1999 te bestudeer nie? Die titels daarvan was: “Hierdie dinge moet plaasvind”, “Laat die leser onderskeidingsvermoë gebruik” en “Wees waaksaam en wees ywerig!” Hoe het hierdie studies jou persoonlik geraak? Toon jy deur jou optrede dat jy Jesus se waarskuwing oor die toekoms ter harte neem? Berei jy jou voor vir die toetse wat voorlê wanneer ons “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak . . . in ’n heilige plek sien staan”? (Matt. 24:15-22). Openbaar jou doelwitte en lewenswyse dat die heiliging van Jehovah se naam, en nie die opgaar van materiële dinge nie, vir jou van die allergrootste belang is? Leer ons nie by die Wagtoring-studie om nou onsself te bevoordeel nie?
14 Dink net hoeveel ons elke week by die Gemeentelike Boekstudie leer. Tans bestudeer ons die Bybelboek Daniël. Het ons nie in die vier maande wat ons hierdie Bybelboek bestudeer het, gesien hoe ons geloof elke week groei nie? Soos Jehovah se geliefde profeet Daniël versterk ons ons geloof sodat ons kan volhard.
15 Jehovah leer ons om vreugdevolle lewens te geniet: Ons voorkom baie hartseer wanneer ons op God se gebooie ag gee. Daarbenewens ondervind ons waarlik ’n vreugdevolle lewe. As ons Jehovah se leiding volg, word ons deelnemers aan sy werk en nie net toeskouers nie. En diegene wat God se werk doen, is werklik gelukkige mense.—1 Kor. 3:9; Jak. 1:25.
16 Dink aktief aan hoe jy die dinge wat jy by gemeentelike vergaderinge hoor, gaan toepas (Joh. 13:17). Dien God geesdriftig, met jou hele hart. Jy sal oorloop van vreugde. Dit sal jou lewe verryk, sinvoller maak. Ja, jy sal jouself bevoordeel.