Vraebus
◼ Watter inligting moet by velddiensvergaderinge bespreek word?
Die doel van ’n velddiensvergadering is om ons voor te berei vir die bedrywigheid wat gaan volg—die bediening. Die broer wat die leiding neem, moet derhalwe goed voorbereid en gereed wees om iets oor te dra wat aanmoedigend, spesifiek en prakties is. As die dagteks regstreeks met die predikingswerk verband hou, kan dit gelees en kortliks bespreek word. Maar die vergadering moet hoofsaaklik aandag gee aan die werk wat gedoen moet word, en moet almal wat in die getuieniswerk uitgaan, help om beter voorbereid te wees om daardie dag die bediening uit te voer.—2 Tim. 4:5.
Gepaste punte uit Ons Koninkryksbediening kan bespreek word sodat almal bewus is van die huidige aanbod en hoe om dit aan te bied. Op Tydskrifdag kan ’n aanbieding uit “Wat ons oor die tydskrifte kan sê” gedemonstreer word. Vir ander kampanjes kan die aandag gevestig word op een of twee inleidings in die Redenering-boek wat vir die plaaslike gebied gepas is. ’n Aspek van die bediening kan bespreek of gedemonstreer word, soos hoe om die Bybel by die deur te gebruik, hoe om ’n moontlike gesprekdemper te oorkom, hoe om ’n Bybelstudie aan te bied of hoe om belangstelling verder te kweek.
Vergaderinge vir velddiens moenie langer as 10 tot 15 minute duur nie, waartydens daar ook groepe gereël, gebied toegewys en ’n gebed gedoen moet word. Aan die einde van die vergadering moet almal wat teenwoordig is, weet saam met wie en waar hulle gaan werk, en hulle moet onmiddellik na die gebied toe gaan. Omdat die vergadering so kort is, is dit belangrik dat almal betyds daarvoor opdaag. Wanneer ’n velddiensvergadering ná ’n gemeentelike vergadering, soos die Wagtoring-studie, gehou word, moet dit korter wees. Dit is nie nodig om die dagteks te bespreek nie, aangesien almal reeds ’n goeie skriftuurlike bespreking geniet het. Maar dit sou nie gepas wees om die velddiensvergadering te kanselleer of dit met die Wagtoring-studie te kombineer nie.
Bekwame gedoopte broers moet voor die tyd toegewys word om elke velddiensvergadering te hou. As ’n broer nie op ’n sekere dag beskikbaar is om die leiding te neem nie, moet die ouer manne gedoopte susters aanwys wat dit kan doen wanneer dit nodig is. Terwyl die suster bly sit, kan sy ’n groepbespreking begin van die dagteks of van ander punte wat met velddiens verband hou, en sy moet haar opmerkings kort hou. Sy moet ’n hoofbedekking dra.
Velddiensvergaderinge is uitstekende geleenthede waartydens ons aangemoedig en toegerus kan word om aan die bediening deel te neem. Hoe beter voorbereid die broer is wat die leiding neem, hoe meer sal almal daarby baat vind.