Ons geloof beweeg ons om goeie werke te doen
1 Geloof het Noag, Moses en Ragab beweeg om op te tree. Noag het die ark gebou. Moses het die tydelike voordele van die lewe aan Farao se hof agtergelaat. Ragab het die spioene versteek en het toe hulle instruksies gehoorsaam, wat tot die redding van haar huisgesin gelei het (Heb. 11:7, 24-26, 31). Watter goeie werke beweeg ons geloof ons vandag om te doen?
2 Getuieniswerk: Geloof beweeg ons om oor ons wonderlike God en sy voorsienings vir ewige geluk te praat (2 Kor. 4:13). Soms voel ons dalk huiwerig om te getuig. Maar wanneer ons ‘Jehovah voortdurend voor ons stel’, word ons versterk en is ons nie meer so angstig nie (Ps. 16:8). Dan sal ons geloof ons aanspoor om familielede, bure, werksmaats, skoolmaats en ander by elke gepaste geleentheid van die goeie nuus te vertel.—Rom. 1:14-16.
3 Vergaderingbywoning: Gereelde vergaderingbywoning is nog ’n goeie werk wat uit geloof voortspruit. Hoe so? Dit toon ons oortuiging dat Jesus deur middel van God se heilige gees teenwoordig is wanneer ons by Christelike vergaderinge bymekaarkom (Matt. 18:20). Dit openbaar ons begeerte om te “hoor wat die gees vir die gemeentes sê” (Op. 3:6). Ons neem die onderrigting wat ons ontvang, ernstig op omdat ons deur ons oë van geloof sien dat die een wat ons leer, ons Grootse Onderrigter, Jehovah, is.—Jes. 30:20.
4 Ons keuses: As ons vas oortuig is van onsigbare werklikhede, beweeg dit ons om geestelike dinge eerste in ons lewe te stel (Heb. 11:1). Dit beteken dikwels dat ons materiële opofferinge moet maak. ’n Ouer man het byvoorbeeld ’n lonende aanbod van die hand gewys omdat dit sou beteken dat hy nie vergaderinge kon bywoon nie, van sy gesin af sou weg wees en sy pionierbediening moes opgee. Mag ons ook ons volle vertroue stel in die Bybel se versekering dat Jehovah sal sorg vir dié wat ‘aanhou om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek’.—Matt. 6:33.
5 Ander sien beslis die kragtige uitwerking wat geloof op ons lewe het. Trouens, ons geloof is wêreldwyd bekend (Rom. 1:8). Mag ons almal derhalwe deur ons goeie werke toon dat ons geloof lewend is.—Jak. 2:26.