“Gaan na die mier”
“GAAN na die mier, luiaard”, het koning Salomo geskryf, “kyk na sy weë en word wys!” Wat kan ’n luiaard—of trouens enigiemand—by ’n mier leer? Salomo het verder gesê: “Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.”—Spreuke 6:6-8.
Die wyse koning het klaarblyklik van die grasdraers gepraat. In Israel, soos in baie ander plekke, is dit ’n algemene gesig om ’n grasdraer te sien rondskarrel terwyl hy ’n saadjie dra wat amper so groot soos hy is. (Sien links bo.) Hy neem die versamelde kosvoorrade na die ondergrondse bergplek.
Omdat dit ondergronds is, kan die “voorraadskuur” taamlik vogtig raak gedurende die reënseisoen, en die sade sal ontkiem of muf as dit nie versorg word nie. Die miere het dus ekstra werk om te doen. Sodra die son uitkom, neem die werkmiere die sade na die oppervlak om in die buitelug droog te word. (Sien bo.) En voor die son ondergaan, moet die miere al die sade weer indra. Party miere is slim genoeg om die sade se groeipunt af te byt sodra hulle versamel word of wanneer hulle begin ontkiem.
Die miere se werk eindig nie met die voorbereiding van die kos nie. Hulle het boonop die taak om vir die kleintjies te sorg. Eiers moet in stewige bondels gepak word. Larwes van die uitgebroeide eiers moet gevoer word. Papies moet versorg word. Party miere lewer selfs ’n lugversorgingsdiens. Wanneer dit gedurende die dag warm word, dra hulle die papies dieper in hulle nes in. Wanneer dit saans begin afkoel, bring hulle die papies terug boontoe. Dit is baie werk, nie waar nie?
Namate die kolonie uitbrei, moet nuwe kamers gebou word. Die werkmiere gebruik hulle kake om die grond uit te grawe en weg te dra. Hulle doen dit gewoonlik na ’n reënbui wanneer die grond sag is. Boonop vorm hulle die grond in “stene” vir hulle siviele ingenieursprojekte—die bou van die mure en plafonne van hulle ondergrondse tonnels en kamers.
Die miere doen dit alles sonder ’n “aanvoerder, opsigter of heerser”. Wat van die koningin? Sy gee geen bevel nie. Sy lê net eiers en is koningin in die sin dat sy die moeder van die kolonie is. (Sien heelbo.) Selfs sonder ’n toesighouer wat hulle dophou of ’n voorman wat hulle aanjaag, hou die miere onvermoeid aan met werk. Een mier wat dopgehou is, het van sesuur die oggend tot tienuur die aand gewerk!
Kan jy ’n les leer deur op die mier ag te slaan? Werk jy hard en streef jy daarna om jou werk te verbeter, hetsy jy dopgehou word of nie? (Spreuke 22:29). Jy sal mettertyd beloon word al neem jou werkgewer geen kennis daarvan nie. Jy kan ’n skoon gewete en persoonlike bevrediging geniet. Soos Salomo gesê het: “Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet.”—Prediker 5:11.
Dit is nie al wat ons van die mier kan leer nie. Miere werk hard deur instink. Trouens, daar is opgemerk dat party miere blindelings die spoor volg wat ander agtergelaat het. Op die ou end hardloop hulle in die rondte totdat hulle dood neerval.
Voel jy partykeer dat jy in die rondte hardloop, altyd besig en moeg, maar dat jy niks bereik nie? Dan is dit tyd dat jy die doel van jou harde werk ondersoek en die ware sin van jou doelwitte evalueer. Onthou koning Salomo se wyse raad: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense.”—Prediker 12:13.