Watter vermaak sal jy kies?
DIT is een ding om ’n gebalanseerde beskouing van vermaak te hê. Maar om gebalanseerd te wees in ons keuse van vermaak is ’n heel ander saak. Dit is redelik maklik om in te sien dat vermaak ’n regmatige plek in ons lewe beklee, maar baie daarvan is waardeloos en blote tydverkwisting. Daar is egter steeds dinge waaroor ons van dag tot dag moet besluit—en dit is nie altyd maklike besluite nie.
Soos ons gesien het, maak die vermaaklikheidsbedryf dit nie makliker om te besluit nie. Daar is ’n verstommende hoeveelheid om van te kies, maar die Bybel gee al duisende jare lank die nodige leiding aan opregtes van hart. Moderne tegnologie het Bybelbeginsels nie ouderwets gemaak nie; inteendeel, in hierdie moeilike tye is hulle nodiger en nuttiger as ooit tevore. Kom ons kyk dus hoe ons sulke beginsels kan gebruik in verband met die twee gevaargebiede van vermaak—dít wat in vermaak uitgebeeld word en die tyd wat dit in beslag neem.
Wat is die Bybel se riglyne?
’n Jongman pleeg selfmoord, en hulle vind uit dat hy diep betrokke was by heavy metal-rockmusiek wat selfmoord aanmoedig. ’n Veertienjarige meisie slaan haar ma met ’n swaar voorwerp dood, en dit lyk asof sy ook behep was met heavy metal-musiek. ’n Vyftienjarige seun vermoor ’n vrou, en sy advokaat beweer dat hy beïnvloed is deur gruwelrolprente waarin naakte geweld uitgebeeld word. ’n Rolprent wat oor geweld tussen bendes handel, begin draai, en gewelddadige gevegte breek uit tussen jeugbendes, reg daar in die bioskoopsale en tussen dié wat vir die rolprent toustaan.
Dit is duidelik dat dít wat in ons keuse van vermaak uitgebeeld word, ’n invloed op ons het. Party deskundiges sê dalk dat die bogenoemde gevalle uniek is en dat dit niks bewys nie. Maar Bybelbeginsels hou regstreeks verband met die probleem. Neem byvoorbeeld hierdie belangrike woorde: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Kom party vorme van vermaak nie juis daarop neer nie—omgang met mense wat dwaas is, wat nie sedelike beginsels in hulle lewe toepas nie? 1 Korinthiërs 15:33 sê eweneens: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” Hierdie woorde is nie dubbelsinnig nie, dit is nie die woorde van deskundiges wat in ’n hewige argument betrokke is omdat hulle menings en statistieke van mekaar verskil nie. Dit is ’n eenvoudige wet van die menslike natuur. As ons gereeld met sedelik verdorwe mense omgaan, sal dit ons eie sedes bederf.
Sulke beginsels is net so nuttig met betrekking tot die verafgoding van sport-, rolprent-, TV- en musieksterre. Hoewel sterre dikwels geweld of onsedelikheid in hulle vertonings sowel as in hulle persoonlike lewe verheerlik, lyk dit asof hulle bewonderaars—veral die jongmense—hulle steeds verafgod. Die koerant The European het onlangs gesê: “Sosioloë wys daarop dat popsterre in ’n toenemend sekulêre gemeenskap die plek inneem wat godsdiens vroeër in baie jongmense se lewe beklee het.” Maar let op wat Psalm 146:3 sê: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” En Spreuke 3:31 sê: “Wees nie afgunstig op ’n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie.”
Daar is nog ’n sleutelbeginsel: Wanneer Christene besluite neem, moet hulle nie net die invloed wat dit op hulle sal hê in gedagte hou nie, maar ook die invloed wat dit op ander in die Christengemeente sal hê, waaronder dié met ’n sensitiewer gewete (1 Korinthiërs 10:23-33). Die positiewe sy van die saak is dat Bybelbeginsels ons ook help om standaarde te bepaal vir vorme van vermaak waaruit ons met vrymoedigheid kan kies. Die apostel Paulus het die volgende raad gegee: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”—Filippense 4:8.
Hierdie beginsels het deur die eeue heen as ’n riglyn vir God se volk gedien. Christene in eertydse Rome het nie ’n wet nodig gehad wat uitdruklik gesê het dat die gladiatorspele, met al hulle slagting en sadisme, nie gepaste vermaak is nie. Hulle het eenvoudig beginsels soos die bogenoemde toegepas en hulleself, hulle gesinne en hulle gemeentes daardeur beskerm.
Hoe om te kies
Ware Christene doen vandag dieselfde. Wanneer hulle vermaak kies, stel hulle eers ondersoek in om te sien watter sedelike gedrag uitgebeeld word. Hoe? Wel, voordat hulle byvoorbeeld ’n plaat koop, kyk hulle eers na die omslag. Hoe word die musiek geadverteer? Moedig dit verdorwe waardes aan? Haat? Opstandigheid? Woede? Seks en verleidelikheid? Soms is die woorde beskikbaar sodat dit nagegaan kan word. Boekomslae bevat ook dikwels ’n opsomming van die inhoud, en soms is resensies beskikbaar. Wat rolprente betref, is daar ook dikwels resensies in plaaslike koerante en tydskrifte. Party lande het ’n rolprentgraderingstelsel wat as ’n riglyn kan dien. As vandag se verdorwe wêreld sekere vorme van vermaak as te seksueel eksplisiet, onsedelik of gewelddadig beskou, sal dit vanselfsprekend moeilik wees om te glo dat ’n Christen sy standaarde sal verlaag en bereid sal wees om sulke dinge in sy verstand en hart in te neem.
Aan die ander kant het wyse koning Salomo eenkeer gewaarsku: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?” (Prediker 7:16). Dit is baie maklik om selfvoldaan te raak in verband met jou keuse van vermaak. Ons is dalk sterk oortuig van ’n keuse wat ons gemaak het nadat ons Bybelbeginsels sorgvuldig en biddend oorweeg het. Maar ons vind moontlik uit dat ander wat dieselfde beginsels in hulle lewe toepas ietwat anders besluit. Moenie toelaat dat dit jou van jou vreugde ontneem nie. Elkeen van ons moet verantwoordelik wees vir sy eie keuse.—Galasiërs 6:4.
Hoeveel is te veel?
Die wêreld se waardesisteem is verskriklik ongebalanseerd met betrekking tot die voorkeur wat dit aan ontspanning gee. ’n Hoofartikel in die handelsblad Parks & Recreation het ontspanning byvoorbeeld onlangs “die lewensessens” genoem. The New York Times Magazine het eweneens onlangs van Saterdagaand, ’n gewilde tyd vir ontspanning, gesê: “As jy hulle bymekaar tel, sal jy vind dat daar baie meer weeksdae as Saterdagaande in ons lewe is, maar Saterdagaand is dié een wat die lewe die moeite werd maak.” Party sosioloë sê selfs dat die gemeenskap in die wêreld se welvarender lande nou op ontspanning gegrond is en dat godsdiens net nog iets is wat jy in jou vrye tyd doen.
Hierdie verkeerde prioriteite verbaas Christene nie. Die Bybel het lank gelede voorspel dat mense in hierdie kritieke “laaste dae” ‘liefhebbers van hulleself, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God’ sal wees (2 Timotheüs 3:1-4). Maar Bybelbeginsels help ons om ons eie prioriteite reg te kry. Soos Jesus gesê het: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag” (Markus 12:30). God se volk stel hulle liefde vir hom dus eerste in hulle lewe. Hulle beperk nie hulle Christelike bediening tot ledige uurtjies nie; dit is eerder hulle eerste prioriteit. Selfs hulle sekulêre werk ondersteun net daardie belangrike loopbaan.—Mattheüs 6:33.
Wat vermaak betref, moet ’n Christen dus die koste bereken en vasstel hoeveel tyd dit in beslag sal neem in vergelyking met hoeveel tyd dit werd is (Lukas 14:28). As dit sal beteken dat ons enige vermaak najaag ten koste van belangrike dinge, soos ons persoonlike of gesins-Bybelstudie, tyd wat ons saam met medegelowiges deurbring, tyd wat ons in die Christelike bediening of noodsaaklike gesinsverpligtinge kan gebruik, dan is dit nie die moeite werd nie.
Wat jou keuse omtrent jou weerspieël
Die hoeveelheid tyd wat ons aan vermaak afstaan, sal baie omtrent ons prioriteite weerspieël, net soos dít wat in ons keuse van vermaak uitgebeeld word, baie omtrent ons sedes en die opregtheid van ons toewyding sal weerspieël. Ons keuse sal aan mense in die gemeenskap toon watter soort mense ons is en watter beginsels ons voorstaan. Ons keuse sal aan ons vriende, ons familie en ons gemeente toon of ons gebalanseerd of dogmaties, beginselvas of huigelagtig, regverdig of selfvoldaan is.
Laat jou besluite jou en jou gesin se beginsels weerspieël, aangesien jy voor die Skepper staan, wat ons almal se hart en motiewe ondersoek. Hebreërs 4:13 sê: “Daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” Slegs God ken die antwoord op die vraag wat die kern van hierdie onderwerp uitmaak: Sal ons werklik sy beginsels as ’n riglyn in elke aspek van ons lewe gebruik?
[Prent op bladsy 8]
Jou keuse van vermaak weerspieël baie omtrent jou en jou gesin
[Prent op bladsy 9]
Is jy versigtig wanneer dit kom by dinge waarna jy kyk, luister en lees?