Jongmense vra . .
Moet ek by ’n sportspan aansluit?
“WAT is so wonderlik daaraan om deel van ’n span te wees?” het ’n artikel in die tydskrif Seventeen gevra. Die artikel het geantwoord: “Julle werk saam om ’n gemeenskaplike doel te bereik, julle raak dus baie geheg aan mekaar. Julle leer ook om met mense te werk, soos hoe om probleme in ’n groep op te los, hoe om aanpasbaar en bedagsaam te wees en hoe om ’n kompromis aan te gaan.”
Dit lyk dus asof georganiseerde sport sy voordele het, waarvan pret en oefening twee van die vernaamstes is.a Party beweer selfs dat spansport jou help om jou karakter te ontwikkel. Een bofballiga vir jongmense se leuse is dus: “Karakter, Moed, Trou.”
Die probleem is dat georganiseerde sport nie altyd aan sulke hoë ideale beantwoord nie. Die boek Kidsports sê: “In party gevalle leer ontvanklike jongmense om te vloek, te kul, te baklei, te intimideer en ander seer te maak.”
Wen ten alle koste?
’n Artikel in Seventeen het erken: “Sport het ook ’n donker kant, waar mense ontsaglik baie waarde aan oorwinning heg.” Dit is lynreg in stryd met die Bybel se woorde: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie” (Galasiërs 5:26). Hoewel ’n klein dosis vriendelike wedywering, oftewel kompetisie, ’n wedstryd interessanter en genotvoller kan maak, kan ’n oordrewe gees van wedywering vyandigheid veroorsaak—en die genot uit die spel haal.
Jon, ’n voormalige hoërskoolvoetbalspeler, onthou: “Ons het ’n afrigter gehad wat ’n regte maniak was; hy het altyd op ons geskreeu en gegil . . . Ek het vreeslik teen die oefensessies opgesien. . . . Ek het gevoel asof ek in ’n konsentrasiekamp is.” Hoewel nie alle afrigters skeltaal gebruik nie, plaas baie wel te veel klem op oorwinning. Een skrywer het die gevolgtrekking gemaak: “Baie atlete . . . bereik ’n punt waar die genot van die spel vervang word deur ’n ondraaglike las om te wen.” Wat kan die gevolge wees?
Wat voetbal- en basketbalspelers op universiteit betref, het Science News verslag gedoen oor ’n opname wat onthul het dat “12 persent genoem het dat hulle probleme in ten minste twee van vyf areas ondervind het: sielkundige angstigheid, fisiese angstigheid, probleme om dwelmmiddels of alkohol te vermy, verstandelike en fisiese mishandeling en swak akademiese prestasie”. Die boek On the Mark sê iets soortgelyks: “Amper almal wat met georganiseerde atletiek te doen het, stem saam dat daar op alle vlakke van sport ’n ernstige probleem met dwelmmisbruik is.”
Sedelike gevare
Die druk om te wen kan ’n jong speler redelike standaarde van regverdigheid en eerlikheid laat prysgee. Die boek Your Child in Sports sê: “In die hedendaagse sportwêreld is oorwinning nie net ’n goeie ding nie; dit is die enigste ding. Om te verloor is nie net sleg nie, dit is onvergeeflik.”
Nog ’n harde werklikheid: Afrigters oefen dikwels ontsaglike druk op spelers uit om hulle opponente te beseer. ’n Artikel in Psychology Today het gesê: “As jy goed in sport wil wees, moet jy sleg wees. Of dit is ten minste wat baie atlete, afrigters en sportentoesiaste glo.” Een professionele voetbalspeler beskryf homself in die daaglikse lewe as “saggeaard, bedagsaam en vriendelik”. Maar op die sportveld ondergaan hy ’n Jekyll-en-Hyde-verandering. Hy beskryf sy persoonlikheid op die sportveld en sê: “Dan is ek gemeen en haatlik. . . . Ek is so onaangenaam. Ek het absoluut geen respek vir die ou wat ek gaan slaan nie.” Afrigters moedig dikwels so ’n gesindheid aan.
Die Bybel moedig Christene aan: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Kan jy sulke eienskappe aankweek as jy daagliks praatjies hoor wat jou aanmoedig om jou opponente seer te maak, te vermorsel en te vermink? Die 16-jarige Robert erken: “Ek het al aan georganiseerde sport deelgeneem. Solank jy wen, gee jy nie om wie jy seermaak nie.” Noudat hy ’n gedoopte Christen is, het sy beskouing verander. Hy sê: “Ek sal nooit weer daarnatoe teruggaan nie.”
Liggaamlike oefening of liggaamlike besering?
Die fisiese risiko moet ook nie geïgnoreer word nie. Sport hou weliswaar gevare in, selfs wanneer dit met vriende en uitsluitlik vir plesier gespeel word. Maar dit hou baie groter gevaar in wanneer jongmense afgerig word om amper op ’n professionele vlak te presteer.
Die boek Your Child in Sports sê: “Professionele spelers kan beseer word. Maar hulle is baie vaardige, fisies fikse volwassenes wat dit gewilliglik waag om beseer te word en goed betaal word om dit te doen. Verder kry hulle oor die algemeen die beste opleiding, die beste toerusting en mediese sorg uit die boonste rakke. . . . Skoolkinders het nie sulke voordele nie.” Christene word aangesê om hulle “liggame aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is” (Romeine 12:1). Moet jy dan nie goed daaroor nadink voordat jy jou liggaam aan onnodige of onredelike gevare blootstel nie?
Ander faktore om te oorweeg
Selfs wanneer die gesondheidsgevare klein lyk, neem georganiseerde sport steeds baie tyd in beslag. Oefensessies sal miskien nie net jou sosiale lewe baie beperk nie, maar hulle sal miskien ook ’n groot hap uit jou tyd neem wat eerder vir studie en huiswerk opsy gesit moet word. Science News het berig dat atlete op universiteit oor die algemeen “effens laer punte” gehad het as ander studente wat aan buitemuurse aktiwiteite deelgeneem het. Nog belangriker is die feit dat jy kan vind dat spansport dit moeilik maak om na te streef wat die Bybel “die belangriker dinge” noem—geestelike belange (Filippense 1:10). Vra jou af: ‘Sal ek Christelike vergaderinge moet oorslaan of sal dit my deelname aan die predikingswerk beperk as ek by ’n span aansluit?’
Jy moet ook goed nadink oor watter uitwerking dit op jou gaan hê as jy lang ure saam met jongmense en volwassenes deurbring wat nie jou beskouing van sedelikheid, rein spraak of kompetisie deel nie. Die Bybel sê immers: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Beskou byvoorbeeld ’n artikel in The New York Times: “Die kleedkamer . . . is ’n plek waar mans vrouens se liggame in grafiese, seksuele terme beskryf, waar hulle spog oor hulle seksuele ‘prestasies’ en grappies maak oor hoe hulle vroue slaan.” Hoe sal jy geestelik vaar as jy kies om in so ’n omgewing te wees?—Vergelyk Jakobus 3:18.
Neem ’n wyse besluit
Oorweeg jy dit om by ’n sportspan aan te sluit? Dan sal die voorgaande jou miskien help om die koste daarvan te bereken. Neem ander se gewete in ag wanneer jy jou besluit neem (1 Korintiërs 10:24, 29, 32). Geen vaste reël kan natuurlik gemaak word nie, aangesien omstandighede in verskillende wêrelddele verskil. Op sommige plekke is dit miskien selfs verpligtend dat leerlinge aan sport deelneem. Maar praat met jou ouers of ’n ryp Christen daaroor as jy twyfel.
Talle jong Christene het al die moeilike besluit geneem om nie aan spansport deel te neem nie. Dit is glad nie maklik as jy atleties is en sport werklik geniet nie! Druk van onderwysers, afrigters en ouers kan tot die frustrasie bydra. Jong Jimmy erken: “Ek vind dat ek ’n stryd teen myself moet voer om nie te speel nie. My ongelowige pa was ’n baie goeie atleet toe hy op hoërskool was. Soms is dit vir my baie moeilik om nie by ’n span aan te sluit nie.” Die ondersteuning van gelowige ouers en ryp Christene in die gemeente kan jou nogtans baie help om by jou besluit te hou. Jimmy sê: “Ek is dankbaar teenoor my ma. By tye is ek terneergedruk as gevolg van die druk om aan sport deel te neem. Maar sy is altyd daar om my aan my ware doelwitte in die lewe te herinner.”
Spansport leer die spelers miskien om saam te werk en om probleme op te los. Maar daar is baie geleenthede om sulke dinge te leer deur in die Christengemeente te werk. (Vergelyk Efesiërs 4:16.) Spansport kan ook pret wees, maar jy hoef nie deel van ’n span te wees om dit te geniet nie. Sommige sportsoorte kan saam met Christenvriende in die agterplaas of in ’n park in jou omgewing geniet word. Gesinsuitstappies kan verdere geleenthede vir heilsame vermaak voorsien. “Dit is soveel beter om saam met ander van die gemeente te speel”, sê die 16-jarige Greg. “Dit is net vir die lekker, en jy is saam met jou vriende!”
Om net saam met jou vriende te speel, sal waarskynlik nie so opwindend wees soos om deel van ’n wenspan te wees nie. Jy moet egter nooit vergeet nie dat “liggaamlike oefening” op sy beste maar “min voordeel [het]; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles” (1 Timoteus 4:8). Ontwikkel godvrugtige toegewydheid, en jy sal in God se oë waarlik ’n wenner wees!
[Voetnoot]
a Sien “Jongmense vra . . . Spansport—Is dit goed vir my?” in ons nommer van 22 Februarie 1996.
[Lokteks op bladsy 22]
“Ons het ’n afrigter gehad wat ’n regte maniak was; hy het altyd op ons geskreeu en gegil . . . Ek het vreeslik teen die oefensessies opgesien”
[Prent op bladsy 23]
Oorwinning word alte dikwels deur afrigters beklemtoon—selfs al beteken dit dat ander gaan seerkry