Lewens verwoes, lewens verloor
“DWELMS is soos voorhamers”, sê dr. Eric Nestler. Trouens, ’n enkele dosis van hierdie chemiese voorhamers kan dodelik wees. “Crack-kokaïen het mense byvoorbeeld al doodgemaak die eerste keer wat hulle dit gebruik het”, verduidelik die boek Drugs in America.
Die nuwe stroom sintetiese dwelms kan net so gevaarlik wees. “Jongmense wat maklik om die bos gelei word en dwelms by ’n ‘rave’-partytjie koop, het moontlik geen idee watter soort chemiese mengsel hulle brein gaan bombardeer nie”, waarsku die Verenigde Nasies se World Drug Report. Die meeste jongmense verval geleidelik in dwelmverslawing, soos die volgende voorbeelde toelig.
“’n Ontsnapping van die werklikheid”
Pedro,a een van nege kinders, is in ’n rowwe buurt in die stad Córdoba, Spanje, gebore. Sy kinderjare was traumaties as gevolg van sy pa se alkoholisme. Toe Pedro 14 was, het sy neef vir hom dagga gegee. Binne ’n maand was hy daaraan verslaaf.
“Om dwelms te neem, was ’n tydverdryf”, verduidelik Pedro, “’n ontsnapping van die werklikheid, en ’n manier om een van die groep te wees. Toe ek 15 was, het ek begin om LSD en amfetamien saam met dagga te gebruik. LSD was my gunstelingdwelm, en om die geld te kry om dit te koop, het ek ’n kleinskaalse dwelmhandelaar geword. Ek het hoofsaaklik met dagga gesmous. Eenkeer, nadat ek ’n oordosis LSD geneem het, kon ek die hele nag lank nie slaap nie, en ek het gevoel asof ek mal geword het. Die ondervinding het my bang gemaak. Ek het geweet dat ek óf in die tronk sou beland óf sou sterf as ek aanhou om dwelms te gebruik. Maar die drang na dwelms het hierdie vrees verdring. Ek het baie verslaaf aan LSD geword en het al hoe meer van die dwelm nodig gehad om ‘hoog’ te raak. Al was ek bang vir die uitwerking daarvan, kon ek nie ophou nie. Ek het nie geweet hoe om op te hou nie.
“LSD was nie goedkoop nie, en daarom het ek geleer om juwelierswinkels te beroof, handsakke by toeriste te gryp en horlosies en beursies by verbygangers te steel. Toe ek 17 jaar oud was, was ek al ’n gevestigde dwelmsmous in my deel van die stad, en ek het soms aan gewapende roof deelgeneem. My reputasie in ons buurt as ’n gewelddadige misdadiger het my die bynaam el torcido besorg, wat ‘die verdraaide een’ beteken.
“Wanneer ’n mens dwelms saam met alkohol gebruik, verander jou persoonlikheid, dikwels op ’n gewelddadige manier. En die drang na meer dwelms is so sterk dat dit jou gewete heeltemal oorheers. Die lewe word ’n tuimeltreinrit, en jy lewe van die een dwelmsessie na die volgende.”
“Vasgevang in die wêreld van dwelms”
Ana, Pedro se vrou, het in Spanje in ’n goeie gesinsmilieu grootgeword. Toe sy 14 was, het Ana ’n paar seuns van ’n nabygeleë skool ontmoet wat dagga gerook het. Aanvanklik het hulle vreemde gedrag haar gewalg. Maar Rosa, een van Ana se vriendinne, het van een van die seuns gehou. Hy het Rosa oortuig dat dit nie skadelik is om dagga te rook nie en dat sy dit sou geniet. Rosa het dus ’n bietjie dagga gerook en toe die sigaret vir Ana gegee.
“Dit het my lekker laat voel, en binne ’n paar weke het ek elke dag dagga gerook”, sê Ana. “Ná ongeveer ’n maand het ek nie meer so ‘hoog’ geraak op dagga nie, en gevolglik het ek amfetamien begin gebruik asook dagga gerook.
“Dit was nie lank nie of ek en my vriende was heeltemal vasgevang in die wêreld van dwelms. Ons gesprekke het gehandel oor wie die meeste dwelms kon neem sonder enige slegte gevolge en wie die lekkerste gevoel het toe hulle ‘hoog’ geraak het. Ek het my gaandeweg van die normale wêreld afgeskei, en ek het selde skool toe gegaan. Dagga en amfetamien was nie meer genoeg nie, daarom het ek my met ’n soort morfien begin inspuit wat ek by verskillende apteke gekry het. In die somer het ons na opelug-rockkonserte gegaan, waar dit altyd maklik was om dwelms soos LSD te kry.
“Eendag het my ma my gevang terwyl ek dagga gerook het. My ouers het hulle bes gedoen om my te beskerm. Hulle het my van die gevare van dwelms vertel, en hulle het my van hulle liefde en besorgdheid verseker. Maar ek het hulle pogings as ongevraagde inmenging in my lewe beskou. Toe ek 16 was, het ek besluit om die huis te verlaat. Ek het by ’n groep jongmense aangesluit wat deur Spanje getoer het en handgemaakte hangertjies verkoop en dwelms gebruik het. Twee maande later het die polisie my in Málaga gevang.
“Toe die polisie my aan my ouers besorg het, het hulle my met ope arms ontvang, en ek het skaam gevoel oor wat ek gedoen het. My pa het gehuil—iets wat ek hom nog nooit voorheen sien doen het nie. Ek was jammer dat ek hulle seergemaak het, maar die spyt was nie groot genoeg om my van dwelms te laat afsien nie. Ek het aangehou om elke dag dwelms te neem. Wanneer ek nugter was, het ek soms aan die risiko’s gedink—maar nie vir lank nie.”
Van messelaar tot dwelmsmokkelaar
José, ’n vriendelike gesinsman, het vyf jaar lank dagga van Marokko na Spanje gesmokkel. Hoe het hy daarby betrokke geraak? “Terwyl ek as ’n messelaar gewerk het, het ’n werksmaat dwelms begin smokkel”, verduidelik José. “Aangesien ek die geld nodig gehad het, het ek by myself gedink: ‘Waarom doen ek dit nie ook nie?’
“Dit was maklik om dagga in Marokko te koop—soveel as wat ek wou hê. Ek het ’n snelboot gehad wat maklik vir die polisie kon wegjaag. Sodra ek die dwelms in Spanje ingebring het, het ek dit in groot hoeveelhede verkoop, ongeveer 600 kilogram op ’n slag. Ek het net drie of vier klante gehad, en hulle het al die dwelms geneem wat ek aan hulle kon verskaf. Hoewel die polisie bewus was van ons bedrywighede, het die dwelms hulle bestemming bereik. Die smokkelaars het baie beter toerusting as die polisie gehad.
“Dit was vir my maklik om baie geld te maak. Een reis tussen Spanje en Noord-Afrika kon tussen R150 000 en R180 000 inbring. Kort voor lank het ek 30 mans gehad wat vir my gewerk het. Ek is nooit gevang nie omdat ek ’n informant betaal het om vir my te sê wanneer my bedrywighede dopgehou word.
“Soms het ek gedink aan wat al hierdie dwelms dalk aan ander doen, maar ek het myself oortuig dat dagga ’n veilige dwelm is wat niemand doodmaak nie. Omdat ek baie geld gemaak het, het ek nie regtig baie daaraan gedink nie. Ek het nooit self dwelms gebruik nie.”
Jou geld en jou lewe!
Soos hierdie voorbeelde toon, neem dwelms mense se lewe oor. As ’n mens eers verslaaf is, is dit moeilik en traumaties om daarvan bevry te raak. Dit is soos die boek Drugs in America sê: “In die Ou Weste het rowers hulle vuurwapens voor hulle slagoffers se gesig gehou en geëis: ‘Jou geld of jou lewe.’ Onwettige dwelms is erger as die destydse misdadigers. Hulle neem albei.”
Kan enigiets die dwelmgevaar stuit? Die volgende artikel sal party oplossings ondersoek.
[Voetnoot]
a Van die name in hierdie reeks is verander.
[Lokteks op bladsy 8]
“In die Ou Weste het rowers hulle vuurwapens voor hulle slagoffers se gesig gehou en geëis: ‘Jou geld of jou lewe.’ Onwettige dwelms is erger as die destydse misdadigers. HULLE NEEM ALBEI”
[Venster/Prent op bladsy 10]
SAL JOU KIND NEE SÊ VIR DWELMS?
WATTER TIENERS VERKEER IN DIE GROOTSTE GEVAAR?
a. Dié wat wil wys dat hulle onafhanklik is en bereid is om kanse te waag.
b. Dié wat min in akademiese of geestelike doelwitte belangstel.
c. Dié wat dink dat die gemeenskap teen hulle is.
d. Dié wat nie ’n duidelike begrip het van wat reg en verkeerd is nie.
e. Dié wat voel dat hulle ouers hulle nie genoeg ondersteun nie en wie se vriende hulle aanmoedig om dwelms te gebruik. Navorsers het opgemerk dat “dit lyk of die gehalte van die adolessent se verhouding met sy ouers die beste beskermende faktor teen die gebruik van dwelms is”.—Ons kursiveer.
HOE KAN JY JOU KINDERS BESKERM?
a. Deur ’n hegte verhouding en goeie kommunikasie met hulle.
b. Deur ’n duidelike begrip van reg en verkeerd by hulle in te skerp.
c. Deur hulle te help om spesifieke doelwitte te hê.
d. Deur hulle te laat voel dat hulle deel is van ’n liefdevolle gesin en ’n gemeenskap wat omgee.
e. Deur hulle die gevare van dwelmmisbruik te leer. Kinders moet duidelik weet waarom hulle nee moet sê vir dwelms.
[Erkenning]
Bron: Verenigde Nasies se World Drug Report
[Prent op bladsy 9]
Dwelms wat in Gibraltar gekonfiskeer is
[Erkenning]
Met vergunning van Gibraltar-polisie
[Prent op bladsy 10]
Ek het so ’n snelboot gehad, waarmee ek maklik vir die polisie kon wegjaag
[Erkenning]
Met vergunning van Gibraltar-polisie
[Foto-erkenning op bladsy 9]
Godo-Foto