Julle huwelik kan gered word!
Die Bybel is propvol praktiese raad waarby mans en vrouens baat kan vind. Dit is glad nie verbasend nie, want die Een wat die Bybel geïnspireer het, is ook die Insteller van die huweliksreëling.
DIE Bybel skep ’n realistiese beeld van die huwelik. Dit erken dat ’n man en vrou “verdrukking” sal hê, of “pyn en smart”, soos die New English Bible dit stel (1 Korintiërs 7:28). Maar die Bybel sê ook dat die huwelik vreugde, selfs ekstase, kan en behoort te verskaf (Spreuke 5:18, 19, NW). Hierdie twee gedagtes is nie in stryd met mekaar nie. Dit toon net dat ’n egpaar, ondanks ernstige probleme, wel ’n hegte en liefdevolle verhouding kan opbou.
Ontbreek dit in julle huwelik? Het pyn en teleurstelling die intimiteit en vreugde oorskadu wat julle verhouding voorheen gekenmerk het? Selfs as daar jare lank ’n gebrek aan liefde in julle huwelik was, kan julle nuwe lewe in julle huwelik blaas. Jy moet natuurlik realisties wees. Geen onvolmaakte man en vrou kan ’n volmaakte huwelik hê nie. Daar is egter stappe wat jy kan neem om negatiewe neigings teë te werk.
Terwyl jy die materiaal hieronder lees, moet jy die punte probeer identifiseer wat veral op julle huwelik van toepassing is. Moenie op die tekortkominge van jou huweliksmaat konsentreer nie, maar kies eerder ’n paar wenke wat jy kan gebruik, en pas die skriftuurlike raad toe. Jy sal dalk vind dat daar meer hoop vir julle huwelik is as wat jy besef.
Kom ons bespreek eers gesindheid, want jou beskouing van verbondenheid en jou gevoelens teenoor jou huweliksmaat is van die allergrootste belang.
Jou beskouing van verbondenheid
’n Langtermynbeskouing is noodsaaklik as jy jou huwelik wil verbeter. Die huweliksreëling is per slot van rekening deur God ingestel om twee mense onafskeidelik te verbind (Genesis 2:24; Matteus 19:4, 5). Gevolglik is jou verhouding met jou huweliksmaat nie soos ’n werk waaruit jy kan bedank of ’n woonstel waarvan jy ontslae kan raak deur eenvoudig die huurkontrak te verbreek en uit te trek nie. Toe jy getrou het, het jy ’n plegtige belofte afgelê om by jou huweliksmaat te bly, ongeag wat gebeur. ’n Diep gevoel van verbondenheid is in lyn met wat Jesus Christus byna 2 000 jaar gelede gesê het: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:6.
Party sê dalk: ‘Wel, ons is nog bymekaar. Toon dit nie dat ons ’n gevoel van verbondenheid het nie?’ Miskien. Maar soos ons aan die begin van hierdie reeks gesê het, het sommige paartjies wat by mekaar bly ernstige huweliksprobleme en is hulle in ’n liefdelose huwelik vasgevang. Jou doel is om julle huwelik vreugdevol te maak, nie net draaglik nie. Verbondenheid moet nie net lojaliteit teenoor die huweliksreëling weerspieël nie, maar ook teenoor die persoon wat jy plegtig belowe het om lief te hê en te koester.—Efesiërs 5:33.
Die dinge wat jy vir jou huweliksmaat sê, kan toon presies hoe diep jou verbondenheid is. In die middel van ’n argument maak party mans en vrouens byvoorbeeld onbesonne opmerkings, soos “Ek gaan jou los!” of “Ek gaan iemand kry wat my waardeer!” Al word sulke kommentare nie werklik bedoel nie, ondermyn dit verbondenheid deur te kenne te gee dat die deur altyd oop is en dat hy of sy gereed is om daardie deur te gebruik.
As jy die liefde in julle huwelik wil herstel, moet jy sulke dreigemente vermy wanneer julle met mekaar praat. Sal jy op stuk van sake ’n woonstel versier as jy weet dat jy moontlik binnekort gaan uittrek? Hoe kan jy dan van jou huweliksmaat verwag om aan ’n huwelik te werk wat moontlik beëindig gaan word? Neem jou voor dat jy in alle erns sal probeer om oplossings te vind.
Dit is wat een vrou gedoen het nadat sy en haar man deur ’n onstuimige tyd gegaan het. “So min as wat ek soms van hom gehou het, het ek nie daaraan gedink om uit die verhouding uit te kom nie”, sê sy. “Wat ook al fout was, ons sou dit op die een of ander manier regstel. En nou, ná twee uiters stormagtige jare, kan ek eerlikwaar sê dat ons weer baie gelukkig bymekaar is.”
Ja, ’n verbintenis verg spanwerk—nie net dat julle saamwoon nie, maar dat julle met ’n gemeenskaplike doel voor oë saamwerk. Maar jy voel dalk dat dit slegs ’n pligsgevoel is wat julle huwelik op hierdie stadium nog aan die gang hou. Moenie moed opgee as dit die geval is nie. Miskien kan julle weer julle liefde vir mekaar vind. Hoe?
Eer jou huweliksmaat
Die Bybel sê: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees” (Hebreërs 13:4; Romeine 12:10). Vorme van die Griekse woord wat hier met “eerbaar” vertaal is, word op ander plekke in die Bybel met “dierbaar”, “aansien” en “kosbare” vertaal. Wanneer ons groot waarde aan iets heg, doen ons baie moeite om daarvoor te sorg. Miskien het jy dit al in die geval van ’n man gesien wat ’n duur nuwe motor besit. Hy hou sy kosbare motor blink en in ’n goeie toestand. Vir hom is selfs ’n klein skrapie ’n groot ramp! Ander mense is weer net so besorg oor hulle gesondheid. Waarom? Omdat hulle hulle gesondheid op prys stel, en daarom wil hulle dit beskerm.
Jy moet net so besorg oor jou huwelik wees. Die Bybel sê die liefde “hoop alles” (1 Korintiërs 13:7). Moenie voor negatiewe denke swig nie—deur moontlik te sê: “Ons was nooit werklik verlief nie”, “Ons het te jonk getrou” of “Ons het nie geweet wat ons doen nie” en sodoende alle hoop op verbetering afskryf nie—maar hoop eerder dat dinge sal verbeter en span jou in om dit te laat verbeter terwyl jy geduldig op resultate wag. “Ek hoor soveel van my kliënte sê: ‘Ek kan dit nie meer hanteer nie!’” sê ’n huweliksvoorligter. “In plaas van die verhouding te ontleed om te sien watter aspekte daarvan verbeter moet word, is hulle haastig om die hele verhouding af te skryf, insluitende die waardes wat hulle wel in gemeen het, die herinneringe wat hulle met soveel sorg versamel het en enige hoop vir die toekoms.”
Watter herinneringe het jy en jou huweliksmaat versamel? Ondanks die moeilikhede in julle verhouding kan jy tog sekerlik dink aan aangename tye, dinge wat julle bereik het en uitdagings wat julle as ’n span oorkom het. Dink na oor hierdie geleenthede, en toon dat jy jou huwelik en jou huweliksmaat eer deur ’n opregte poging aan te wend om julle verhouding te verbeter. Die Bybel toon dat Jehovah God opreg belangstel in hoe huweliksmaats mekaar behandel. In die profeet Maleagi se dag het Jehovah byvoorbeeld Israelitiese mans berispe wat verraderlik met hulle vrouens gehandel het deur sonder enige grondige rede van hulle te skei (Maleagi 2:13-16). Christene wil hê dat hulle huwelik tot eer van Jehovah God moet strek.
Konflik—Hoe ernstig?
Een van die belangrikste faktore in liefdelose huwelike is blykbaar ’n onvermoë van die man en vrou om konflik te hanteer. Aangesien geen twee mense presies dieselfde is nie, sal daar van tyd tot tyd meningsverskille in alle huwelike wees. Maar paartjies wat gedurigdeur bots, sal dalk vind dat hulle liefde oor die jare afgekoel het. Hulle begin moontlik selfs dink: ‘Ons pas net nie bymekaar nie. Ons baklei alewig!’
Maar die blote feit dat daar konflik bestaan, beteken nie dat ’n huwelik tot mislukking gedoem is nie. Die vraag is: Hoe word konflikte hanteer? In ’n suksesvolle huwelik het die man en vrou geleer om oor hulle probleme te praat sonder dat hulle, soos een dokter dit noem, “intieme vyande” word.
“Die mag van die tong”
Weet jy en jou huweliksmaat hoe om oor julle probleme te gesels? Albei moet bereid wees om dit uit te praat. Dit is waarlik ’n vaardigheid, wat moeilik kan wees om aan te leer. Waarom? Een rede is dat ons almal van tyd tot tyd weens onvolmaaktheid ‘in woord struikel’ (Jakobus 3:2). Verder het party in huise grootgeword waar ’n ouer gereeld aan sy woede uiting gegee het. Van ’n vroeë ouderdom af is hulle as ’t ware geleer om te dink dat onbeheerste uitbarstings en smadende taal normaal is. ’n Seun wat in so ’n omgewing grootgeword het, kan uiteindelik “’n opvlieënde man” word, iemand wat ‘driftig’ is (Spreuke 29:22). ’n Meisie wat so grootgeword het, kan eweneens “’n twisgierige en kwaai vrou” word (Spreuke 21:19, The Bible in Basic English). Dit kan moeilik wees om diepgewortelde denk- en gedragspatrone te verander.a
Om konflik te hanteer, behels dus dat ’n mens nuwe maniere leer om jou gedagtes uit te druk. Dit is nie ’n kleinigheid nie, want ’n Bybelspreuk sê: “Dood en lewe is in die mag van die tong” (Spreuke 18:21). Ja, so eenvoudig soos dit ook al mag klink, die manier waarop jy met jou huweliksmaat praat, kan julle verhouding verwoes of nuwe lewe daaraan gee. “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke”, sê ’n ander Bybelspreuk, “maar die tong van die wyse is genesing.”—Spreuke 12:18.
Al lyk dit of jou maat die een is wat hom die meeste hieraan skuldig maak, moet jy ag gee op wat jy tydens ’n meningsverskil sê. Maak jou woorde seer of genees dit? Wek dit woede op of laat dit woede bedaar? “’n Krenkende woord laat die toorn opkom”, sê die Bybel. Maar “’n sagte antwoord keer die grimmigheid af” (Spreuke 15:1). Krenkende woorde sal die situasie vererger—selfs as dit op ’n kalm manier gesê word.
As iets jou pla, het jy natuurlik die reg om jou daaroor uit te spreek (Genesis 21:9-12). Maar jy moet dit doen sonder om sarkasties, beledigend of verkleinerend te wees. Stel besliste grense vir jouself—neem jou voor dat daar sekere dinge is wat jy nie vir jou huweliksmaat sal sê nie, soos “Ek haat jou” of “Ek wens ons het nooit getrou nie”. En hoewel die Christenapostel Paulus nie spesifiek oor die huwelik gepraat het nie, is dit verstandig om nie betrokke te raak by wat hy “debatte oor woorde” en “heftige redetwiste oor nietighede” genoem het nie (1 Timoteus 6:4, 5).b As jou huweliksmaat hom daaraan skuldig maak, hoef jy hom nie in gelyke munt terug te betaal nie. Streef vrede na sover as wat dit van jou afhang.—Romeine 12:17, 18; Filippense 2:14.
Wanneer gemoedere opvlam, is dit natuurlik moeilik om ’n mens se tong te beheers. “Die tong is ’n vuur”, sê die Bybelskrywer Jakobus. “Geen mens [kan dit] tem nie. Dit is ’n onbedwingbare skadelike ding, vol dodelike gif” (Jakobus 3:6, 8). Wat kan jy dus doen wanneer die woede in jou begin opbou? Hoe kan jy met jou huweliksmaat praat sodat dit die konflik sal laat bedaar en nie sal aanstook nie?
Hoe om plofbare argumente te ontlont
Party het gevind dat dit makliker is om woede te laat bedaar en op onderliggende kwessies te konsentreer as hulle eerder die aandag op hulle gevoelens vestig as op hulle maat se dade. Dit is byvoorbeeld baie beter om te sê: “Ek voel seergemaak deur wat jy gesê het” as om te sê: “Jy het my seergemaak” of “Jy moes nie dit gesê het nie, jy behoort van beter te weet”. Wanneer jy sê hoe jy voel, moet daar natuurlik nie bitterheid en minagting in jou stemtoon wees nie. Jou doel moet wees om die aandag op die probleem te vestig en nie die persoon aan te val nie.—Genesis 27:46–28:1.
Onthou ook altyd dat daar ‘’n tyd is om te swyg en ’n tyd is om te spreek’ (Prediker 3:7). Wanneer twee mense tegelykertyd praat, luister nie een van hulle nie, en niks word bereik nie. Wanneer dit dus jou beurt is om te luister, moet jy “gou wees om te hoor, stadig om te praat”. Dit is ook net so belangrik om “stadig ten opsigte van gramskap” te wees (Jakobus 1:19). Moenie elke ongevoelige woord wat jou huweliksmaat sê letterlik opneem nie; “wees [ook] nie haastig in jou gees om jou te vererg nie” (Prediker 7:9). Probeer eerder die gevoelens agter jou huweliksmaat se woorde verstaan. “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn”, sê die Bybel, “en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien” (Spreuke 19:11, NW). Insig kan ’n man of vrou help om dieper as die oppervlak te sien en die ware oorsaak van ’n meningsverskil te verstaan.
Byvoorbeeld, wanneer ’n vrou kla dat haar man nie tyd saam met haar deurbring nie, gaan dit waarskynlik nie net oor ure en minute nie. Dit het moontlik meer te doen met die feit dat sy afgeskeep of ongewaardeerd voel. Ook wanneer ’n man ontevrede is oor iets wat sy vrou impulsief gekoop het, gaan dit waarskynlik nie net oor rande en sente nie. Moontlik het dit meer te doen met die feit dat hy voel hy uit die besluitnemingsproses gelaat is. Die man of vrou wat insig het, sal dieper as net die oppervlak kyk en sal tot die kern van die probleem deurdring.—Spreuke 16:23.
Is dit makliker gesê as gedaan? Beslis! Soms gaan julle, ondanks julle beste pogings, onvriendelike opmerkings maak en gaan julle humeure opvlam. Wanneer julle sien dat dit begin gebeur, sal julle dalk die raad in Spreuke 17:14 (NW) moet volg: “Gaan . . . weg voordat die rusie uitgebreek het.” Daar is niks mee verkeerd om die bespreking uit te stel totdat julle gevoelens bedaar het nie. As dit moeilik is om te praat sonder dat dinge handuit ruk, sal dit dalk verstandig wees om ’n volwasse vriend te vra om saam met julle twee te sit en julle te help om julle verskille uit te stryk.c
Behou ’n realistiese uitkyk
Moenie mismoedig wees as jou huwelik nie is soos wat jy dit tydens julle hofmakery voorgestel het nie. Een span deskundiges sê: “Vir die meeste mense bring die huwelik eenvoudig net nie oneindige geluk nie. Soms is dit wonderlik en soms is dit baie moeilik.”
Ja, die huwelik is miskien nie ’n storieboekromanse nie, maar dit hoef ook nie ’n tragedie te wees nie. Hoewel daar tye sal wees wanneer jy en jou huweliksmaat mekaar eenvoudig sal moet verdra, sal daar ook geleenthede wees wanneer julle julle verskille ter syde sal kan stel en eenvoudig mekaar se geselskap kan geniet, pret kan hê en as vriende met mekaar kan gesels (Efesiërs 4:2; Kolossense 3:13). Dit is die tye wanneer julle moontlik die liefde wat verflou het weer sal kan aanwakker.
Onthou, twee onvolmaakte mense kan nie ’n volmaakte huwelik hê nie. Maar hulle kan ’n mate van geluk vind. Trouens, die verhouding tussen jou en jou huweliksmaat kan ’n bron van baie groot bevrediging wees, al is daar probleme. Een ding is seker: As jy sowel as jou huweliksmaat moeite doen, bereid is om aanpasbaar te wees en die voordeel van die ander persoon soek, is daar goeie rede om te glo dat julle huwelik gered kan word.—1 Korintiërs 10:24.
[Voetnote]
a Ouerlike invloed verskoon nie die gebruik van skeltaal teenoor ’n mens se huweliksmaat nie. Maar dit kan help om te verduidelik hoe so ’n neiging diepgewortel en moeilik oorkombaar kan word.
b Die oorspronklike Griekse woord wat met “heftige redetwiste oor nietighede” vertaal is, kan ook met “wedersydse irritasies” vertaal word.
c Jehovah se Getuies kan gemeentelike ouer manne om hulp vra. Hoewel hulle hulle nie met die persoonlike sake van getroude paartjies moet bemoei nie, kan die ouer manne verkwikkende hulp aan paartjies met probleme verleen.—Jakobus 5:14, 15.
[Lokteks op bladsy 12]
Maak jou woorde seer of genees dit?
[Venster/Prente op bladsy 10]
GOOI DIE BAL SAGGIES
Die Bybel sê: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee” (Kolossense 4:6). Dit is beslis op die huwelik van toepassing! Ter toeligting: In ’n balspel gooi jy die bal sodat dit maklik gevang kan word. Jy gooi dit nie so hard dat jy jou spanmaat seermaak nie. Jy moet dieselfde beginsel toepas wanneer jy met jou huweliksmaat praat. As jy bitsige opmerkings rondslinger, gaan dit net skade doen. Praat eerder op ’n saggeaarde, aangename manier sodat jou huweliksmaat jou punt kan snap.
[Venster/Prent op bladsy 11]
GESELS OOR DIE VERLEDE!
Lees ou briewe en kaartjies. Kyk na foto’s. Vra jou af: ‘Wat het my tot my huweliksmaat aangetrokke laat voel? Watter eienskappe het ek die meeste van my huweliksmaat bewonder? Watter dinge het ons saam gedoen? Wat het ons laat lag?’ Gesels dan oor hierdie herinneringe met jou huweliksmaat. ’n Gesprek wat met die woorde “Onthou jy die tyd . . . ?” begin, kan jou en jou huweliksmaat help om weer die gevoelens te laat bloei wat julle vroeër vir mekaar gehad het.
[Venster op bladsy 12]
NUWE HUWELIKSMAAT, DIESELFDE PROBLEME
Party persone wat voel dat hulle in ’n liefdelose huwelik vasgevang is, kom in die versoeking om weer oor te begin met ’n nuwe maat. Maar die Bybel veroordeel egbreuk en sê dat iemand wat hom aan hierdie sonde skuldig maak ‘nie ’n verstandige hart het nie [“’n verstandelose dwaas is”, New English Bible]’ en ‘sy eie siel in die verderf stort’ (Spreuke 6:32, NW). Uiteindelik verloor die onberouvolle egbreker God se guns—die ergste soort verderf moontlik.—Hebreërs 13:4.
Die volslae dwaasheid van ’n owerspelige weg word ook op ander maniere getoon. Om maar een ding te noem, die egbreker wat met iemand anders trou, sal waarskynlik voor dieselfde probleme as in sy eerste huwelik te staan kom. Dr. Diane Medved meld nog ’n faktor wat ’n mens in ag moet neem: “Die eerste ding wat jou nuwe maat omtrent jou geleer het”, sê sy, “is dat jy bereid is om ontrou te wees. Hy of sy weet dat jy die een aan wie jy trou gesweer het, kan bedrieg. Dat jy mooi verskonings kan maak. Dat jy beweeg kan word om ’n verbintenis te verbreek. Dat sinsgenot en egobevrediging lokaas is wat jou sal aantrek. . . . Hoe weet huweliksmaat nommer twee dat jy nie weer weggelok sal word nie?”
[Venster/Prent op bladsy 14]
WYSHEID UIT BYBELSPREUKE
• Spreuke 10:19: “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.”
Wanneer jy ontsteld is, sê jy dalk meer as wat jy bedoel om te sê—en later is jy spyt daaroor.
• Spreuke 15:18: “’n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.”
Snedige beskuldigings sal jou maat waarskynlik verdedigend laat optree, maar as julle geduldig luister, sal dit julle albei help om ’n oplossing te soek.
• Spreuke 17:27: “Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ’n man van verstand.”
Wanneer jy voel dat jy gaan kwaad word, is dit raadsaam om stil te bly sodat ’n heftige konfrontasie vermy kan word.
• Spreuke 29:11, NW: “’n Sot laat al sy gees uit, maar hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm.”
Selfbeheersing is noodsaaklik. ’n Onbeheerste uitbarsting van kwetsende woorde sal net jou maat van jou vervreem.